Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Siopis takel mens se rol op aarde

’n Mens kan jou vergaap aan Penny Siopis se jongste tentoonstelling, Warm Water Imaginaries – sintuiglik en intellektueel daag dit uit. Johan Myburg het gaan kyk.

Penny Siopis, Blue Blood, 2018, houtlym, ink en olie op doek (100 x 100 cm).

Vir Penny Siopis is “materialiteit op sigself, sonder twyfel, net soveel beeld en konsep as wat enige voorgestelde ‘subjek’ ook al mag wees”, het Colin Richards in 2010 in ’n opstel oor Siopis se werk opgemerk. Van die akkuraatheid van dié waarneming raak ’n mens weer bewus by die intrap by Warm Water Imaginaries, haar jongste uitstalling, waar ’n mens allereers groot doeke met houtlym, ink en olie as medium teëkom.

Maar dié gewaarwording is ook waar van Warm Waters, 84 tekeninge in dieselfde media, in dié geval op papier; She Breathes Water, ’n videowerk wat op ’n monitor vertoon word, maar ook teen die muur geprojekteer oor twee groot doeke spoel; en Tentacular Time, ’n installasiewerk met boeke, koerantknipsels en “gevonde voorwerpe” wat in werklikheid Siopis se kosbare versamelstukke is.

Met die nadruk op materialiteit en daarmee saam praktyk (die proses van kuns maak) is niks werklik finaal afgehandel nie, laat Siopis blyk. Derhalwe kom voorwerpe, uitdrukkingsvorms, temas en verwysings wat ’n mens vroeër al in haar werk gesien het, weer na vore. In nuwe gedaantes, maar in wese is dit dieselfde visuele veld wat sy verken.

In dié jongste uitstalling kom die element van klimaatsverandering ter sprake, juis omdat die werk gemaak is op uitnodiging om deel te neem aan Rising Waters: The Indian Ocean in the Twenty-first Century, ’n groepuitstalling wat volgende jaar in Boston aangebied word. Heelwat van die groot doeke het verwysings na water in die titels, hoewel dié meer abstrakte werk met minder figuratiewe verwysings wyer gelees kan word as die verwysing na die Boston-uitstalling.

In die skildery met die titel She Breathes Water is dit die seekat wat in skakerings wat wissel van geel tot pers haar verskyning maak en in die gelyknamige videowerk aan die woord kom as die lewensvorm wat “nege breine, agt arms en drie harte” het. Dit is die mens wat in dié video aangevat word – dié een wat nie net minder brein het nie, maar ook minder hart; die mens wat willens en wetens die natuur aan hom onderwerp, en in die proses beduiwel.

Dit is die mens wat in dié video aangevat word – dié een wat nie net minder brein het nie, maar ook minder hart; die mens wat willens en wetens die natuur aan hom onderwerp, en in die proses beduiwel.

Dié menslike figuur kry gestalte in die groot skildery Wave; ’n stuwing van water waarin die figuur as drenkeling as’t ware uitgeskei word. “Kan jy die wêreld voorstel sonder jou,” is die aanklag in die videowerk wat saam met dié golf as’t ware in die lug bly hang.

Penny Siopis, Present Continuous: Hot Water, 2019, houtlym en ink op doek (190 x 190 cm) Foto’s: Penny Siopis© met vergunning deur Stevenson Kaapstad en Johannesburg

Meer as net die aandeel in omgewingskwessies kom die mens as agent van slawerny, kolonialisme en imperialisme ook te berde, ondersteun deur ’n magdom verwysings in Tentacular Time: Amitav Ghosh se The Great Derangement: Climate Change and the Unthinkable, maar ook Sea of Poppies; Sy Montgomery se The Soul of an Octopus en Claire Nouvian se The Deep: The Extraordinary Creatures of the Abyss. Saam met dié verwysings en terugkerende objekte soos St. Escrava Anastacia (uit Will van 1997) en die heilige Franciskus wat horisontaal op ’n doek gemonteer word, weef Siopis noukeurig ’n treknet wat kreature van allerlei aard en verbeelde werklikhede na die oppervlak bring.

Die Warm Water Imaginaries verwys gewis na die warmer Indiese Oseaan, maar die verwysing na die warm water waarin ons ons bevind, gaan nie aan ’n mens verby nie.

Warm Water Imaginaries is die soort uitstalling waaraan ’n mens jou vinnig op ’n sintuiglike vlak kan vergaap – ten opsigte van tekstuur, vorm, kleur – maar eweso waar ’n mens ure kan deurbring om al die verwikkeldhede te probeer naloop.

Die uitstalling is te sien tot 3 Mei. Die Stevenson-galery is by Jutastraat 62, Braamfontein. Navrae: 011 403 1055. Die galery is oop van Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 17:00 en Saterdae van 10:00 tot 13:00.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.