Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Roger Ballen stel nuwe boek bekend
Roger Ballen se ‘Guardians’ (2011).Foto: Roger Ballen

Die fotograaf Roger Ballen stel in Desember sy jongste fotoboek plaaslik bekend.

Hy het agt jaar (2005 tot 2013) aan die projek The Theatre of Apparitions gewerk.

Nadat hy die boek voltooi het, het hy ook ’n kort film Roger Ballen’s Theatre of Apparitions gemaak wat saam met die bekendstellings vertoon word.

Daar was reeds drie oorsee; in Toronto, New York en Singapoer. Die Suid-Afrikaanse bekendstelling is op 11 Desember in die Alexander Bar Upstairs-teater.

Volgens Ballen is hy verheug dat Kaapstad, die plek waar hy die foto’s vir die boek geneem het, ook nou die werk sal kan sien.

Volgens Ballen het hy die idee vir die byna spookagtige beelde gekry toe hy so ’n beeld in ’n venster van ’n verlate tronk vir vroue naby Boksburg gesien het. Dit was ’n handgetekende prent op ’n swart geverfde venster. Hy het ’n foto daarvan geneem en het toe self begin eksperimenteer met spreiverf op vensters waarná hy met ’n skep voorwerk daarop geteken het en dan foto’s geneem het. Hy het hoofsaaklik in verlate industriële geboue gewerk.

Daar is agt hoofstukke in die boek.

“Dis iets heel anders as tradisionele fotografie, self baie anders as wat mens van my sou verwag,” sê Ballen.

“Dis beslis nie iets wat jy in die alledaagse lewe sal sien nie. Ek weet mense wat my werk sien, beskryf dit as donker. Die rede waarom hulle dit so ervaar is omdat ek hulle konfronteer met hul eie gevoelens wat hulle probeer onderdruk. My werk prikkel emosies en laat mense vrae vra oor hul eie bestaansrede.”

Roger Ballen

Ballen het in sy vier dekades van fotograaf wees altyd nog net swart-en-wit-foto’s geneem.

“Ek is ’n meester van swart-en-wit. Ek leef nie in ’n kleurlose wêreld nie, natuurlik nie. Maar wanneer ek ’n kamera optel, sien my brein swart-en-wit. Ek verstaan hoe dit werk, hoe om die effek te verkry wat ek soek.”

Ballen is veral bekend vir sy foto’s van mense in hul eie omgewing wat sonder woorde sosiale kommentaar lewer en waarna al verwys is as dokumentêre fiksie. Sy foto’s van die omstrede rappers Die Antwoord is opgeneem in ’n boek met ontstellende beelde, en die meegaande video I Fink U Freeky is al meer as 55 miljoen keer op YouTube gekyk. Sy video Asylum of the Birds raak ook al hoe gewilder.

“Daar is ’n fyn lyn tussen fantasie en die werklikheid in my werk. Dis sielkundig uitdagend, selfs teatraal. Dis juis baie ter sake in my jongste werk.”

Hy het reeds begin werk aan ’n boek (Ballenesque) waarin ’n oorsig gebied sal word van sy werk oor die afgelope vier dekades. Twee nuwe temas in ander werk wat hy doen is rotte en ’n geanimeerde karakter wat nog ontwikkel word. Hy maak ook ’n kort rolprent wat hy ’n psigologiese dokumentêr noem.

Dié retrospektiewe werk sal insluit foto’s uit Dorps: Small Towns of South Africa (1986), Platteland: Images from Rural South Africa (1994), Outland (2000), Shadow Chamber (2005), Boarding House (2009), tot by nuwe werk van die reeks, Asylum of the Birds (2014).

Meer oor:  Kaapstad  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.