Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Reuse-marionet van Kaapse geselskap ‘stap’ 8 000 km
Little Amal, die Handspring-marionettegeselskap se marionet van ’n vlugtelingkind. Sy gaan volgende jaar 8 000 km aflê. Foto: Bevan Roos

Die veelbekroonde Kaapse Handspring-marionettegeselskap is betrokke by ’n internasionale massakunsgebeurtenis wat die nood van vlugtelingkinders en die impak van die Covid-19-pandemie op vlugtelinge op die voorgrond plaas.

Die skeppers, bekend om hul perd-marionette vir die produksie War Horse en hul werk saam met William Kentridge, het ’n marionet van meer as 3 m hoog geskep van ’n ware vlugtelingkind.

Haar naam is Little Amal en dié negejarige meisie gaan meer as 8 000 km van Sirië na Brittanje “stap”.

“Dit is seker een van die opwindendste uitdagings wat ons nog ontvang het, om ’n reusemarionet te maak van ’n klein vlugtelingmeisie wat probeer om haar ma te vind. Haar soektog lei haar oor duisende kilometer na Turkye, Griekeland, Italië, Frankryk, Duitsland, België en Brittanje,” sê Basil Jones van die Handspring-marionettegeselskap.

Adrian Kohler en Basil Jones van die Handspring-marionettegeselskap. Foto: Daniela Karallis

“Dit is teater in die buitelug, epies en optimisties, die perfekte antwoord op die Covid-19-pandemie. Die goedgunstigheid en empatie wat sy vir vlugtelingkinders sal ontlok, is moontlik enorm.”

Amal is gegrond op ’n regte kind, van The Jungle, die bekende vlugtelingekamp naby Calais in Frankryk waar 10 000 migrante woon.

“Die twee jong mans, Joe Murphy en Joe Robertson, het die kamp besoek en besluit om ’n toneelstuk te maak oor die mense wat daar woon. Die regte Amal was in die toneelstuk The Jungle .” Die stuk was so suksesvol dat speelvlakke in die Young Vic in Londen en St. Ann’s Warehouse in New York gevolg het.

Murphy en Robertson werk vir die maatskappy Good Chance en dit was Good Chance se David Lan, ook werksaam as die artistieke direkteur van die Londense Young Vic-teater, wat Handspring opdrag gegee het om die marionet te skep.

Lan is ’n oud-Kapenaar.

“Ons kon nie weier nie, David is so ’n ikoon in die Britse teater.”

Die marionet sal beheer word deur drie of vier hanteerders. Een is binne op stelte, een by elke arm en ’n vierde hou ’n stok in haar rug as sy onewe terrein betree.

Twaalf hanteerders van Brittanje, Spanje, Suid-Afrika, Ethiopië, Duitsland en Libanon neem deel.

Hulle word gelei deur Craig Leo van Kaapstad en Enrico D. Wey van Madrid. Albei het aan War Horse gewerk.

Die hele span kom in Februarie 2021 in Londen byeen waar hulle gaan repeteer. Dan vertrek hulle na Gaziantep, Turkye, waar die staptog op 30 Maart begin.

Dit eindig op 4 Julie by die internasionale Manchesterfees .

Jones dink ook dit is ’n perfekte manier om marionetteteater gewild te maak. In baie van die plekke waar sy aandoen “skep en maak kinders reeds marionette om haar te verwelkom”. Amal gaan ook aan straatparades en ander bedrywighede deelneem.

Waar Joey, die perde-marionet van War Horse nou in die Victoria & Albert Museum in Londen te sien is, hoop Jones dat “klein Amal aktief in die wêreld sal bly om namens kinders te praat wat weens droogte of oorlog hul vaderland moes verlaat”.

Die teater- en rolprentregisseur Stephen Daldry, een van die vervaardigers, noem The Walk in ’n BBC-artikel “dalk die mees ambisieuse openbare kunsprojek wat nog aangepak is”.

Hy noem dit ’n reisende fees van “kuns en hoop”.

Meer oor:  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.