Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Sitstakers stig ’n amptelike organisasie

Die sitstakers wat vroeër vanjaar vir 60 dae in die Nasionale Kunsteraad (NAC) se kantore in Johannesburg betoog het teen die wanbestuur van R300 miljoen se noodfinansiering, het hulle amptelik as ’n organisasie sonder winsbejag geregistreer.

Abahlali base NAC, die naam wat die sitstakers hulself gegee het, is na die Abahlali Movement Drive (AMD) verander. “Abahlali” beteken “bewoner” of “gemeenskap”.

Luidens ’n mediaverklaring het die AMD ook die protesliedjie “Hoya Rona” (“Laat ons, dié met veggees, gaan”) as hul amptelike lied aangeneem omdat hulle voortaan “sake as ’n amptelike protesaksie-groep gaan doen”.

Yuhl Headman, AMD se woordvoerder, sê aan Netwerk24 die sitstakers het besluit om die amptelike roete te volg omdat die regering na hul mening “geneig” is om slegs met geregistreerde organisasies in gesprek te tree – nie individuele kunstenaars nie.

“Daar is ook wetlike voordele,” sê Headman.

“Dit was voordelig om die AMD te registreer omdat ons ook nou kan aansoek doen om kunsprogramme te begin en ander aktiwiteite te loods.”

Wat presies dié aktiwiteite is, wil Headman nog nie sê nie. Die organisasie gaan binnekort sy aksieplan en doelstellings bekend stel en daarmee saam ook aankondig hoe kunstenaars lede van die organisasie kan word.

“Ons wil hê AMD moet in elk van die nege provinsies en in elke distrik in Suid-Afrika verteenwoordig wees sodat ons in gesprek kan tree met al drie sfere van die regering (plaaslik, provinsiaal en nasionaal).”

Headman sê dat die operasangeres Sibongile Mngoma, wat op 1 Maart die sitstaking in die kunsteraad op haar eentjie begin het en eindelik vir 58 nagte onder ’n tafel in hul raadsaal geslaap het, ook steeds lid van AMD is.

“Die kerngroep en die meeste van die lede wat die sitstaking uitgevoer het, is steeds lid van die organisasie – nuwe kunstenaars het hulle ook reeds aangesluit, so dit is veilig om te sê ons groei daagliks, wat nog ’n rede is vir hoekom dit belangrik was vir ons om onsself as ’n entiteit te vestig.”

Mngoma het voorheen gesê sy en die res van die sitstakers sal in die toekoms soortgelyke “besoeke” as dié by die kunsteraad aflê, onder meer by die nasionale departement van sport, kuns en kultuur (DSAC), die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie (Samro) en die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (NFVF).

AMD sê in sy mediaverklaring hy hou ook ’n oog op die Nasionale Loterykommissie (NLC), wat volgens hom kunstenaars in hul tyd van nood versaak het.

• AMD sê in ’n bykomende verklaring hy is verheug om te verneem dat die hooggeregshof in Johannesburg die kunsteraad se aansoek om verlof tot appèl in sy hofstryd met die Nasionale Kunstefees (NAF) geweier het.

Netwerk24 het voorheen berig dat die kunsteraad as deel van die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) R8 miljoen in ’n kontrak aan dié fees toegeken het, maar weens ’n “wiskundige fout” ’n ommeswaai moes maak en ondanks die kontrak nie meer as R3 486 400 aan die fees wou uitbetaal nie.

Die fees se bestuur het die kunsteraad twee keer in die hof oor die aangeleentheid uitgedaag – en albei kere as oorwinnaar uit die stryd getree. Die hof het beslis die kunsteraad se aanvanklike kontrak is bindend en dat hulle die feesbestuur daarom die volle bedrag van R8 miljoen skuld.

Die kunsteraad het aansoek om verlof tot appèl gedoen, maar dit is op 7 Julie geweier.

AMD sê in ’n verklaring hy “hoop regtig die kunsteraad hou nou op om ons geld te mors en dat hulle die NAF en ander kunstenaars en organisasies die geld sal betaal wat aan hulle verskuldig is”.

Meer oor:  Nlc  |  Nasionale Kunstefees  |  Naf  |  Samro  |  Dsac  |  Sibongile Mngoma  |  Nfvf  |  Nasionale Kunsteraad  |  Nac
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.