Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Sien Georgina Gratrix se reünie in Kaapstad

“Georgina Gratrix is een van die opwindendste en verbeeldingrykste jong kunstenaars in die Suid-Afrikaanse kontemporêre kunswêreld. Haar werke is speels en humoristies, tart en kritiseer. Kortom, sy keer die wêreld visueel op sy kop.”

Georgina Gratrix by ’n massiewe skildery in wording. Foto: Facebook

Só lui ’n inskrywing op die webtuiste van dié Kaapstadse kunstenaar.

Wat hier nie genoem word nie, is dat daar geen keer aan haar is wat kleur betref nie. Sy plak dit dik aan, helder en robuus in massiewe skilderye.

’n Keur van die opbeurende werke wat Gratrix van 2011 tot 2020 geskep het, kan nou in die Norval-stigtinggebou op die Steenberg-landgoed by Kaapstad besigtig word. Van die skilderye is deel van die stigting se permanente versameling, maar sy was ook genoodsaak om werke in private besit vir die uitstalling te leen.

Gratrix noem die uitstalling van 27 werke The Reunion wat volgens haar losweg drie temas verteenwoordig.

Die een vertoon portrette van bekende mense wat sy op sosialemediaplatforms gevind het, soos in koerante, gewilde TV-reekse, rolprente en tydskrifte.

Sy beskou hulle as argetipes en beeld hulle ook sodanig uit waarvan CEO (2014) ’n tipiese voorbeeld is – ’n wit manlike sakeleier. The Appraisers (2018), ’n groepportret wat op die Suid-Afrikaanse kunsbedryf sinspeel, pas ook heerlik by die tema in.

Die tweede tema behels uitbeeldings van Gratrix se familielede en vriende, asook selfportrette. Hierin is die mense se lyf verdraai, verwring en soms verby alle waarskynlikhede gemanipuleer.

Neem nou The History of Dad (2011). Die stoppelbaard-gesig is haas onherkenbaar, oortrek met oë en boonop met ’n strik in die hare. Die strik is ’n motief wat Gratrix dikwels in selfportrette gebruik. In die geval “verkondig” sy dat kunstenaarskap deel van haar pa se geskiedenis is en beklemtoon terselfdertyd hul sterk familiebande.

Ook deel van die tema is Nine weeks (2020), ’n reeks waterverf-selfportrette wat sy in die eerste 63 dae van die Covid-19-inperking gemaak het. Dit weerspieël haar gemoedsveranderinge in die tyd.

’n Versameling vriende en familie wat Georgina Gratrix se uitstalling The Reunion simboliseer. Foto: Facebook

Die derde deel bestaan uit Gratrix se eksotiese stillewes. Dié werke kom uit haar hart, sê sy. “Dit is meestal grootskaalse skilderye oordadig en vrolik gevul met kleurryke blomme en voëls.”

’n Voorbeeld hiervan is All the Birthdays Bouquet (2016) met afmetings van 2,44 m hoog en 4 m breed.

Party kunskenners beskryf haar stillewes as ikonoklasties, oftewel beeldbestorming, omdat dié genre oorwegend deur kleiner, intiemer werke verteenwoordig word.

Gratrix put kennelik soveel vreugde uit die onderwerp dat sy nie anders kan as om dit “uit te basuin” nie.

Die Norval-stigting, wat die uitstalling aanbied, het dr. Liese van der Watt as kurator van The Reunion genooi.

Sy is ’n Suid-Afrikaner wat kunsgeskiedenis aan die Universiteit van Kaapstad (UK) doseer het voordat sy in 2007 na Londen verhuis het. Daar het sy haar vinger op die pols van ontwikkelings in die visuele kunste wêreldwyd, terwyl sy ook ’n goeie begrip het hoe die huidige Suid-Afrikaanse kunstoneel daar uitsien.

Gratrix in ’n neutedop

Gratrix se ouers is kranige wêreldreisigers wat meegebring het dat sy in 1982 in Mexiko gebore is. Sy het egter in Durban grootgeword en aan die gevierde Michaelis-kunsskool aan die UK studeer waar sy in 2005 gegradueer het.

Sy het sedertdien twee keer ’n kunsteverblyf ontvang, van die Ampersand-genootskap in New York en die Centro de las Artes Augustín in Oaxaca, Mexiko.

In 2018 is sy met die Discovery-prys op die 50ste herdenking van Art Brussels vereer vir haar uitstalling in die SMAC-galery in Brussel, België.

Benewens solo- en groepuitstallings in verskeie stede in Suid-Afrika, was haar werke ook al op uitstallings in Berlyn, Amsterdam, Los Angeles, New York, Milaan en in Oaxaca.

  • The Reunion kan tot 31 Mei in die Norval-stigtinggebou op die Steenberg-landgoed by Kaapstad besigtig word. Belangstellendes word versoek om ’n tydgleuf van ’n uur te bespreek. Nie-stigtinglede betaal R120 vir ’n toegangskaart wat by ontvangs afgehaal kan word. Bespreek by http://bit.ly/TheReunionGeorginaGratrix.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.