Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
SA sitstakers kry internasionale steun

Talle internasionale kunste-organisasies en -verenigings het hulle geskaar by die sowat 20 sitstakers wat teen Donderdag reeds 37 dae in die Nasionale Kunsteraad (NAC) se kantore in Newtown, Johannesburg, betoog.

Dié internasionale rolspelers sluit in die Feesakademie, die Internasionale Netwerk vir die Kontemporêre Uitvoerende Kunste (IETM) en die Vereniging van Europese Feeste (EFA), almal in België; die Internasionale Teater-instituut (ITI) en die Internasionale Vereniging van Teater-kritici (IATC), albei in Frankryk; en die Internasionale Vereniging vir Teater vir Kinders en Jong mense (Assitej) in Denemarke.

Dié organisasies en verenigings het die een ná die ander ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering en die nasionale departement van sport, kuns en kultuur gedoen om die kwessie oor die wanbestuur van sowat R300 miljoen se noodfinansiering aan kunstenaars op te los.

Netwerk24 het reeds breedvoerig berig dat die kunsteraad dié geld danksy die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ryker geword het. Hulle was veronderstel om dit teen Desember in kunstenaars se beursies te deponeer, maar hulle kon weens ’n “wiskundige fout” teen Woensdag slegs R113,4 miljoen aan 795 van die 1 374 begunstigdes uitbetaal.

Die debakel het tot ’n sitstaking gelei wat deur die operasangeres Sibongile Mngoma begin is. Sy het teen Donderdag reeds 36 nagte onder ’n tafel in die kunsteraad se raadsaal geslaap om teen die aangeleentheid en die lot van kunstenaars in die land te betoog.

Die betoging is reeds deur talle plaaslike organisasies – onder meer die Feesteforum, die Suid-Afrikaanse Akteursgilde (SAGA), die Suid-Afrikaanse Skrywersvereniging (NWASA), die Suid-Afrikaanse vleuel van die Internasionale Vereniging vir Teater vir Kinders en Jongmense (Assitej SA) en die Im4theArts-beweging – gesteun. Nou trek dit ook die aandag van rolspelers in die buiteland.

“Die ITI is baie bekommerd oor die situasie in Suid-Afrika,” skryf Tobias Biancone, direkteur-generaal, in ’n brief wat glo aan vyf Suid-Afrikaanse regeringsdepartemente gestuur is.

“Ons toon ons solidariteit met en staan bankvas agter die Suid-Afrikaanse kunstenaars wat met betrekking tot noodfinansiering vir die kunste aandring op verantwoordbaarheid en deursigtigheid.”

Die Internasionale Teater-instituut is baie bekommerd oor die situasie in Suid-Afrika.
Tobias Biancone

Biancone skryf dat die ITI – glo die grootste organisasie vir die uitvoerende kunste ter wêreld, wat nie net deur Unesco op die been gebring is nie, maar ook by Unesco se kantore in Parys gesetel is – groot agting het vir Suid-Afrika se kulturele diversiteit en die werk wat Suid-Afrikaanse kunstenaars skep.

“Die Covid-19-pandemie se nasleep mag nié dít wat oor talle dekades heen in die kultuursektor opgebou is, uitwis nie.

“Dít is hoekom die ITI leiers en lede van die owerheid versoek om seker te maak dat steun met verantwoordbaarheid en deursigtigheid uitgedeel word sodat die kuns-en-kultuur-sektor in Suid-Afrika dié moeilike tyd kan oorbrug.”

Netwerk24 het Maandag berig dat die kunsteraad hom Dinsdag tot die hooggeregshof in Johannesburg gewend het in ’n poging om die sitstakers met ’n interdik uit hul kantore te verwyder.

Die saak is twee keer deur regter Motsamai Makume uitgestel, onder meer om die kunsteraad en die sitstakers se regsverteenwoordigers tyd te gee om tot ’n vergelyk te kom en die saak buite die hof op te los.

Adv. Willem Bezuidenhout, vir die kunsteraad, het Donderdag aan Netwerk24 bevestig dat dié vergelyk nie teen die sperdatum om 10:00 bereik kon word nie – en dat Makume daarom die saak weer Vrydag om 09:00 sal aanhoor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.