Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
SA kunstenaar stel ‘koffie’-wêreldrekord op

Suid-Afrika het nog ’n wêreldrekordhouer – en nee, dié keer nie in ’n sportitem nie.

Percy Maimela (in die middel) met die sertifikaat wat sy wêreldrekord bevestig. Foto: Facebook/Sound Idea Sessions

Die kunstenaar Percy Maimela (33) het ’n Guinness-wêreldrekord opgestel vir die grootste mosaïek wat geheel en al uit koffie gemaak is. Hy het die mosaïek van 5 m x 5 m van die gesig van die Suid-Afrikaanse platejoggie Black Coffee in net vier uur voltooi.

“Eintlik was die finale afmeting 25,9 m²,” sê Maimela, wat ’n heeltyds kunstenaar by August House in Doornfontein, Johannesburg, is en gereeld kunswerke met houtskool, sout en verf maak.

Hy het die splinternuwe wêreldrekord op 12 September in die Sandton City-winkelsentrum in Johannesburg opgestel.

“Toe die Guinness-span aankondig die rekord is amptelik myne, het ek geborrel van vreugde. Hoewel ek geweet het ek gaan hierdie nuwe rekord opstel, kon ek dit steeds nie glo toe ek dit eindelik vermag het nie.”

Maimela sê hy is aanvanklik deur BrainFarm, organiseerders van die konferensie Sound Idea Sessions, genader om ’n koffieskets van Black Coffee te maak, wat ook op dié konferensie te sien sal wees.

“Ek het gehou van hul idee en het hulle toe vertel van my idee om die skets so groot te maak dat dit ’n wêreldrekord kan opstel. Hulle (BrainFarm) het toe in kontak met die Guinness-span gekom en al die nodige reëlings getref.”

Percy Maimela in aksie waar hy die reuseskets van die Suid-Afrikaanse platejoggie Black Coffee uit koffie gemaak het. Foto: Facebook/Sound Idea Sessions

Hy het streng voorskrifte van die Guinness-span gekry waarvolgens hy die mosaïek moes maak.

“Dit moes geheel en al – 100% – uit koffie gemaak wees, dit kon nie aan ’n handelsmerk verbind word nie en om te keer dat ons voedsel vermors, kon ons net koffie gebruik wat reeds verval het en niemand kon drink nie.”

Hy het eindelik net een tipe koffie gebruik, maar het ’n deel daarvan gerooster sodat dit donkerder is en hy skakering daarmee kon aanbring.

Die eindproduk is drie dae lank uitgestal en is op 14 September vernietig.

“Gelukkig het ons baie, baie foto’s geneem,” sê hy laggend.

Hy sê hy kan dae later steeds die koffie ruik waarmee hy ure aaneen gewerk het – en dis nie heeltemal aangenaam nie.

“Ek drink koffie, maar om eerlik te wees, drink ek dit nie graag nie – dit is nie my gunsteling nie.”

  • Percy Maimela se (ander) kunswerke is op 6 Oktober in die Open Studio-kunsuitstalling te sien. Die uitstalling kan tussen 10:30 en 16:00 by August House in Doornfontein, Johannesburg, besigtig word. Toegang is gratis. Besoek augusthouse.co.za vir meer inligting.
Meer oor:  Koffie  |  Black Coffee  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.