Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
‘Sien die hande raak wat die stad help bou het’
Die installasie “Ongetiteld”, 2012 deur Nobukho NqabaFoto: Zeitz-kunsmuseum, Kaapstad

Huis of tuiste? Dit is wat die geruite wit-rooi-en-blou, of swart-wit-en-rooi plastieksakke waarin mense hul aardse besittings pak vir die jong kunstenaar Nobukho Nqaba beteken.

Die sak, ook genoem die China Bag, is te koop by ’n winkel soos Pep en word gebruik in Nqaba se installasie Izicwangciso Zezethu “Ons maak planne”.

Die werke is tot 20 Oktober in die Zeitz-museum vir Eietydse Afrikakuns (MOCAA), in die Silodistrik by die V&A Waterfront in Kaapstad te sien.

Sy het die sakke opgeknip en so handvatsels en al as muurpapier gebruik om die galery uit te plak, dit is ook gebruik om ’n verweerde klein tafeltjie en stoele oor te trek – so skep dit die gevoel van ontheemding, dat niks vas is in die wêreld nie, maar enige oomblik kan als verander en ’n lewe diep ontwrig. Als kan soos blits opgepak en vervoer word na die volgende “huis”.

Dit is soortgelyk aan haar lewe wat altyd in oorgang was, sê Nqaba onlangs op ’n media-rondleiding in die museum. As kind het sy van Butterworth in die Oos-Kaap na Grabouw en later na Khayelitsha in die Wes-Kaap getrek.

Die kunstenaar Nobukho NqabaFoto: Zeitz-kunsmuseum, Kaapstad

Nadat haar pa, ’n mynwerker in Johannesburg, afgelê is, moes haar ma werk soek. As sesjarige het Nqaba van Butterworth na Grabouw verhuis. Haar ma het hier op ’n appelplaas as ’n seisoenwerker gewerk. Hulle het in die Pineview-omgewing gewoon voordat hulle na ’n informele nedersetting in Khayelitsa getrek het.

“Ons het heeltyd tussen Grabouw en Butterworth gereis met dié sakke waarin al ons aardse besittings was. Die nommer 241 was ons bus. Almal het die sakke gebruik en het met maskeerband hul van daarop geskryf om dit te onderskei.”

Oor die jare het die sakke vir haar simbolies geword van migrasie, mense wat uitgestoot word en mense wat uit nood nie meer in hul vaderland bly nie.

“Dit is asof mense nou wêreldwyd verstoot word, nie net in ons land nie. Ek glo my werk spreek tot baie mense wat hierdie ontheemding en ‘othering’ aanvoel.”

’n Installasie van die bekende grys komberse met wit strepe het sy in mensefigure gevorm en doem op in die agterste hoek van die galery. Dit spruit uit ’n kindertydherinnering toe sy en haar ma alles in ’n verwoestende brand verloor het en hulle vir ’n ruk in ’n gemeenskapsaal gewoon het.

“Die regering het die komberse verskaf. Dit is die goedkoopste beskikbaar en is dun en nie eintlik warm nie. Almal het dieselfde gelyk met die komberse oor hulle gedrapeer.”

“Die regering het die komberse verskaf. Dit is die goedkoopste beskikbaar en is dun en nie eintlik warm nie. Almal het dieselfde gelyk met die komberse oor hulle gedrapeer.”

Voor in die installasie speel kinders oudergewoonte met ’n pa of ma in die nabyheid. Dit is egter of die ouer figure, gevorm uit die komberse, oor die toekoms wonder en in die niet staar met ’n houding van onrus.

“Soveel van my eie storie is die storie van baie mense wat in informele nedersettings woon.”

In ’n reeks photomontage-werke, foto’s wat uitgesny en geplak is, sien die kyker Nqaba se lewe van nog naderby. Een van die aangrypende werke is van haar pa se eenvoudige, gehawende plastiekstoel waarin hy gereeld gesit en dink het. Sy baadjie lê netjies gevou oor die rugleuning. “Daar is niks spesiaal aan die stoel nie, behalwe dat dit syne was. Ná sy aflegging by die myne het hy in Butterworth brandhout verkoop, al het mense op hom neergekyk, het hy aangehou om ons te versorg. My ma en pa het net vir ons gewerk.”

Sy het net een foto van haar pa – die foto wat in sy identiteitsboekie was. Die foto is in een van die werke aangebring.

Ek ken nie die mense wat Kaapstad help bou het nie, ook nie ander stede nie, maar ek sien daagliks hul handewerk. Met hierdie werk vier ek hulle.”

“Ek het geen foto’s van myself as baba of kind nie. Daar was net nie geld daarvoor nie. Ons het geen albums nie, geen dokumentasie van die lewe nie.”

Sy onthou dat die mure van hul hut altyd beklee was, die muurpapier was koerantpapier of die papiere van Koo-blikke – dit moes die wind en weer probeer uithou.

“Dit was die eerste teken dat ons ’n huis probeer skep, dat ons hier was om vir ’n tydjie te bly, dit (die muurpapier) het ook gereeld verander.”

In die nabygeleë Dusthouse-galery wat oorspronklik gebruik is om die werkers in die destydse graansilo waaruit die museum herskep is, te beskerm teen die stof, het sy nog ’n installasie aangebring met blou werkersoorpakke (“Blue Sams”), kruiwaens en ’n klankskap van werkers op ’n bouperseel.

“ ’n Mens assosieer dadelik ’n blou oorpak met werk, sonder om te dink. Die werker word ontneem van ’n identiteit. Niemand het beplan om ’n huiswerker te wees nie, hulle het ook drome gehad en na iets gestrewe.”

Met die werk wil sy die hande wat die stad gebou het, vier. “Ek ken nie die mense wat Kaapstad help bou het nie, ook nie ander stede nie, maar ek sien daagliks hul handewerk. Met hierdie werk vier ek hulle.”

Meer oor:  Kuns  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.