Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Seldsame beeld van Dumile Feni onder die hamer
Dumile Feni in sy ateljee in New York. Foto: George Hallett

’n Hoogtepunt op vanjaar se veilingskalender is die aanbod van ’n indrukwekkende en unieke bronsbeeld, Silence (1986) van Dumile Feni, wat in New York gegiet is en tussen 1993 en 1995 na Suid-Afrika gerepatrieer is. Dit is dié belangrikste werk van die kunstenaar wat tot nog toe hier aangebied is.

Kontemporêre Afrika-kuns is die hooffokus van Aspire se somerveiling wat Sondag in Johannesburg aangebied word. Benewens Feni word belangrike werke van George Pemba, Gladys Mgudlandlu, Noria Mabasa, Peter Clarke en Helen Sebidi aangebied.

Feni se beeld was in 1987 deel van sy solo-uitstalling Statements in La Galleria in New York. ’n Glanskatalogus is ook gepubliseer. Dit word aanvaar dat dit die enigste voorbeeld van die werk is.

Hierdie werk illustreer Feni se intense bemoeienis met die menslike liggaam. Die beeld dwing ’n intellektuele begrip af van die mens se broosheid in ’n groter, ongenaakbare wêreld. Hierdie bewoënheid word uitgebeeld deur die geslote oë en saamgeperste lippe in ’n houding van verslaenheid.

Die beeld ‘Silence’ van Dumile Feni wat onder die hamer kom op Aspire se somerveiling in Johannesburg.

Die veilingswaardasie van die werk word geskat tussen R2 miljoen tot R3 miljoen. The Two Worlds (1969), ’n werk van Gerard Sekoto, is nog ’n werk wat geskep is tydens ballingskap. Ná ’n lang verblyf in Senegal keer hy terug na Parys. Dit is ’n treffende uitbeelding van die dramatiese teenstrydighede wat die kunstenaar ervaar – ’n verskeurdheid tussen die herroeping van ’n landelike Afrika-atmosfeer (links van die doek) en regs die hoofsaaklik wit stedelike wêreld van Parys. Die werk se geskatte waarde is tussen R500 000 en R800 000.

Apartheid’s Slave Wagon (1966), ’n aangrypende houtskoolskets deur Julian Motau, vind aansluiting by die werk van Feni. Sy verhaal is tipies, maar tragies, van die lot van baie talentvolle swart kunstenaars wat tydens apartheid skolingsgeleenthede misgun is. Hy was hoofsaaklik selfgeskool en hierdie werk toon ’n vurige ekspressionistiese energie en dinamika wat nooit tot wasdom sou kom nie. Hy is as 20-jarige vermoor.

Die metafoor van die slawewa is een wat Feni dikwels in sy werk gebruik het, waarvan die beste voorbeeld dalk sy magistrale beeldhouwerk History is, wat deel is van die kunsversameling van die konstitusionele hof.

’n Sleutelwerk van Clarke, Abandoned on the Dunes (1969), is ’n elegiese werk met ’n sterk Kubistiese inslag. Sebidi word deur vyf besonderse werke verteenwoordig, terwyl Mabasa in ’n sensitiewe werk van dryfhout veel van haar spirituele ingesteldheid verbeeld.

’n Ander kenmerk van die veiling is die sterk komponent van die werk van Suid-Afrikaanse fotograwe, onder andere David Goldblatt, Alf Kumalo, George Hallett, Daniël Naudé en Mikhael Subotzky.

• Die Aspire-veiling word Sondag om 18:00 gehou in die Gordon Institute of Business Science (Gibs), Melvilleweg 26, Illovo.

• Die voorskou is daagliks tussen 10:00 en 16:00 met rondleidings om 11:00.

Rig navrae aan enquiries@aspireart.net of skakel 011 243 5243.

Meer oor:  Veiling  |  Aspire  |  Dumile Feni
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.