Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Rabie, Langenhoven inspireer uitstalling oor kraters, hemelruim

Die mens se eeue oue bekoring deur die hemelruim en hemelliggame se invloed op aarde, wat op sy beurt dié bekoring aanvuur, is onder die soeklig in ’n multimedia-uitstalling wat tans in die Pretoria-kunsmuseum besigtig kan word.

’n Foto van ’n paar hande bo ’n skaalmodel van die Tswaing-krater in Soshanguve, noord van Pretoria, maak deel van die ‘The Hole’-uitstalling uit. Foto: Tommaso Fiscaletti / Nic Grobler

The Hole bestaan uit foto’s, video’s, installasies van voorwerpe uit die natuur, teks en klank, en dit fokus spesifiek op die mensdom se wisselwerking met mensgemaakte gate in Gauteng, soos myne, asook natuurlike gate, soos kraters, wat in dié provinsie deur hemelliggame veroorsaak is.

Die uitstalling is saamgestel uit ’n argief bekend as Hemelliggaam or The Attempt To Be Here Now, wat oor die afgelope vyf jaar deur die Italiaanse visuele kunstenaar Tommaso Fiscaletti en die Suid-Afrikaanse visuele kunstenaar Nic Grobler met onder meer foto’s, video’s, kuns en dokumente aangevul is.

Fiscaletti, wat sedert 2013 in Kaapstad woon, sê die uitgangspunt van dié argief is die mensdom se “poging” om nou, in hierdie tyd en op hierdie plek, die wêreld om hulle te verstaan – en wat presies die verbintenis tussen hemelliggame, die mens en die aarde is.

“Dit (die argief) het eintlik alles met ’n lang gesprek tussen my en Nic begin; ons albei stel in eksistensiële onderwerpe en ontdekkingsreise belang,” sê hy.

Nic Grobler (links) en Tommaso Fiscaletti. Foto: Verskaf

Dié aanvanklike gesprekke is aangespoor deur ’n versameling Afrikaanse wetenskapsfiksieromans, onder meer Jan Rabie se Swart ster oor die Karoo (1957), Die groen planeet (1961) en Die Hemelblom (1971), wat Grobler versamel.

“Toe ek en Nic moontlike projekte bespreek het, was ons albei tot die wisselwerking tussen die werklikheid, wetenskaplike perspektiewe daarop en verbeeldingreise in wetenskapsfiksie aangetrokke.

“Nic versamel ou Afrikaanse wetenskapsfiksieboeke, ’n paar uit Rabie se pen, wie se wetenskapsfiksieromans afspeel op plekke wat ons self wou verken, soos die Karoo en die Cederberge in die Wes-Kaap.

“Só het Rabie, ook (die skrywer CJ) Langenhoven, al ons foto’s en video’s geïnspireer, en ons aangespoor om verby die werklike te kyk: In van ons visuele inhoud herinner ons die kyker om ook onsigbare fiksie-elemente in gedagte te hou, hoewel hulle dit nie (in die werklikheid) kan sien nie.”

Fiscaletti en Grobler het oor die afgelope paar jaar omgewings en gebiede in die wetenskapsfiksieromans op hul eie reise deur die land gaan naspoor. Kuipstoppe op die reis sluit onder meer die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap (Sansa) in Hermanus, die Knersvlakte in die Noord-Kaap, die Suid-Afrikaanse Groot Teleskoop (Salt) en planetarium in Sutherland, en die Suid-Afrikaanse Sterrewag (SAAO) in Observatory in.

“Heelparty boeke het ons eintlik nogal geïnspireer, en om na sekere tonele te gaan soek, was ’n kristalhelder manier om met sommige onderwerpe in die boeke in wisselwerking te tree,” sê Grobler.

“Daar is ’n dieper verbintenis met Rabie en Langenhoven. Baie van die boeke hou op ’n manier ’n spieël voor die mensdom en laat ons toe om ons lewens op ’n eksistensiële manier in oënskou te neem, veral as die spieël in die buitenste ruim is.”

Daar is ’n dieper verbintenis met Rabie en Langenhoven. Baie van die boeke hou op ’n manier ’n spieël voor die mensdom en laat ons toe om ons lewens op ’n eksistensiële manier in oënskou te neem, veral as die spieël in die buitenste ruim is.

Fiscaletti sê hulle het aanvanklik beplan om vir ewig tot die argief by te dra, maar hulle het gou besef tyd is ’n “ingewikkelde element” wat hulle sal dwing om die ganse projek op ’n tydstip in die toekoms finaal te volbring.

Hy en Grobler hoop om tot dan steeds versamelings uit die argief oor die hele land ten toon te stel, soos wat hulle nou met The Hole doen.

“Dit is die grootste uitstalling van werk uit Hemelliggaam or The Attempt To Be Here Now wat ons tot nog toe gedoen het,” sê hy.

“Die titel The Hole verwys na die belangrike verbintenis van Gauteng met sy grond en diep gate, soos myne en kraters. Op ’n manier is om na die hemelruim te kyk soortgelyk aan om na die grond te kyk – iets wat ons besef het terwyl ons Gauteng verken en navorsing daar gedoen het.

“Die grond is eintlik deur die hemel geskape (hemelliggame wat, byvoorbeeld, op die grond neergestort het) – dit is ’n breinbarstende konsep.”

  • Hemelliggaam or The Attempt To Be Here Now – The Hole kan nog tot 25 April in die Pretoria-kunsmuseum, op die hoek van Francis Baard- en Wesselsstraat in Arcadia, besigtig word. Die museum is tans van Dinsdae tot Vrydae, 10:00 tot 16:00, en op Saterdae van 10:00 tot 14:00 oop. Toegang tot die museum kos R25 vir volwassenes, R12 vir pensioentrekkers en studente, en R7 vir leerlinge. Besoek www.hemelliggaam.com/exhibitions/pretoria vir meer inligting oor die uitstalling of die res van die projek.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.