Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Skaars bronsbeeld uit Van Wouw se vroeë jare opgeveil
Skaars bronsbeeld deur Anton van Wouw
De Vogelaar deur Anton van Wouw.

’n Skaars bronsbeeld deur Anton van Wouw, wat as Suid-Afrika se eerste groot beeldhouer beskou word, word vandeesmaand deur Stephan Welz & Co. opgeveil.

De vogelaar is een van Van Wouw se vroegste beelde wat in Suid-Afrika bekend is, en die waarde word op R800 000 tot R1,2 miljoen geraam.

Die beeld is een van net twee wat in privaatbesit is.

Still Life with Poinsettias deur Maggie Laubser.

Dit word op 26 en 27 Augustus by die Killarney-buiteklub in Johannesburg opgeveil.

Dit is onlangs in Johannesburg onthul nadat dit jare lank deel van ’n privaatversameling was.

Study for Still Live with Tulips deur Maggie Laubser, wat op die agterkant van die skildery Still Life with Poinsettias pryk.
Fruit and Flower Sellers, Grande Comoro deur Walter Battiss.

Die Nederlands-gebore Van Wouw het dié beeld van ’n jong seun met ’n pet en klompe in die 1880’s gemaak voordat hy hom in die 1890’s op 28 jaar oud in Pretoria gevestig het.

Vanuit ’n kunsoogpunt gee De vogelaar Van Wouw se vaardighede in sy vroeë 20’s weer, sê Luke Crossley, kenner van visuele kuns by Stephan Welz & Co.

“Jy kan reeds sy begrip van vorms en sy modellering van die figuur opmerk; die klere, die fyn detail, soos die knope op die seun se jas. ’n Mens kan ’n persoonlikheid op die seun se gesig waarneem. Hierdie vroeë werk toon hoe die kunstenaar ontwikkel het tot die Anton van Wouw wat ons vandag ken. ’n Klomp van sy artistieke elemente is sigbaar.”

Van Wouw is in 1945 dood.

Die beeld kom voor asof die seun fluit om voëls te lok.

Voorheen was ’n stok in die seun se regterhand deel van die beeld. Dit is ’n stok waarop die voëls moes gaan sit, maar dit het verlore geraak. Dit is glo ook die geval met ’n ander beeld van De vogelaar wat in privaatbesit is.

Dit doen egter nie afbreuk aan die waarde van die beeld nie, sê Crossley.

Skilderye deur Maggie Laubser en Walter Battiss kom ook onder die hamer.

Die werk deur Laubser (1886-1973) is op albei kante van die doek geskilder. Still Life with Poinsettias pryk op die voorkant en Study for Still Live with Tulips is op die agterkant.

Die agterste deel is ontdek toe die eienaar dit in die 1970’s weer laat raam het. Laubser het die werk in 1933 as ’n geskenk aan die eienaar se grootouers gegee. Dit word op R300 000 tot R500 000 geraam.

Fruit and Flower Sellers, Grande Comoro is ’n olieverfskildery deur Battiss (1906-1982) wat vir die eerste keer deur Stephan Welz & Co. opgeveil word.

Battiss het dit geskilder op sy reise na talle Afrika-eilande. Dit word op R600 000 tot R800 000 geraam.

* Die veiling op 26 en 27 Augustus begin albei die dae om 10:00.

* Voorskoue van die werk op die veiling word van 23 tot 25 Augustus van 10:00 tot 17:00 aangebied.

* Crossley bied op 24 Augustus om 11:00 ’n rondleiding aan. * Die adres: 5de Straat 60, Houghton Estate, Johannesburg.

Besoek swelco.co.za, skakel 011 880 3125 of stuur ’n e-pos aan info@swelco.za vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.