Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
SA kunstenaar oorbluf deur koffie-rekord in boek

Die Johannesburgse kunstenaar Percy Maimela sê woorde kan nie werklik beskryf hoe hy gevoel het toe hy die boek Guinness World Records 2021 oopslaan en sy naam en foto in die wêreldbekende rekordboek sien nie.

Maimela hou sy sertifikaat omhoog kort nadat hy die rekord op 12 September verlede jaar opgestel het. Foto: Facebook/Sound Idea Sessions

Netwerk24 het meer as ’n jaar gelede berig hoe Maimela (nou 35) die Guinness-wêreldrekord opgestel het vir die grootste mosaïek wat geheel en al uit koffie gemaak is. Maimela het die mosaïek van die platejoggie Black Coffee in net vier uur voltooi en dit geskep uit koffie wat reeds verval het. Die finale afmetings van die werk, wat in die Sandton City-winkelsentrum geskep is, was 25,96 m².

Dié rekord is te laat opgestel dat dit in die 2020-uitgawe van die rekordboek opgeneem kon word; dit is daarom eers in die 2021-uitgawe, wat onlangs uitgegee is.

“Ek het ’n bestelling deur Takealot geplaas en dit (die boek) verlede maand gekry. Jô, dit was ongelooflik,” sê hy oor die oomblik toe hy die boek in sy hande kon vashou.

“Toe ek die boek sien, het ek dadelik gedink ek gaan dit vir my seun (die sesjarige Tsentle) gee. Dit gaan nie oor my nie – dié boek gaan as motivering vir jong bloed dien,” sê hy laggend.

Maimela sê “dinge het makliker geraak” nadat hy die rekord opgestel het en die wêreld se oë op hom gevestig is. Hoewel hy voor die rekord ’n gevestigde kunstenaar met sy eie ateljee in August House in Doornfontein was, het deure ná die opstel van die rekord vinniger vir hom oopgeswaai.

“Dit was net makliker vir mense om my te erken as ’n kunstenaar – daarby ook ’n Guinness World Record-kunstenaar. En dit was nie soseer dat ek dadelik enige opbrengs gesien het nie, maar die opstel van die rekord was eintlik ’n belegging in my handelsmerk. Dit het bewusmaking van en vertroue in my werk geskep, en dit was net makliker vir mense om my aan hul uitvoerende hoofde of kollegas voor te stel.”

Percy Maimela se sertifikaat, wat sy Guinness-wêreldrekord bevestig, neffens twee eksemplare van Guinness World Records 2021, waarin sy rekord gepubliseer is.

Maimela, wat steeds uit August House werk, sê die impak van die pandemie op sy werk en inkomste was “rof”, maar die blootstelling wat hy reeds gekry het, het hom gehelp om ietwat ligter daarvan af te kom as ander kunstenaars.

“Die pandemie was aanvanklik sleg vir my, maar ná Junie het dit verbeter. Ek dink ek het eintlik danksy die pandemie geleer hoe belangrik dit is om te weet wat jy wil hê en dan daarop te fokus. Ek het toe my eie katalogus, bekend as Little Princess, saamgestel, en dit het goed gedoen. My eerste katalogus het nege werke bevat – dit is uitverkoop. My tweede katalogus het 11 werke bevat – dit is uitverkoop. My laaste katalogus het 13 werke bevat, waarvan 80% verkoop is voordat ek moes fokus op die voorbereiding van my nuwe solo-uitstalling.”

Maimela gaan tussen 14 November en 20 Desember ’n solo-uitstalling in die mmARTHouse-galery in Randburg aanbied. Die uitstalling sal oudergewoonte bestaan uit werk in houtskool, sout en akrielverf, maar hy gaan dié keer ook werk vertoon wat geskep is met sand.

“Jy gaan verras wees as jy dit sien – dit gaan ’n monster van ’n vertoning wees,” belowe hy.

“Ek is halfpad klaar met die produksie daarvan. Dit gaan oor gemengde gevoelens, gemengde reaksies. Ek probeer ons ma’s, ons koninginne, op ’n manier uitbeeld wat nog nie tevore gesien is nie. Ek probeer ons stories vasvang op ’n manier wat ’n reaksie gaan ontlok, maar ek gaan dit aan kunsliefhebbers oorlaat om self te besluit waaroor dit gaan.”

Belangstellendes wat die uitstalling wil bywoon, word aangemoedig om mmARTHouse by 011 568 3480 te bel en ’n besigtiging te bespreek sodat nie te veel mense op een slag die galery besoek nie. Maimela sal in dié verband ook meer inligting op sy Facebook-blad, www.facebook.com/percy.portraitdrawings, bekend maak.

  • Guinness World Records 2021 word plaaslik deur Pan Macmillan South Africa versprei. Die kleinhandelprys is R420.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.