Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
SA sangeres hou sitstaking in kunsteraad-kantoor

Die operasangeres Sibongile Mngoma het Maandag ’n sitstaking in die Nasionale Kunsteraad (NAC) se kantore in Newtown, Johannesburg, gehou om haar stem oor die uitbetaling van noodfinansiering dik te maak.

Sibongile Mngoma Foto: Facebook

Mngoma, wat ook president van die Im4theArts-beweging en die South African United Cultural and Creative Industries Federation (SAUCCIF) is, het om 09:00 by die NAC-kantore ingestap en geweier om die perseel te verlaat totdat die raad ’n lys aan haar verskaf van al die kunstenaars aan wie hulle noodfinansiering verskuldig is.

Sy is eindelik eers omstreeks 18:00 huis toe – sonder die lys, maar met ’n belofte dat sy dit teen Dinsdag sal ontvang. Indien nie, gaan sy haar Woensdag om 09:00 weer tot die NAC se kantore wend.

Mngoma se sitstaking hou verband met ’n bedrag van R300 miljoen wat die kunsteraad danksy die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) gekry het en wat hulle veronderstel was om in Desember aan kunstenaars uit te deel wat suksesvol daarvoor aansoek gedoen het.

Netwerk24 het vroeër berig dat dié uitbetalings steeds nie gemaak is nie, ondanks die feit dat die kunsteraad reeds kontrakte met 613 van die 1 374 suksesvolle aansoekers gesluit het. Al dié begunstigdes moes ook die geld aanwend vir kunsteprojekte wat oor ’n tydperk van vier maande ontwikkel moes word en op 15 Maart ten einde moes loop – ’n sperdatum wat nie meer haalbaar is nie.

’n Skermgreep van ’n video wat wys hoe Mngoma ’n deur toehou sodat een van die kunsteraad se werknemers nie die gebou kan verlaat nie. Foto: Facebook

Hoewel die kunsteraad se direksie op 24 Februarie gesê het uitbetalings sal “dadelik” gemaak word – en hulle boonop vier dae later vir Rosemary Mangope, die raad se hoof, en Clifton Changfoot, die raad se finansiële hoof, hangende ’n ondersoek oor die kwessie geskors het – is begunstigdes se beursies glo steeds leeg.

Dít het Mngoma genoop om in persoon by die NAC-kantore op te daag en antwoorde te eis.

“Ek het nie as die president van enige organisasie of federasie (na die NAC-kantoor) gegaan nie, maar as ’n kunstenaar wat geraak én bekommerd is oor wat tans in die kunste aan die gang is,” het sy Dinsdag in ’n regstreekse uitsending op Im4theArts se Facebook-blad gesê.

Volgens haar weergawe van die verloop van gebeure is sy by die NAC-kantore ingelaat, ondanks ’n opdrag van die gebou se bestuur aan sekuriteitsbeamptes dat hulle kunstenaars weens Covid-19-protokol toegang moet weier. Toe die sekuriteitsbeamptes hul fout besef, was dit reeds te laat en het Mngoma botweg geweier om die gebou te verlaat totdat die topbestuur antwoorde oor die PESP-kwessie aan haar verskaf.

’n Ontvangsdame het haar ingelig dat die meeste van die kunsteraad se werknemers van die huis af werk en daarom nie op kantoor is nie, maar Mngoma het voet by stuk gehou – ook toe die polisie twee keer ontbied is, die tweede keer omdat sy (Mngoma) glo die kunsteraad se werknemers gyselaar gehou het. ’n Video wat op sosiale media versprei is, wys hoe Mngoma ’n deur toehou om te keer dat ’n kunsteraad-werknemer die gebou kan verlaat.

“Kyk, ek is baie dinge, maar ek besit nie ’n geweer nie – ek besit nie eens ’n naald nie – so ek weet nie hoe die mense (in die gebou) gedink het ek hulle gyselaar gaan hou nie,” het sy in die regstreekse Facebook-uitsending gesê. Sy het aan Netwerk24 bevestig dat sy dit net gedoen het om te keer dat dié werknemer haar ontduik.

Die polisie het albei keer die gebou betree, hul oë gerol en gesê die saak kan vinnig opgelos word as die bestuur net met Mngoma kom praat. Dr. Sipho Sithole, een van die kunsteraad se direksielede, het eers rondom 17:00 opgedaag en haar aan die einde van ’n gesprek beloof dat sy die lys teen Dinsdag sal kry.

Sodra ons klaar is met hierdie NAC-kwessie, gaan ons kom vir julle, NFVF. En ná die NFVF, kom ons ook vir julle, Samro. En ek gaan laaste by die DSAC om. Minister Nathi Mthethwa, jy kan hardloop, maar jy kan nie wegkruip nie. Ek kom vir jou.
Sibongile Mngoma

Mngoma sê sy glo nou meer as ooit tevore dat die kunsteraad korrup is, en sy hoop die Valke, wat verlede jaar ’n ondersoek na beweerde bedrog en korrupsie in die raad van stapel gestuur het, besoek die topbestuur by hul huise.

Sy het ook gesê dat sy nie net die kunsteraad met haar sitstakings gaan teiken nie.

“Sodra ons klaar is met hierdie NAC-kwessie, gaan ons kom vir julle, NFVF (die Nasionale Rolprent-en-Video-stigting). En ná die NFVF, kom ons ook vir julle, Samro (die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Musiekregte). En ek gaan laaste by die DSAC (die departement van sport, kuns en kultuur) om. Minister Nathi Mthethwa, jy kan hardloop, maar jy kan nie wegkruip nie. Ek kom vir jou.”

Mngoma het op haar Facebook-blad gesê sy beplan om die NFVF, Samro en die DSAC op onderskeidelik 6, 12 en 15 Maart te besoek.

Tshepo Mashiane, nog een van die kunsteraad se direksielede, het Mngoma se weergawe van die verloop van die gebeure aan Netwerk24 bevestig. Mashiane sê egter die polisie is vir ’n tweede keer weens ’n “gyselaarsituasie” ontbied omdat Mngoma geweier het om enigiemand wat in die gebou was, uit te laat. Hy beweer ’n handvol van die kunsteraad se werknemers wou ook nie Dinsdag werk toe gaan nie omdat hulle weens die “gyselaarsituasie” emosioneel geskend is en te bang was dat dit weer kan gebeur.

“Dit is belangrik om te benadruk dat Mngoma vertroulike inligting – lyste met die name van begunstigdes en hoeveel elkeen van hulle betaal is – versoek, en sy doen dit nie eers namens ’n organisasie nie, sy doen dit net namens haarself.”

Mashiane sê hulle sal weer met Mngoma praat as sy Woensdag by hul kantoor opdaag, maar dat sy hulle nie kan dwing om vir haar inligting te gee nie.

“Ons is wel daartoe verbind om die saak op te los sodat kunstenaars uiteindelik betaal kan word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.