Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
SA kuns pryk op prestige-veiling in Frankryk

’n Groot verskeidenheid moderne en kontemporêre kunswerke uit Suid-Afrika is deel van ’n prestige-veiling van Afrika-kunstenaars se werk aanstaande week in Parys.

Freida Lock se werk ‘Ingalawa, Zanzibar’ (1947). Foto: Aspire Art/Artcurial

Die veiling op 15 Junie word gesamentlik deur Aspire Art en die Franse veilingshuis Artcurial aangebied. Dit word beskou as een van die vernaamste vertoonvensters van die werk van kunstenaars uit Afrika en sy diaspora, wat toenemende aandag en belangstelling onder internasionale kunsversamelaars geniet.

Wat die aanbod van Suid-Afrikaanse kunstenaars betref, word klassieke kunstenaars soos George Pemba, Freida Lock, Alexis Preller, David Koloane, Dumeli Feni en Lucas Sithole en kontemporêre kunstenaars soos Georgina Gratrix, Brett Murray, Athi-Patra Ruga en Deborah Bell met gehaltewerk verteenwoordig.

Werke van internasionale kunstenaars soos Marlene Dumas en William Kentridge word aangebied, asook dié van jonger kunstenaars soos Nelson Makamo, Teresa Firmino en Blessing Ngobeni, wat meer onlangs hul merk begin maak het.

’n Spesiale fokus word op fotografie geplaas. Die afgelope twee dekades het ’n groeiende globale mark ontwikkel, veral vir vroeë moderne ateljeeportrette, dokumentêre beelde en opvoering-gegronde portrette. Twee internasionale uitstallings met die fokus op Afrika-fotografie in 1996 en 2006 in New York het erkenning en waardering gebring vir die innovering en verskeie vorms van fotografiese praktyke in Afrika.

Onder die bekendste fotograwe wat werk op die veiling het, is Malick Sibide (Mali), Rotimi Fani-Kayode (Nigerië) en die Suid-Afrikaners Mikhael Subotzky, David Goldblatt, Mohau Modisakeng, Nandipha Mntambo en Zanele Muholi.

Daar word ook in besonder op die werk van vrouekunstenaars gefokus. Twee kunstenaars, albei Suid-Afrikaners, word veral uitgesonder. Ayanda Mabula met haar sterk argetipiese Moeder Afrika-portret met ’n kind op haar arm, omring deur blomme as simbool van vrede, maar met ’n AK-47 in haar hand om haar en haar kind in bedreigde omstandighede te beskerm. Dit word ’n wrang kommentaar op die onsekere posisie van vroue in voortdurende geweldsomstandighede.

Wat die moderne Suid-Afrikaanse kuns betref, is daar ’n belangrike en opwindende werk van Freida Lock.

Georgina Gratrix word verteenwoordig deur ’n visueel treffende en ekspressiewe portret van ’n meisie. Met dik verflae poog sy steeds om die beperkinge van skilderverteenwoordiging uit te daag. Sy het plesier daaraan om deur verwringing van vorm ’n nuwe visuele werklikheid aan te bied, selde sonder humor.

’n Ander groot naam is Abdoulaye Diarrassouba (Ivoorkus) wat deur die “Nouchi”-styl van die woonbuurte van Abidjan geïnspireer is. Hy bring in sy werk straatkinders wêreldwyd onder die vergrootglas. Die werk handel met die onrus tydens die Ivoorkus se burgeroorlog in 2011.

Die Kameroense kunstenaar Jean David Nkot fokus in sy werk op die internasionale gemeenskap se onverskilligheid teenoor die brose status van die slagoffers van migrasie, veral uit Afrika na Europa.

Die Tunisiër Slimen El Kamel se boeiende werk handel met die landelike omgewing waar hy as kind geslyp is deur die tradisie van volksverhale en populêre poësie. Hy verken op vernuftige wyse die verhouding tussen die waarneembare werklikheid en die verbeelding.

Misheck Masamvu van Zimbabwe gebruik dinamiese, abstrakte ekspressionisme om met energieke kwashale en kleur sosiopolitieke kommentaar op die postonafhanklike Zimbabwe te lewer.

Wat die moderne Suid-Afrikaanse kuns betref, is daar ’n belangrike en opwindende werk van Freida Lock. Die werk, Ingalawa, Zanzibar (1947), verwys na die Swahili-naam vir die tradisionele bote wat tussen Tanzanië en die eilande Zanzibar en Pemba gebruik word deur plaaslike vissermanne en ook vir die vervoer van goedere en passasiers.

Benewens Irma Stern, is Lock die enigste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat lang tye in Zanzibar deurgebring het. Soos Stern, het sy ook twee besoeke aan die eiland gebring.

Hoewel Lock meestal bekend is om stillewens en interieurs, is dié werk heel besonders. Daar is groot vitaliteit in die wyse waarop sy die boot voorstel en die atmosfeer wat sy skep deur haar besondere gebruik van kleur. Soos Stern het Lock ook gebruik gemaak van die gekerfde venster- en houtrame van Zanzibar.

  • Navrae by aspireart.net. Die e-katalogus is ook hier te sien.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.