Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Sheree is finalis in wêreldkompetisie
Sheree Young aan die skilder in haar ateljee.Foto: Verskaf
Die waterverfskildery deur Sheree Young wat sy vir die International Watercolor Society Poland (IWS Poland) se Step by Step-waterverfkompetisie ingeskryf het.Foto: Verskaf

Sheree Young (48) is onlangs aangewys as een van die finaliste in ’n internasionale waterverfkompetisie.

Die kompetisie bestaan uit vier afdelings en kunstenaars kan vir een of al vier afdelings inskryf.

Young is as ’n finalis in die eerste afdeling aangewys en beplan om ook aan afdelings 3 en 4 deel te neem alvorens die wenner aangewys sal word.

“Ek kon daaraan deelneem omdat ek ’n lid van die Inter­national Watercolor Society South Africa (IWSSA) is,” sê sy.

Dit is die tweede jaar dat die International Watercolor Society Poland (IWS Poland) dié kompetisie aanbied.

Tydens die kompetisie moet kunstenaars die vordering van hul werk in vyf of ses stappe fotografeer en per e-pos inhandig. Elke foto moet vergesel wees van ’n volledige beskrywing van die proses, die kleur en kwaste wat daarvoor gebruik is.

Dit bied ander kunstenaars die geleentheid om meer te leer van elke proses, vandaar ook die naam van die kompetisie, Step by Step.

“Ek het al verskeie onderwerpe geskilder – van landskappe, stillewes en vir die kompetisie, ’n buustelyfie!” sê sy laggend.

Step II, die skildery wat Sheree Young vir die SA Artist Magazine op aanvraag geskilder het om n waterverfproduk uit te toets.Foto: Verskaf

Dié vereniging, onder die vaandel van die International Watercolor Society Globe (IWS Globe­), beywer hom vir die aanmoediging van interaksie tussen Suid-Afrikaanse en internasionale waterverfkunstenaars.

Dit bied Suid-Afrikaanse kuns­tenaars ook ’n geleentheid om aan internasionale kunsuitstallings en kompetisies deel te neem.

Reeds meer as 80 lande is deel van die IWS Globe, wat hom daarop toespits om diversiteit en respek te bevorder ongeag die kunstenaar se ras, politieke uitkyk of geloof.

Young het ook verlede jaar aan drie afdelings van die kompetisie deelgeneem en is tóé ook as finalis bekroon.

“Dit kan net geweldig duur raak, want dit kan maklik tot R3 000 kos om jou werk oorsee te koerier en dan moet dit na afloop van die beoordeling weer terug Suid-Afrika toe kom,” verduidelik sy.

Young is in Desember deur Linda Hodnett, The South African Artist Magazine se redakteur, genader om ’n waterverf­demonstrasie met Daler-Rowney-waterverf aan te bied om die produk uit te toets.

“Dit was nogal ’n uitdaging, want sy het my op 3 Desember gekontak en die skildery moes op 13 Desember by hulle wees,” vertel Young.

“Vir my was die gebruik van die produk ’n uitdaging.

“Dit verg die regte interpretasie daarvan en die eindproduk is nie noodwendig wat jy in gedagte gehad het nie, maar ek was tevrede met die eindproduk.”

Young skilder sedert 2011 met waterverf en hoewel sy nie formele kunsopleiding ontvang het nie, skryf sy haar sukses met die medium toe aan verskeie bevoegde kunstenaars in Port Elizabeth wat haar touwys gemaak het asook jare se oefening deur boeke te lees en dan te eksperimenteer.

“Ek skilder ook met ander media, maar verkies waterverf se vloeibaarheid,” sê sy.

“Ek is al vir ’n aantal jare lid van die Oos-Kaapse Waterverfvereniging en is nou die bestuurder daarvan.

“My doel is om meer lede vir die vereniging te werf deur verskeie waterbasismedia nou ook as deel van die kriteria te aanvaar.”

Die uitstallings wat in die toekoms deur dié vereniging aangebied sal word, sal ook akriel, gouache en ink insluit.

Meer oor:  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.