Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
SA skilder dood in verjaardag-naweek
Alice Elahi Foto: Argief

Die Suid-Afrikaanse skilder Alice Elahi is die afgelope naweek in Pretoria dood. Dit is nog onbekend of sy Sondag op haar 94ste verjaardag beswyk het.

Elahi se dogter Nushin het die nuus namens haar en haar susters, Roshana en Shirin, in ’n inskrywing op Facebook gedeel.

“Dit is met groot hartseer dat ek, Roshana en Shirin moet skryf dat ons geliefde ma, Alice Elahi, laasnag sagkens heengegaan het,” het Nushin Sondag op Elahi se verjaardag geskryf.

“Vandag (Sondag) is haar verjaardag, en ons vier dit dat sy die vryheid gevind het om op dié spesiale dag op een laaste avontuur na die onbekende te vertrek.

“Ons vier ook haar ongelooflike lewenslus, wat aan die einde net in die glinstering van haar oë en haar wrang sin vir humor waarneembaar was.”

Nushin skryf dat die agteruitgang van haar ma die afgelope paar jaar “stadig en baie hartseer was”.

“Maar sy het deurgaans nooit haar liefdevolle geaardheid en belangstelling in ander verloor nie. Dit was moeilik om te sien hoe die ouderdom so ’n vurige gees getem het, ons is dus verlig dat sy aanbeweeg het, maar soos sy altyd gesê het: ‘Ek het ’n goeie lewe en soveel pret gehad!’ ”

Besonderhede oor ’n gedenkdiens in die Pretoriase kunsmuseum sal later bekend gemaak word.

‘Yachts at Night’ (1975) deur Alice Elahi. Foto: Argief

Elahi is in 1926 in Kaapstad gebore en het ’n graad in die natuurwetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.

Volgens ’n artikel in die tydskrif Our Art 4 was sy tydens haar wetenskapstudies sekretaris van die universiteit se kunsvereniging, wat haar in kontak met vooraanstaande Kaapse kunstenaars soos Jean Welz, Alfred Krenz en Gregoire Boonzaier gebring het.

Sy het daarna aan die Continental-kunsskool in Kaapstad en die Camberwell-kunsskool in Londen studeer, voordat sy en haar man, Nasrollah, hulle in Pretoria gevestig het.

Sy het in 1968 die eerste prys in die New Signatures-kunskompetisie gewen en in 1972 haar eerste solo-uitstalling in Sunnyside gehou.

Sy het haar sedertdien gevestig as een van Suid-Afrika se voorste landskapkunstenaars, en is veral bekend om haar seeskappe van die Kaapse kus en landskappe van die Namibiese woestyn.

“Sy het elke jaar op lang ‘skilderreise’ gegaan en teruggekom met ’n bondel nuwe en opwindende werke, wat op gereelde uitstallings by haar huis vertoon is,” sê Dirk Oegema, hoof van die Pretoriase kunsmuseum, aan Netwerk24.

“Vir bykans 50 jaar het sy die Afrika-landskap vasgevang, haar waterverfwerke in situ geskilder en die stemming van die land gedokumenteer,” sê hy.

“Sy was ’n skilder van landskappe, seeskappe en blomstudies, en het in waterverf en olie gewerk.”

Volgens Oegema is van haar kunswerke in die permanente versameling van die Pretoriase kunsmuseum opgeneem. ’n Belangrike retrospektiewe uitstalling van haar werk is in 2014 daar aangebied.

Meer oor:  Kuns  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.