Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Rocker Snakehead wys sy foto’s in Kaapstad
Francois van Coke, voorsanger van die groep Fokofpolisiekar. Dié foto is geneem deur die groep se tromspeler, Jaco Snakehead Venter, wat ook naam maak met sy kunsfotografie. Met dié foto wou hy uitbeeld hoe mense op dieselfde reis is, maar met verskillende agtergronde en idees oor hul bestemming. Foto: Jaco Snakehead Venter

Jaco Snakehead Venter, tromspeler van Fokofpolisiekar, wys binnekort weer die ander kant van sy besonderse kunstalent wanneer van sy foto’s deel gaan wees van ’n groeptentoonstelling in GalleryONE11 in Loopstraat, Kaapstad.

Jeanne Hugo van der Merwe, genooide kurator, het die tentoonstelling Here Tomorrow, Gone Today saamgestel deur ’n groep kunstenaars te vra om na te dink oor “die kleure en geure wat hul sin van nostalgie aanwakker”.

“Was dit mense, simbole, ikone, programme, ander kunstenaars of geliefde items wat hulle geïnspireer het om die kunstenaars te word wat hulle vandag is,” vra Hugo van der Merwe in haar kuratorsbrief.

Hugo meen die selfopgeleide Venter se foto’s het reeds legendariese status bereik – nie net oor die rockers as onderwerp nie, maar sy komposisies is sensitief en sterk. “Alledaagse tonele word telkens omskep in ’n fassinerende blik op sy unieke agtergrond as ’n Suid-Afrikaanse, en spesifiek Afrikaanse, rockster.”

Die Voortrekkermonument is ’n imposante, dog omstrede gebou wat ’n klein grepie van die Suid-Afrikaanse bevolking se geskiedkundige welslae eer, meen Jaco Snakehead Venter. Die foto het hy geneem uit ’n ander hoek. Venter, wat gereeld hier by musiekfeeste optree waar ’n ander Suid-Afrika vereer word, belig ’n opsigter wat omsien na die terrein om die monument. Foto: Jaco Snakehead Venter

Venter het in 2009 ’n kamera (film) by sy pa gekry en besluit om die toere saam sy musiekgroepe (aKING en Fokofpolisiekar) te dokumenteer.

“Ek het baie fotograafvriende (Liam Lynch en Adriaan Louw onder andere) gehad wat bereid was om my te help om beter foto’s te neem. Ek het net aangehou oor die jare.

“Vandat ek kan onthou, speel ek al in bands en ek is heel gewoond aan die spanpoging wat in die finale produk ingaan. Fotografie, aan die ander kant, bied ’n meer onmiddellike en persoonlike genot vir my.”

Vir die afgelope 13 jaar is sy kamera aan sy sy. “As dit nie is nie, is ek altyd ná die tyd spyt dat ek nie dit saamgebring het nie.” Daar is baie fotograwe wie se werk hy bewonder. “Mense soos Helmut Newton, Henri Cartier-Bresson, Bruce Gilden, Bruce Davidson en en en.

“Plaaslik is daar ook net so baie: Liam Lynch, Adriaan Louw, Sean Metelerkamp, my broer Wilhelm Venter, Andre Badenhorst, Ross Garrett en Warren van Rensburg is almal mense wat gehelp het om fotografie vir my opwindend te laat lyk.”

12 van sy foto’s word as beperkte oplaag te koop aangebied. “Die foto’s is nogal uiteenlopend en wissel van tekstuurryke stillewes tot foto’s geneem op musiektoere. Dis altyd moeilik om te kies, want jou gunsteling-foto is nie noodwendig iets wat iemand in hul voorkamer sal wil ophang nie. Hopelik is daar iets vir almal.”

Francois van Coke, voorsanger, en Hunter Kennedy, kitaarspeler en liedjieskrywer van Fokofpolisiekar, afgeneem tydens ’n Johannesburgse mediatoer in 2017 met die bekendstelling van hul album ‘Selfmedikasie’. Min slaap was ’n gegewe. Foto: Jaco Snakehead Venter

Die ander kunstenaars wie se werk te sien is, is Anton Kannemeyer en Conrad Botes. Hulle wys ’n voor- en agterblad uit hul bekroonde satiriese Bitterkomix-strokiereeks wat sedert 2009 verskyn.

Hugo van der Merwe meen dit is besonders dat Bitterkomix ’n nuwe generasie grafiese kunstenaars en ontwerpers geïnspireer het. Een van hulle is Marchand, ’n ontwerper van albumomslae, plakkate ensomeer, veral bekend om sy werk vir Fokofpolisiekar.

Ander kunstenaars wat uitstal, is Keneilwe Mokoena, Elmarie van Straten, Ella Cronjé en Andel Olivier.

Die tentoonstelling duur tot 17 Junie.

Besoektye is Dinsdae tot Vrydae van 10:00 tot 16:00 en Saterdae van 09:00 tot 13:00.

Meer oor:  Fotografie  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.