Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Projeksies vul kamermusiek-konsert goed aan

Dié uitvoering het meer as ’n gewone kamermusiekkonsert gebied. Saam met die speel van elk van die nege werke is ’n video-opname geprojekteer van die kunstenaar David Griessel, wat illustratiewe sketse maak.

Grethe Nöthling (links) en Danré Strydom.

Of Griessel se uitbeeldings die musiek weerspieël, is moeilik om te sê. Buiten vir een of twee werke kon die uwe nie ’n verband trek nie, maar dit is nie belangrik nie. Die titels van die sketse is dieselfde as die ooreenstemmende musiekstukke en dit is genoeg om die kopers aan die besonderse geleentheid te herinner. Ná die konsert is die oorspronklike sketse in die Odeion se portaal uitgestal en binne minute uitverkoop.

Danré Strydom (klarinet) en Grethe Nöthling (klavier) het ’n program van Suid-Afrikaanse werke uitgevoer wat sorgvuldig gekies is omdat dit ook op hul eerste CD sal verskyn.

Twee ligter werke het die program ingelui, Jazz Sonatina deur Alexander Johnson, ’n professor in komposisie aan die Universiteit van Pretoria, en Game 1 for Lîla vir solo-klarinet deur die ontslape pianis-komponis Surendran Reddy.

Albei bied aangename luistergenot terwyl Strydom se mooi klank in die Reddy-werk opgeval het. Sy het dit ook met ’n tikkie kinderlikheid vertolk om Reddy se emosies oor te dra oor sy dogter wat op vier jaar oud ’n liedjie gekomponeer het.

Nog ’n aanvallige werk is Niel van der Watt se Rietery, ’n titel wat dui op die wonderlike musiek wat met die klein stukkie bamboesriet in die mondstuk van die klarinet en saxofoon opgetower kan word.

Die dialoog tussen die klarinet en klavier in Isak Roux se Kleine Chronik het weer die goeie rapport tussen Nöthling en Strydom belig. In Julie vanjaar het hulle die program in België uitgevoer, en in vorige duo-optredes was dit ook duidelik dat hulle mekaar besonder goed aanvoel.

Apogee van Matthijs van Dijk en Three Pieces for Clarinet and Piano van Noel Stockton is nog twee toeganklike werke. Die wiegeliedjie (tweede beweging van die Stockton-werk) en die rustigheid in Apogee het die luisteraar meegesleur.

Albei musici het die ritmiese strikvalle in die program sonder moeite gehanteer en die luisteraar uiteindelik met voldaanheid gelaat.

Strydom en Nöthling is uitstekende musici wat beslis nie ’n toevoeging soos die kunsprojeksies nodig het om die aandag van hulle af te lei nie. Die video het egter groot byval by die gehoor gevind het en was ’n blink gedagte om van ’n kamermusiekkonsert ’n spesiale geleentheid te maak.

Meer oor:  Musiek  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.