Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Ronnie van der Walt (69) was ‘sonderling, uniek’

Familie en vriende van die keramis en beeldhouer Ronnie van der Walt is in rou gedompel nadat hy Vrydag in ’n fratsongeluk buite Calitzdorp dood is.

Ronnie van der Walt met een van hordes keramiekpotjies wat hy in 2019 danksy die plantkundige Ernst van Jaarsveld, ’n vriend uit sy jeug, vir Babylonstoren geskep het. Foto: Guy van der Walt

Van der Walt, wat inwoners van Melville met deernis sal onthou as die eienaar van die Things-keramiekateljee-en-kunsgalery en die restaurant The Ant, is dood nadat sy bakkie deur water in die Nelsrivier meegesleur is. Hy was 69 jaar oud.

Volgens sy seun, Guy, het Van der Walt Vrydagaand ’n ete saam met sy eksvrou, die keramis Clementina van der Walt, en hul dogter, Vienie McShane, op Clementina se plaas in die Groenfontein-vallei buite Calitzdorp bygewoon.

“Toe hy omstreeks 21:00 huis toe ry – hy bly in Calitzdorp – het hy op ’n gevaarlike pad beland en ’n betonbrug (oor die Nelsrivier) bereik.

“Dit het gereën, en ons vermoed die rivier se water het gestyg en weens die reën reeds oor die brug gespoel. My pa het ’n wilde en vry gees gehad, en hy het dit waarskynlik heel opgewonde as ’n uitdaging aanvaar om te kyk of hy die brug steeds kan oorsteek.

“Die bakkie het in alle waarskynlikheid in die rivier in gerol en is stroomaf meegesleur.”

Guy sê sy suster het onraad vermoed toe haar pa nie die volgende dag vir ’n ete saam met haar en haar vriende opgedaag het nie. Hulle het gedink iemand het hom gekaap, maar het vinnig twee en twee bymekaar gesit en met ’n soektog in die vallei begin.

Van der Walt se bakkie, wat byna heeltemal onderwater was, is met die hulp van ’n hommeltuig bespeur – en polisieduikers het sy lyk sowat 50 m verder tussen hoë riete gevind.

Hy word ook deur vier kleinkinders oorleef. ’n Gedenkdiens word nog beplan.

Ronnie van der Walt
Ronnie van der Walt. Foto: Guy van der Walt

Van der Walt is in 1951 in Kaapstad gebore en het in Milnerton grootgeword. Hy was net 12 jaar oud toe sy pa in ’n motorongeluk dood is en hy saam met sy gesin na Johannesburg verhuis het.

Hy het ondanks moeilike kinderjare sy skoolloopbaan aan die Johannesburg School of Art, Ballet, Drama, and Music voltooi, voordat hy visuele kuns, beeldhoukuns en keramiek aan die Johannesburgse Kunskollege studeer het.

In 1976 het hy die eerste plek in die Brickor- nasionale keramiekuitstalling behaal, asook die topprys in die Oude Libertas- nasionale keramiekuitstalling in die daaropvolgende jaar. Hy het Things se deure in 1979 oopgeswaai en hom as ’n baanbreker op die gebied van keramiekkuns gevestig.

“Jy moet onthou, in dié tyd is keramiek beskou as handwerk wat huisvroue by die huis beoefen – baie min mense het dit ernstig opgeneem en galerye wou nie keramiek vertoon nie, want dit was nie high art nie,” sê Ilse Schermers, kunskenner en eienaar van IS Art Gallery in Stellenbosch.

“Ronnie het dit egter reggekry om deur daardie mark te breek. Hy was een van die voorlopers wat dit reggekry het om sy werk in ’n ernstige lig te plaas, soveel so dat ’n galery soos Everard Read dit wóú uitstal. Hy was deel van die revolusie wat mense uitgedaag het oor die besluit of handwerk kuns is of nie, en daarin het hy geslaag.”

Hy (Ronnie van der Walt) was een van die voorlopers wat dit reggekry het om sy werk in ’n ernstige lig te plaas, soveel so dat ’n galery soos Everard Read dit wóú uitstal. Hy was deel van die revolusie wat mense uitgedaag het oor die besluit of handwerk kuns is of nie, en daarin het hy geslaag.
Ilse Schermers

Hoewel sy werk tegnies uitstekend was, het dit nooit ontoeganklik vir die gewone publiek geraak nie, sê sy.

“Dit was steeds vir die publiek bekoorlik en hy het, amper soos Pieter van der Westhuizen, bekend geraak daarvoor: Iemand wat opgelei is, maar wie se werk nie vir Jan en Alleman afgesluit was nie. Almal wou sy werk hê.”

Een van Van der Walt se keramiekbeelde hang steeds in die akteur, sanger en skrywer Lochner de Kock se eetkamer. De Kock sê sy pad het in 1981 met dié van Van der Walt gekruis.

Die keramiekbeeld deur Ronnie van der Walt wat Lochner de Kock besit. Foto: Verskaf

“Ons is maar almal in Melville en het in restaurante tussendeur al die glase wyn en bier vir mekaar leer ken,” sê hy.

“Hy (Van der Walt) het Things destyds (in die middel van die 1990’s) in die restaurant The Ant omskep – dit bestaan nou nog. Ek sê altyd vir mense dit is een van die mees ikoniese plekke in Melville. Daar is nie ’n plek in die land wat beter pizzas maak as dit nie.”

De Kock sê hy is regtig jammer om die nuus oor Van der Walt te verneem – en dít net sowat ’n maand nadat hy hom in Melville raakgeloop het.

“Hy’t ’n huurhuis in Melville. Hy was nogal ’n interessante ou. Jy’t nie aldag geweet of hy kwaad was vir jou of nie,” sê hy laggend.

“Hy was ’n regte kunstenaar, maar almal van ons het tye wat ons bietjie bedonnerd en later weer baie nice is.”

Pure boheem, sê die joernalis Marguerite van Wyk oor Van der Walt, ’n pêl uit haar Melville-dae.

“Maar hy was tog ’n old school man. Hy’t geweet hoe om die lewe te geniet en het homself nooit te ernstig opgeneem nie. Hy kon kinderlik droom oor dinge en het gekook soos ’n gourmet-sjef, maar was totaal sonder pretensies!”

Al dié beskrywings van sy pa is vir Guy ’n riem onder die hart.

“Dit is moeilik om my pa saam te vat. Hy was . . . sonderling. Uniek. En ek dink baie mense sê dit van kunstenaars, maar hy wás sonderling – ook berug vir al die kaperjolle wat hy oor die jare aangevang het. ’n Sout-van-die-aarde-tipe-mens. Baie goed met mense oor die weg gekom. Verhoudings gesmee. Baie van braai gehou, maar hy het net met sout gebraai – jy durf nie met Aromat of enigiets anders naby hom kom nie!

“Uit al die terugvoer wat ons nou kry, hoor ons gereeld my pa was ’n legende – en dit is so, danksy sy kuns, Things, The Ant, waar almal vir hom soos familie was. Hy was baie trots op The Ant, dit was vir hom soos ’n huis en almal daar was soos sy familie, so ons sal graag wil teruggaan soontoe ter nagedagtenis aan hom.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.