Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
SA se Jane Alexander tokkel aan Nederlanders se geheue
‘Courtroom 21 (in the absence of Judge W)/ Courtroom 21/Title withdrawn/Verity, Faith and Justice’, Die meeste woorde in die titel is doodgetrek, behalwe die laaste vier wat in kursief aangebring is. Installasiewerk deur Jane Alexander. Foto: Mario Todeschini

’n Mens vermoed ’n sweempie draakstekery in die Stevenson-kunsmense se besluit om ’n klein installasie van die talentvolle Jane Alexander in hul Amsterdamse lokaal te wys. Dis die ou VOC-vlag, sien.

Die Stevenson-lokaal in die swierige, oulike winkelstadstreek bekend as De 9 Straatjes is sedert 2019 ’n voorpos vir die 13 direkteure wat die bekende galery in Kaapstad besit. Een van hulle is Joost Bosland, gebore in die Nederlande, terug daar, en aan die stuur om die plaaslike onderneming in internasionale en veral Europese kunskringe onder die belangstellende kollig te plaas.

Is welslae ophande?

Hy erken vandeesweek ’n “handjievol museumbeamptes het besoek afgelê”.

Nietemin behoort Jane Alexander se kuns die Nederlanders iewers in hul gewete te raak. Sy skep ongemaklike situasies, en hierdie een gryp Nederlandse kapitalistiese kolonialisme aan die keel – wel natuurlik, tipies, met misterieuse nuanses.

Die installasie se titel is reeds ietwat van ’n verbluffing.

Volgens Alexander se nota lees dit ‘Courtroom 21 (in the absence of Judge W)/ Courtroom 21/Title withdrawn/Verity, Faith and Justice’. Die meeste woorde in die titel is doodgetrek, behalwe die laaste vier in kursief..

‘Courtroom 21 (in the absence of Judge W)/ Courtroom 21/Title withdrawn/’Verity, Faith and Justice’, wat in kursief aangebring is, installasiewerk deur Jane Alexander. Foto: Mario Todeschini

aasgenoemde woorde geld omdat dit oorspronklik deel van ’n groot projek was wat sy in 2006 vir die Singapore-biënnale geskep het.

Tipies van haar werk, is die media wat sy gebruik insiggewend. So lui hierdie een: ‘olie-geverfde figure van poliëster-harpuis, 10 houtvrye boeke met 1 000 blanko bladsye van 100 g met vergulde rante en in swart gare gebind, 100 nuwe rooi industriële sterkte-handskoene, een seremoniële regstoga en een nagemaakte vlag van die Vereenigde Oostindische Compagnie’.

Die VOC wie se spore so diep in die Kaap lê, het met haar installasie destyds in Singapoer in dié se koloniale geskiedenis weerklank gevind en ook die band met Suid-Afrika gesluit. Die verwysing na die hof 21 is betekenisvol, want dis waar Singapoer onder meer sy onafhanklikheid van die heersers bevestig het. Hier het die plaaslike bevolking sy juk afgeskud.

In daardie installasie het Alexander ook meer van haar groteske ‘humanimal’-karakters – soos die beroemde Butcher Boys – gebruik. Die Yale-kunsprofessor Kubena Mercer het juis in die Iziko-boekie wat verlede jaar oor laasgenoemde gepubliseer is, opgemerk hoe toeskouers aangetrek word deur haar vreemde wesens. Ons ervaar ’n “verhoogte ambivalensie” wat jou nuuskierig nader lok in tonele met dié diermense.

Vir die Amsterdammers waar die VOC se hoofkantoor was toe dié maatskappy die grootste handelsonderneming in die wêreld was, hoort Jane Alexander se kunswerk minstens ’n greintjie historiese skuldgevoel op te tower.

Dis tot 22 Mei te sien by Prinsengracht 371B, 1016 HK Amsterdam.

Meer oor:  Amsterdam  |  Nederland  |  Kuns  |  Jane Alexander
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.