Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Vertonings oor wanbestuur 12 uur lank gehou

Kunstenaars uit elke sektor in die kunstebedryf het Woensdag 12 uur aaneenlopend opwipvertonings in die Nasionale Kunsteraad se kantore in Newtown, Johannesburg, aangebied.

Kunstenaars buite die Nasionale Kunsteraad se kantore in Newtown. Foto: Facebook

Dié vertonings is nie net uit protes teen die kunsteraad se wanbestuur van R300 miljoen se noodfinansiering gehou nie, dis ook gehou om solidariteit te betoon met ’n handvol sitstakers wat sedert 3 Maart ononderbroke teen die kwessie betoog.

Die opwipvertonings is boonop Woensdag aangebied omdat die kunsteraad se topbestuur en sy direksie voorheen belowe het dat die R300 miljoen – wat in Desember reeds in kunstenaars se sakke moes gewees het – teen Woensdag uitbetaal sal word.

Die kunsteraad het egter teen Dinsdag nog net ’n raps meer as R84,6 miljoen betaal aan 639 van die 1 374 begunstigdes aan wie die geld verskuldig is.

Die operasangeres Sibongile Mngoma, wat ’n sitstaking op 1 Maart in die kunsteraad te kantore op haar eentjie begin het, dit tydelik onderbreek het en op 3 Maart hervat het, het in ’n regstreekse uitsending op haar Facebook-blad gesê dit is duidelik dat die kunsteraad nie kunstenaars in die land ernstig opneem nie.

“Ons gaan hulle wys wie ons is, ons is kunstenaars, want hulle neem ons nie ernstig op nie. Ons het hierdie plek in ’n ordentlike spilpunt omskep – ons het selfs ’n venue (vir die opwipvertonings) op die dak!”

Mngoma, wat teen Woensdag reeds 28 nagte onder ’n tafel in die kunsteraad se raadsaal deurgebring het, het in die uitsending deur die kunsteraad se kantore gestap om te wys hoe die protesterende kunstenaars ’n stoorplek vir toerusting en ’n plek vir hare en grimering (vir die opwipvertonings) ingerig het.

Sy het voorheen gesê sy sal nie die kunsteraad se kantore verlaat totdat die beloofde geld aan al die begunstigdes betaal is nie, al beteken dit sy moet 700 dae daar bly.

Die kunsteraad beplan om weer Donderdag ’n openbare Zoom-vergadering te hou om oor sy vordering met die uitbetaling van die noodfinansiering verslag te doen.

’n Plakkaat wat die 12 uur lange opwipvertonings buite die Nasionale Kunsteraad se kantore adverteer. Foto: Facebook

Netwerk24 het reeds breedvoerig berig dat die kunsteraad die R300 miljoen as deel van die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang het. Kunstenaars is genooi om aansoek te doen om dié finansiering en 1 374 aansoeke is uiteindelik goedgekeur.

Kontrakte is met 613 van dié begunstigdes gesluit voordat die kunsteraad besef het dat hy weens ’n “wiskundige fout” te veel geld aan dié begunstigdes toegeken het – en dat daar eintlik nie ’n sent vir die oorblywende 761 begunstigdes oor is nie.

Die kunsteraad se direksie het toe besluit om bloot dié kontrakte te wysig in ’n poging om te verseker dat al die begunstigdes ten minste iets kry, al sou dit beteken dat sommige van die begunstigdes tot 70% minder kry as die bedrag wat aanvanklik vir hulle goedgekeur is.

Dié tameletjie het nie net die uitbetalingsproses vertraag nie, dit het kunstenaars in die land woedend gemaak. Dit het ook tot die sitstaking aanleiding gegee.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het Maandag op ’n mediakonferensie in Pretoria amptelik verskoning gevra en verantwoordelikheid vir die dilemma aanvaar.

“Ek wil ’n onvoorwaardelike en vaste belofte maak dat diegene wat vir hierdie growwe nalatigheid verantwoordelik is, aan die pen sal ry,” het hy gesê.

Hy het gesê ’n forensiese oudit sal gedoen word om die saak van hoek tot kant te ondersoek.

Rosemary Mangope, die kunsteraad se hoof, en Clifton Changfoot, hul finanshoof, sal hangende dié ondersoek geskors bly.

Meer oor:  Rosemary Mangope  |  Clifton Changfoot  |  Sibongile Mngoma  |  Nathi Mthethwa  |  Pesp  |  Zoom  |  Nasionale Kunsteraad  |  Nac  |  Flieks  |  Musiek  |  Kunste  |  Dans  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.