Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
KYK: Kunstenaars betoog, Ramaphosa wil glo vergader

Pres. Cyril Ramaphosa beplan om so gou moontlik met die mense uit die kuns- en kultuurwêreld te vergader, het ’n amptenaar in die presidensie glo Woensdag aan ’n groep betogende kunstenaars in Pretoria gesê.

Hy het besluit om met hulle te praat nadat kunstenaars Woensdag landwyd aan die optog We March as One 4 the Arts deelgeneem het om hul ontevredenheid te wys oor onder meer Covid-19-maatreëls en ander kwessies wat die kunstebedryf versmoor.

Netwerk24 het berig dié kwessies, wat in ’n griefskrif vervat is, sluit onder meer in korrupsie, die wanbestuur van finansiering, die aanstel van politici in die departement sport, kuns en kultuur wat geen ervaring of kwalifikasies in die kunste het nie, buitelandse inhoud wat voorrang geniet bo plaaslike inhoud, probleme met kopiereg en die invordering van tantième, en die regulering van die bedryf.

Vincent Ngcobondwane het Woensdag dié griefskrif namens Ramaphosa by die Uniegebou ontvang en gesê hy sal dit onder die president se aandag bring.

Romeo Ramuada, president van die Suid-Afrikaanse Kunste- en Kultuur-jeugforum (SAACYF), een van 20 organisasies, verenigings en vakbonde wat aan die optog deelgeneem het, sê hy is tevrede met hoe die optog in Pretoria afgeloop het, hoewel net sowat 60 kunstenaars opgedaag het.

“Ons weet nou ons griewe gaan die president bereik én dat hy bereid is om met ons te vergader,” het hy aan Netwerk24 gesê.

“Ons wil ook die polisie bedank vir hul ondersteuning. Hulle was nie daar om ons te teister nie, maar om ons te help – ook die Uniegebou se personeel het ons goed ontvang.”

Daar is geen vinnige oplossings nie – selfs al kan kunste-venues weer 70% vol wees, waarvoor ons nou vra. Dit gaan ’n tydjie neem om weer op die been te kom – en dít is hoekom ons die president nou om hulp nader, nie net om die bedryf oop te stel nie, maar om dit onder sy vlerk te neem.
Vicky Sampson

Ramuada sê hy hou duimvas dat Ramaphosa Woensdagaand vlak 1-inperkings gaan aankondig, maar dat dit niks sal beteken as kunste-venues steeds net 50% vol mag wees nie.

“Ons dring aan op 70%,” sê hy. “Kyk na taxistaanplekke, mense in gimnasiums – dit is vol! Hoekom kan kunste-venues nie ook so vol wees nie? Die beperkings het ’n enorme impak op die bedryf – en die president moet iets daaraan doen.”

Sibongile Mngoma, stigter van die burgerlike beweging Im4theArts, stem saam.

“Ons is nie onverantwoordelik nie – ons vra net dat die president die bedryf oopstel,” sê Mngoma, wat saam met sowat 30 kunstenaars van Pacofs na die premierskantoor in Bloemfontein opgeruk het.

“Ek sou ook graag by die president wil hoor watter ondersteuning hy die bedryf bied om weer te heropen. Dit kos geld om Covid-19-maatreëls na te kom. Met hul klein begrotings kan teaters dit skaars bekostig. Gaan die regering ’n ekstra begroting bekend stel sodat ons Covid-19-maatreëls kan instel?

“Niemand het vir die pandemie gevra nie – so die regering moet ons nou bystaan.”

Die sangeres Vicky Sampson (regs) het in Kaapstad voor die parlement aan die optog We March as One 4 the Arts deelgeneem. Foto: Jaco Marais
Nog betogers buite die parlement in Kaapstad. Foto: Susan Danford

Die sangeres Vicky Sampson, tans die tussentydse voorsitter van die Vakbond vir Suid-Afrikaanse Musikante (Tumsa), was een van die eerste van sowat 40 mense wat gemasker en met plakkate in die hand voor die parlement in Kaapstad betoog het.

“Daar was ’n positiewe gevoel by die betoging, ondanks dít wat ons tans in die kunste ervaar,” sê sy.

“Dit was wonderlik om mense toe te spreek, om ons stemme oor kwessies in die kunste te laat hoor, veral omdat ons weens Covid-19-maatreëls lanklaas bymekaar kon kom.”

Ook Sampson hoop vlak 1-inperkings lê voor, maar sê die pandemie se impak op die kunstebedryf sal nie vinnig uitgewis kan word nie.

“Ons was die eerste bedryf wat kwaai onder die strawwe staat van inperking deurgeloop het – en ons sal die laaste sektor wees wat weer (deur die regering) ingesluit word.

“Daar is geen vinnige oplossings nie – selfs al kan kunste-venues weer 70% vol wees, waarvoor ons nou vra. Dit gaan ’n tydjie neem om weer op die been te kom – en dít is hoekom ons die president nou om hulp nader, nie net om die bedryf oop te stel nie, maar om dit onder sy vlerk te neem.

“Dit gaan harde werk verg om strukture in plek te sit sodat die bedryf vorentoe kan beweeg. Die strukture wat in plek is om ons te dien, soos die departement van sport, kuns en kultuur, het ons in die steek gelaat en tree nie genoeg met die sektor in gesprek nie. Die deure wat dekades reeds toe is, moet oopgeswaai word om ons toe te laat om in die toekoms meer beheer oor die kreatiewe ekonomie te hê.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.