Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Sangeres gaan minister Maandag vra om te bedank

Die kunstenaars wat van 3 Maart tot 1 Mei ’n sitstaking in die Nasionale Kunsteraad (NAC) se kantore in Johannesburg oor noodfinansiering gehou het, het hul volgende teiken in hul visier – die nasionale departement van sport, kuns en kultuur.

Sibongile Mngoma op die 37ste dag van die sitstaking in die Nasionale Kunsteraad se kantore. Mngoma het uiteindelik 58 nagte onder ’n tafel in die raadsaal geslaap om te betoog teen die NAC se omstrede bestuur van R300 miljoen se noodfinansiering. Foto: Gallo Images / Deon Raath

Die sitstakers, bekend as Abahlali base NAC, gaan Maandag onder leiding van die operasangeres Sibongile Mngoma na die departement se hoofkantoor in Pretoria opruk om met Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, te vergader.

Mngoma het Vrydag aan Netwerk24 gesê hulle beplan om ernstig met Mthethwa in gesprek te tree oor sy gebrekkige steun aan kunstenaars tydens die pandemie en sy departement se gebrekkige bestuur van ’n R150 miljoen-noodfonds wat Mthethwa in Maart verlede jaar bekend gestel het.

“Ek hoop ook om hom te oortuig om sy amp vrywillig te ontruim,” sê Mngoma.

Netwerk24 het vroeër berig dat Mngoma in Februarie beplan het om die kunsteraad, die departement, die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie (Samro) en die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (NFVF) die een ná die ander te besoek en ’n dag lank op elke plek haar stem dik te maak oor die manier waarop hulle kunstenaars in die land versaak.

Sy het voorheen gesê die kunsteraad het haar en die res van Abahlali base NAC veel langer besig gehou as wat hulle gedink het – en dat dit van Mthethwa sal afhang hoe lank hul “kuiertjie” by sy departement sal wees. ’n Besoek aan Samro en die NFVF se kantore sal die een of ander tyd daarna volg.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur. Foto: Getty Images

Luidens ’n mediaverklaring nooi Abahlali base NAC die ganse kunstebedryf om saam met hulle na Mthethwa se kantoor op te ruk en hulle in hul tog vir geregtigheid te steun.

“Ons is baie dankbaar vir die steun wat ons oor die 60 dae tydens die historiese NAC-sitstaking gekry het.

“Hierdie vergadering (met Mthethwa) dien as voortsetting van die werk wat ons daar (by die kunsteraad) gedoen het. Dit is ons manier om te verseker dat die departement reg aan kunstenaars en organisasies in die bedryf laat geskied.”

Die besoek begin Maandag (17 Mei) stiptelik om 11:00 by Sechaba House, Madibastraat 202, Pretoria. Stuur ’n e-pos na abahlalibasenac@gmail.com vir meer inligting of besoek Im4theArts op Facebook.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.