Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Shany laat blomme weer simbolies blom
‘This is not a Mask’, olie op bord, 45 cm x 45 cm deur Shany van den Berg. Haar solotentoonstelling is in die Everard Read Circa-galery in Kaapstad te sien. Foto: Mike Hall

Die hope en hope blomme wat aan die begin van die Covid-19-inperking wêreldwyd gestort is, was deels die inspirasie vir die kunstenaar Shany van den Berg se solotentoonstelling nòs/us, wat in die Everard Read Circa in Portswoodweg in Groenpunt, Kaapstad, te sien is.

“Waar blomme ’n teken van die viering van die lewe is, waar dit gepaardgaan met liefde, feestelikheid en genesing, is dit hier weggegooi as nutteloos; dit is gestort om te verrot,” sê Van den Berg.

“Dit was vir my deels ’n teken van die siklus van die lewe.

“Blomme is deurdrenk van simboliek – ek verwys graag daarna in my werk; hier in die tentoonstelling blom die blomme weer simbolies.”

Die kunstenaar Shany van den Berg. Foto: DistriksPos

Oral op die doeke figureer benewens blomme die vrouefiguur en voëls wat om die uitbeeldings van mense fladder.

“Voëls is as ’n metafoor vir die behoefte aan vryheid,” sê die kunstenaar.

“In tye waar ons gehok is, is hulle ons band tussen die aarde en die hemel en beeld ’n amper spirituele soeke of boodskappe uit.”

Daar is portrette van vroue wat die kyker in die oë kyk “en die kyker versoek om betrokke te wees; hierdie band van betrokkenheid is van kritieke belang in dié tyd (van inperking en Covid-19); ons oë is die vensters van die siel”.

Benewens die olie-op-doek-werke is daar collages en cutouts, asook twee kopbeelde van brons te sien.

“Die beelde is so saamgestel dat dit die vrye vloei van gedagtes en drome kan uitbeeld,” sê Van den Berg.

Sy het begin werk aan die tentoonstelling gedurende die aanvanklike, baie streng Covid-19-inperking.

“Hoewel ons as kunstenaars gewoond is om in isolasie en in stilte te werk, het dit by tye moeilik geword,” sê sy.

In die uitstalling borduur sy voort op haar kenmerkende temas van moederskap, familie, menslikheid, intimiteit en die verband of samehang tussen als, asook die ouderdom.

“Hoewel die werke persoonlike uitbeeldings is, raak ek ook die universele toonaard van medemenslikheid aan.”

Van den Berg is ’n boorling van Riversdal en het ’n diploma as verpleegkundige verwerf. Haar kunsopleiding behels onder meer keramiekklasse by Ralph Johnson, asook studies in skilder en teken by die Ruth Prowse-kunsskool. In 2009 en 2010 was sy een van die 50 finaliste in die BP Portretprys, wat by die Nasionale Galery in Londen gehou word.

Haar laaste solotentoonsteling was by die Everard Read-galery in Londen, waar sy werk met onder meer waterlelies as tema gewys het.

Die tentoonstelling duur tot 30 April. Besoektye is Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 17:00, asook Saterdae van 09:00 tot 13:00. Navrae: 021 418 4527

Werke van Nelson Makamo is ook te sien tot 30 April.– Saamgestel deur Laetitia Pople uit notas van Van den Berg op die galery se webblad

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.