Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Sitstakers gaan ná kunsteraad vir Mthethwa ‘kuier’

Die sitstaking by die Nasionale Kunsteraad (NAC) – wat die kunste-administrateur Ismail Mahomed as “een van die belangrikste gebeurtenisse in Suid-Afrikaanse kultuurgeskiedenis ná 1994” beskryf het – het amptelik ten einde geloop.

’n Skermgreep van die video waarin die operasangeres Sibongile Mngoma (regs) die einde van die sitstaking aankondig. Foto: Facebook

Die operasangeres Sibongile Mngoma, wat die sitstaking op 3 Maart op haar eentjie begin het, het die kunsteraad se kantore in Newtown, Johannesburg, oor die naweek saam met sowat 20 ander kunstenaars verlaat.

Mngoma en die ander sitstakers, wat tydens die sitstaking die groep Abahlali gevorm het, het vir 58 nagte onder tafels in die kunsteraad se raadsaal oornag om teen die kunsteraad se wanbestuur van R300 miljoen se noodfinansiering vir sukkelende kunstenaars te betoog.

Netwerk24 het sedert November breedvoerig berig dat die kunsteraad dié finansiering danksy die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang het en veronderstel was om dit teen Desember aan kunstenaars uit te betaal. Die kunsteraad kon egter weens ’n “wiskundige fout” teen Dinsdag (4 Mei) slegs R201 miljoen uitdeel.

Dié vertraging én uitbetalings aan kunstenaars wat veel minder is as wat hulle aanvanklik in kontrakte belowe is, het landwyd tot ongelukkigheid en uiteindelik ook die sitstaking gelei.

Mngoma het Vrydag in ’n afskeidstoespraak gesê “die tyd het aangebreek vir ons om aan te beweeg” – nie net omdat haar regspan die kunsteraad se wanbestuur onder die openbare beskermer en die Valke se aandag gebring het nie, maar omdat sy en die res van Abahlali “nog die res van die reis moet onderneem”.

Dié “reis” verwys na ’n betoging wat Mngoma op 23 Februarie gesê het sy op haar eentjie by die kunsteraad, die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (NFVF), die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Musiekregte (Samro) én die nasionale departement van sport, kuns en kultuur (DSAC) gaan hou om haar stem dik te maak oor kunstenaars in die land wat tydens die pandemie deur dié organisasies en agentskappe versaak is.

“Die plan was om een dag by elk van dié plekke deur te bring – maar die NAC het ons op die een of ander manier vir 59 dae besig gehou,” het sy in die toespraak gesê.

“Ons moet dus nog die res van die reis onderneem en vir dit om te gebeur moet ons hierdie gebou (die kunsteraad) verlaat. Hulle (die NFVF, Samro en die DSAC) het ontspan en gedink ons is klaar. Nee, ons is nie klaar nie, ons kom steeds vir julle.”

Ons minister (Nathi Mthethwa) moet hom vir ’n kuiertjie met Abahlali voorberei. Dit gaan van hom afhang of dit ’n dag of 60 dae lank gaan wees.
Sibongile Mngoma

Sy sê hoewel hulle heel laaste by die DSAC wou omgaan, is dit hul volgende “bestemming” weens “die nood van die saak”.

“Ons minister (Nathi Mthethwa) moet hom vir ’n kuiertjie met Abahlali voorberei. Dit gaan van hom afhang of dit ’n dag of 60 dae lank gaan wees.

“Ons is nog nie klaar nie. Dit is net die begin. Ons het nog baie om te doen, nog baie om te verander. Niks gaan ons bang maak nie, want daar is niks om voor bang te wees nie. Ons het ’n reg om te betoog, om op antwoorde aan te dring. Ons is burgers van hierdie land en niemand gaan ons anders oortuig nie.

“Ons gaan Samro en die NFVF eers uitstel, maar moenie rus nie, Samro, julle volg ná die DSAC. Ons moet net nou eers ’n klein pow-wow met die minister gaan hê, want ons sit nog nie om dieselfde vuur nie.”

Sy het nie gesê wanneer hulle beplan om by die departement se kantore in Johannesburg om te gaan nie, bloot dat dit ook ’n verrassingsbesoek soortgelyk aan dié aan die kunsteraad sal wees.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, is volgende in die sitstakers se visier. Foto: Getty Images

Mngoma het kunstenaars, organisasies en die media, plaaslik en in die buiteland, bedank vir hul steun tydens die sitstaking, ook dié wat vir hulle onder meer lugtyd, kos en toiletware aangedra het.

“Ek wil ook vir Abahlali – die ware helde in hierdie verhaal – bedank. Hulle was vasberade, veerkragtig en gefokus. Daar was baie storms – wat in ’n beperkte ruimte oor ’n tydperk van 60 dae te wagte is. Ons was, soos iemand gesê het, in eensame opsluiting. Dít is ’n straf, maar dit is een wat ons gekies het – ’n keuse waarmee ons gesê het genoeg is genoeg.”

Kunsteraad-kantore ‘moet eers ontsmet word’

Tshepo Mashiane, een van die kunsteraad se direksielede en die direksie se woordvoerder, het Dinsdag aan Netwerk24 gesê hy is nie seker of ’n mens werklik van “die einde van die sitstaking” kan praat nie, juis omdat hulle steeds onverpoosd besig is om die PESP-noodfinansiering uit te deel.

“Ek kan bevestig dat 1 260 van 1 331 begunstigdes reeds betaal is. Elke begunstigde kry net 70% van die bedrag wat hulle verskuldig is – die laaste 30% sal hulle kry sodra die projek wat hulle met die geld finansier voltooi is.”

Hoewel die sitstakers die raadsaal ontsmet het, sê Mashiane die kunsteraad se kantore is tans toe omdat die gebou se bestuur al die fasiliteite nagaan om vas te stel of die sitstakers enige skade aangerig het.

“Die hele gebou sal ook eers ontsmet word voordat dit heropen. Intussen werk die kunsteraad se werknemers volstoom van die huis af.”

Hy sê die kunsteraad het nog nie ’n onderneming aangestel om ’n forensiese ondersoek oor die PESP-debakel te doen nie. Rosemary Mangope, die kunsteraad se hoof, en Clifton Changfoot, finanshoof, wat albei weens die PESP-kwessie in Februarie geskors is, sal hangende die ondersoek geskors bly.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.