Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Sitstakers moet uit raad se kantore, sê hof

Dit is amptelik: Die sitstakers wat sedert 3 Maart in die Nasionale Kunsteraad (NAC) se kantore in Johannesburg betoog teen die wanbestuur van R300 miljoen se noodfinansiering, moet die perseel dadelik verlaat.

Regter Motsamai Makume (regs bo) het die saak Vrydag via Microsoft Teams aangehoor.

Regter Motsamai Makume het Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg ’n interdik aan die kunsteraad toegestaan nadat adv. Willem Bezuidenhout, vir die kunsteraad, en adv. Nathi Gaisa, vir die sitstakers, oor die aansoek tougetrek het.

Makume het eindelik in Bezuidenhout en die kunsteraad se guns beslis.

Volgens Makume se bevel moet die sitstakers die kunsteraad se kantore in Newtown dadelik verlaat; hulle mag nie weer die perseel betree nie; hulle mag nie enige van die kunsteraad se werknemers, verteenwoordigers of subkontrakteurs mondelings of met geweld intimideer of dreig nie; en hulle mag ook nie enige toerusting of enige van die kunsteraad se besittings verniel of beskadig nie.

As hulle enige van dié bevele oortree, kan die balju volgens Makume se bevel enige “relevante liggaam”, soos die polisie, vra om “nodige bystand” aan die kunsteraad te verleen sodat dié reëls nagekom word.

“Ons vertrou hulle (die sitstakers) sal die hof se uitspraak respekteer,” sê Bezuidenhout aan Netwerk24.

Die operasangeres Sibongile Mngoma, wat die sitstaking op haar eentjie begin het, het egter kort ná Makume se uitspraak in ’n regstreekse uitsending op Facebook gesê sy en die sowat 20 ander sitstakers gaan nêrens heen nie. Mngoma sê as die kunsteraad hulle nie steur aan kontrakte wat hulle met kunstenaars sluit nie, hoef sy haar nie aan ’n interdik te steur nie.

“As julle die polisie wil bring, die Rooimiere, enigiemand, ons is hier,” sê sy.

“Ek nooi al die media en enige kunstenaars uit om ons uitsetting uit die kunsteraad te kom aanskou, want ons gaan nêrens heen nie. Ons gaan nêrens heen nie!”

Dr. Sipho Sithole, een van die kunsteraad se direksielede, het Vrydag op ’n mediakonferensie gesê hulle verwelkom die hof se uitspraak.

“Ons hoop hulle gehoorsaam die hof se bevel en dat dit nie nodig sal wees om dit af te dwing nie – die regter het vir ons opsies gegee.

“Die direksie bly daartoe verbind om die hele PESP-proses (die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping) af te handel.”

Ek nooi al die media en enige kunstenaars uit om ons uitsetting uit die kunsteraad te kom aanskou, want ons gaan nêrens heen nie. Ons gaan nêrens heen nie!
Sibongile Mngoma

Netwerk24 het reeds breedvoerig berig dat die kunsteraad R300 miljoen as deel van die PESP ontvang het, maar dat die uitbetaling daarvan aan kunstenaars weens ’n “wiskundige fout” vertraag is. Die kunsteraad het kontrakte met 613 van 1 374 begunstigdes gesluit, voordat hy besef het hy ken te veel geld aan elke begunstigde toe – en dat hy nie eintlik ’n sent vir die oorblywende 761 begunstigdes oor het nie.

Die kunsteraad se direksie het toe besluit om bloot die bestaande kontrakte te wysig en vir elke begunstigde tot 70% minder te betaal as wat hulle aanvanklik belowe is.

Dít het tot die sitstaking aanleiding gegee wat Mngoma op 1 Maart begin het, op dieselfde dag onderbreek het, en op 3 Maart onverpoosd hervat het. Sy het teen Vrydag reeds 37 nagte onder ’n tafel in die kunsteraad se raadsaal oornag om teen die kwessie te betoog.

Meer oor:  Pesp  |  Sipho Sithole  |  Rooimiere  |  Sibongile Mngoma  |  Nasionale Kunsteraad  |  Nac
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.