Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Skilder Kaffie Pretorius (79) sterf
Kaffie Pretorius voor een van haar Weskus-tonele met malgasse op die voorgrond. Die foto is in 2016 geneem, kort voor haar oorsigtentoonstelling in die Oude Libertas-galery in Stellenbosch. Foto: Verskaf

Die skilder en skrywer Kaffie Pretorius (79), bekend om haar kleurryke Weskus- en Strandveldtonele, is Maandagmiddag in die Stellenbosch Mediclinic aan kanker dood.

Haar loopbaan het oor meer as 50 jaar gestrek en sy was ’n produktiewe kunstenaar, wat wyd in Suid-Afrika uitgestal het en wie se werk in talryke plaaslike versamelings ingesluit is.

“Pretorius het ’n sterk eie stem in die Suid-Afrikaanse kuns. Sy sou ’n streekkunstenaar genoem kon word. Haar skilderye is ’n unieke kombinasie van visuele smaak, psigologiese insig en poëtiese aanvoeling,” het Amanda Botha, kunskenner en ’n vriendin van Pretorius, in ’n artikel vir Netwerk24 geskryf.

Dit is gepubliseer kort voor Pretorius se laaste oorsigtentoonstelling in 2016 in Stellenbosch. Volgens Botha was Pretorius nog drie maande gelede flink aan die werk voor haar esel om skilderye te voltooi.

“Sy was ’n plat op die aarde mens, sonder aansit of so, sy het lekker gekook en het ’n wye vriendekring van Nederland, Amerika, Engeland en Suid-Afrika. Sy kon nog onlangs haar geliefde Lambertsbaai besoek,” sê Martie Meiring, ’n jare lange vriendin.

Pretorius is in 1941 in Lambertsbaai gebore (haar doopnaam was Marena) en het haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Bloemhof voltooi. Daarna het sy ’n onderwysgraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Sy het haar kunsopleiding aan die kunsskool Michaelis by die Universiteit van Kaapstad onder leiding van André van Zyl ontvang. Sy het ook vir kort tye aan kunsskole in Los Angeles, Amsterdam en Leuven haar talent geslyp, waar haar man, René, met tye as kernfisikus gewerk het.

Sy het graag haar hartsplekke geskilder.

“Die Weskus, die Sandveld, spesifiek Lambertsbaai. Dit was haar kleintydse speel- en leefwêreld en die matrys waarvolgens sy haar gang as mens en kunstenaar gerig het.

De kunstenaar Conrad Theys en Kaffie Pretorius. Foto: EikestadNuus

“In wese is haar werk ’n aaneenlopende dialoog met haar Weskus-verlede. Sy tree in gesprek met die omgewing waar sy grootgeword het en kind was. Sy verbeeld ’n wêreld waarin sy terugverlang na ’n tyd van onskuld – ’n ongerepte landskap waar mense eenvoudig, opreg en eerbaar geleef het,” skryf Botha.

In ’n onderhoud het die kunstenaar gesê: “Ek bly in my werk net kind en ek hou net aan met speel in die veld en by die see. Ek is die plek en die plek is ek – die veld, die see!”

Haar skilderye was bevolk met boerbokke, katte, visse, blomme en vrugte. Volgens Botha is dit alles simbole met bepaalde betekenisse. Die mens-dier-verhouding het die kunstenaar geboei.

Malgasse op Voëleiland, neffens die visfabriek op Lambertsbaai, is die onderwerp van baie van Pretorius se skilderye. Sy het die voëls as ’n simbool van vryheid beskryf, sê Botha.

Sy word oorleef deur haar man, René Pretorius, eertydse professor in kernfisika aan die Universiteit Stellenbosch, drie kinders en haar tweelingsuster, Boetie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.