Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Skilder gee skildery van Bo-Kaap aan Harry, Meghan

Die kunstenaar Jan du Toit het erfenis bo ’n kommersiële beeld van die Bo-Kaap gekies toe hy gevra is vir ’n skildery van dié karaktervolle buurt in Kaapstad as geskenk aan prins Harry en sy vrou, Meghan, se besoek aan die stad.

’n Uitsig op Leeukop van die Stadzicht-huis in Stadzichtstraat in die Bo-Kaap. Jan du Toit het die skildery van olieverf op perspeks vir die Sussex-egpaar geskep.
Die kunstenaar Jan du Toit uitgevat vir prins Harry en sy vrou, Meghan, se besoek aan die moskee in die Bo-Kaap.

“Ek het twee werke geskilder, maar kon dit nie oor my hart kry om die eerste een te gee nie. Dit was net te kommersieel. Toe besluit ek op die uitsig wat ’n mens van die Stadzicht-huis op Leeukop het. Stadzicht was een van drie plase waaruit die Bo-Kaap ontstaan het, en soos ons almal weet, het die gemeenskap ’n sterk invloed op die hele Suid-Afrikaanse kultuur gehad, van argitektuur en taal tot kos en sosiale gebruike,” sê Du Toit.

Dié inligting het hy agterop die skildery in Engels geskryf.

Sy enigste versoek in ruil vir die skildery was om die Sussex-egpaar persoonlik te ontmoet, waaraan voldoen is met ’n amptelike uitnodiging na die moskee-besoek in die Bo-Kaap. “Dit was egter onmoontlik om hul hand te skud. Elkeen wil ’n stukkie van hulle hê en ek kon nie betyds deur die gedrang voor kom nie.”

Du Toit se gunsteling-medium is olieverf op perspeks en dit is ook wat hy vir die “koninklike” skildery gebruik het. Daarmee kon hy die Ooste, van waar die Maleiers kom, en die Weste simbolies met mekaar versoen. Hy verduidelik: “Op glas en perspeks verf ’n mens van regs na links, soos wat van die volke in die Ooste skryf. Dan draai jy dit om om die uitbeelding te sien en dit ‘lees’ van links na regs, soos ons hier in die Weste skryf.”

Du Toit se enigste versoek in ruil vir die skildery was om die Sussex-egpaar persoonlik te ontmoet, waaraan voldoen is met ’n amptelike uitnodiging na die moskee-besoek in die Bo-Kaap.

Du Toit woon die afgelope drie jaar in die Bo-Kaap en is ’n aanhanger van die Maleise gemeenskap se geskiedenis, kultuur en van I.D. du Plessis wat graag oor hulle gedig het. Hy het ook ’n geweldige waardering vir die inwoners se outydse waardes. “Hier kan jy nog gou ’n ui vir vanaand se kos by jou buurvrou leen. ’n Mens kom ook onder die indruk van hul kennis van hul geskiedenis. So het hulle my vertel een van die vorige eienaars van my huis ’n hele klompie jare gelede was Pappa Tande, so genoem omdat hy valstande gemaak het. Sy broer, Yusuf Ali, was die kitaarspeler vir die Griekse sanger Nana Mouskouri.”

Du Toit het op ’n plaas naby Tulbagh grootgeword, in Kaapstad kuns gestudeer en skilder die afgelope 20 jaar heeltyds. Aanvanklik het hy beeldhouwerk verkies, maar dit het plek gemaak vir abstrakte skilderye en toe vir landskappe en stillewes.

Sy werke is te sien op Instagram en sy webtuiste jandutoit.com.

Meer oor:  Harry  |  Meghan  |  Kuns  |  Bo-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.