Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Seldsame werke van Muafangejo onder die hamer

Die eerste veiling tot nog toe van ’n enkele kunstenaar se werk deur die Suid-Afrikaanse afslaer Strauss & Co word einde vandeesmaand van die Namibiese kunstenaar John Muafangejo se linosneë gehou.

Volgens die mediaverklaring is daar op dié uitsonderlike geleentheid besluit op grond van die waarde van Muafangejo se kuns en omdat sowat 150 werke uit een versameling bekom is, naamlik dié van die Namibies gebore kunskenner Orde Levinson. Meer as 100 linosneë word opgeveil en 36 linoblokke.

Die Namibiese kunstenaar John Muafangejo.

Dr. Alastair Meredith, senior kunsspesialis by Strauss & Co, sê: “Die werke is ’n bewys van geduld en fokus wat lewenslank aan die versamel van Muafangejo se kuns gewy is. Dit bied nou liefhebbers van die drukkuns die kans om werke van museumgehalte en geskiedkundge gravitas aan te skaf en vir akademici en versamelaars die geleentheid om die kunstenaar se merkwaardige lewenswerk na waarde te skat.”

Muafangejo is in 1943 naby die Kunenerivier in die suide van Angola gebore en het verskeie sendingskole in die noorde van Namibië bygewoon. Hy het opleiding in drukkuns in die bekende kunssentrum by Rorke’s Drift in KwaZulu-Natal deurloop. Dit het gelei tot ’n oeuvre van ryk outobiografiese beelde en werke met maatskaplike en religieuse temas.

Dié vrouebyeenkoms in die Evangeliese Lutherse kerk is een van John Muafangejo se belangrike werke. Foto’s: Strauss & Co

Muafangejo se loopbaan het ’n hupstoot gekry toe hy, Dumile Feni en Sydney Kumalo in 1969 aan ’n uitstallingvan kontemporêre Afrikakunsin die Camden-kunssentrum in Londen deelgeneem het.

Die invloedryke Britse kunskritikus Edward Lucie-Smith het in 1983 Muafangejo beskryf as “deurlopend die beste moderne meester van sy medium, ’n wêreldklas linosnee-kunstenaar”.

Ongelukkig is die kunstenaar se loopbaan kortgeknip toe hy in 1987 op 44 jaar aan ’n hartaanval dood is.

Orde Levinson, tans ’n gerekende kunshistorikus, skrywer en kunstenaar in Brittanje, het reeds as ’n jong man begin om Muafangejo se werke te versamel.

Sy ma, Olga Levinson, was bekend as ’n beskermvrou van die kunste en skrywer en het onder meer ’n versamelaarsboek oor die skilderkunstenaar Adolph Jentsch gepubliseer.

’n Treffende linosnee van kameelperde in Namibië deur John Muafangejo.

Orde sê hul huis in Windhoek was oortrek van skilderye, onder meer van Muafangejo.

“In 1987 toe Muafangejo dood is, het ek minstens 100 van sy werke besit en ná my ma se dood twee jaar daarna het ek my versameling uit haar versameling aangevul.”

In 1992 het Orde ’n gesaghebbende dokument gelewer, I was Lonelyness: The Complete Graphic Works of John Muafangejo, wat oor al 262 grafiese werke handel wat Muafangejo van 1968 tot 1987 geskep het. Uitgawes in Oshikwanyama en Duits gaan ook verskyn.

Orde sê dit is vir hom bittersoet om die versameling uit sy hande te laat gaan, maar nadat geen kunsmuseum belangstelling in die werke getoon het nie, het hy besluit dit is tyd om die werke wyer te laat versprei sodat Muafangejo se kuns ook aan ander mense plesier kan verskaf.

* Die aanlyn veiling duur van 26 April om 08:00 tot 3 Mei om 20:00. ’n E-katalogus met foto’s van die kunstenaar en ’n essay deur Orde Levinson sal kort voor die veiling aanlyn beskikbaar gestel word.

Meer oor:  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.