Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Skildery van Walter Meyer ná sy dood aan FAK geskenk
Die ouers van die skilder Walter Meyer het sy prestigeprys wat die FAK postuum aan hom toegeken het, in ontvangs geneem. Hugo en Sonja Meyer van Pretoria het ook 'n skildery wat Meyer van die terrein van die Bethulie-konsentrasiekamp gemaak het, aan die FAK geskenk. Hier staan hulle by die skildery op die geleentheid in Pretoria. Foto: Verskaf

Die kunstenaar Walter Meyer se skildery van die terrein van die Bethulie-konsentrasiekamp, waar duisende vroue en kinders dood is en waar sy oumagrootjie aangehou is, is aan die FAK geskenk.

Walter se ouers, Hugo en Sonja, het die skildery aan die FAK geskenk toe hulle die organisasie se prestigeprys, wat postuum aan hul seun toegeken is, in ontvangs geneem het.

Die wêreldbekende skilder is op 22 Desember 2018 in Upington in hul huis dood ná ’n woordewisseling met sy vrou, Sophia.

Sonja het gesê Walter het sy talent van haar ouma, Hester Coetzee, gekry.

Hester was saam met haar ma, Marie, in die Bethulie-konsentrasiekamp wat Walter gereeld besoek het en waar hy ’n oomblik op doek vasgevang het. Sy is later met ’n ds. I.D. Kruger getroud.

Hugo het met die oorhandiging van die skildery aan prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, gesê Walter het klem gelê op die groot stuk blou lug bó die veld waar die konsentrasiekamp vroeër was.

“Hy het graag daar rondgeloop (toe hy in Bethulie gewoon het) en goed opgetel wat vir hom belangrik en interessant was. Hy het die skildery onderteken en dit is wat ons aan die FAK oorhandig.”

Die skilder Walter Meyer het hierdie skildery van ’n toneel in die Kruger-wildtuin vir sy pa, Hugo, geskenk. Foto: Verskaf

Sy ma sê die emosies het haar ná sy dood oorweldig as sy verby sy werke gestap het.

“Ek het in ’n stadium gevoel ek wil nie sy skilderye sien nie. Só een is die skildery van ’n rooiborsduifie wat hy op my 70ste verjaardag vir my geskilder het. Daarop het hy geskryf: Vir Ma.”

Hugo het gesê sy seun se verstommende vermoë om die kleure van die lug vas te vang, maak enige skildery van Walter waarop die lug pragtig uitgebeeld word, sy gunstelingwerk.

“Hy het my eenkeer na Hakskeenpan geneem waar die Bloodhound getoets word. Ons was op die kant van die pan en hy het my gevra watter kleure sien ek in die sonsondergang. Ek het miskien drie kleure geken. Toe begin hy almal opnoem. Hy het seker 20 verskillende kleure herken.”

Sy ma het gesê hulle is en was altyd trots op hom.

Hy het altyd belang gestel in ’n verskeidenheid van dinge, soos in die natuur en blomme.

Hy was ’n kenner van rose en het al die soorte rose in Suid-Afrika geken.

“Hy het graag gelees en ’n mens kon baie lekker oor alles met hom gesels. Mens is net dankbaar vir die Skepper oor die talent wat hy gekry het, want dit was sentraal in sy lewe.”

Walter Meyer het hierdie skildery van ’n rooiborsduif spesiaal vir sy ma, Sonja, geskilder. Foto: Verskaf

Sy pa het gesê Walter het nie baie gepraat oor kuns of sy gevoelens nie. Hy sou eerder praat oor goed wat hy gesien en beleef het.

“Hy het nie sy skilderye aan ons verduidelik nie. Hy het maar net geskilder.

“As hy ’n projek boeiend gevind het, het hy nie opgehou skilder nie. Hy het sommer deur die nag aangehou.

“As ons die oggend gaan koffie drink, dan het hy nog glad nie geslaap nie.”

Sonja sê hy het van kleins af begin teken. Hy was van kleins af baie goed.

Sy is veral lief vir sy stillewes, wat hy nie baie geskilder het nie. Een stillewe wat hulle by hom gekoop het, was van ’n paar appels wat op ’n tafel lê.

Dié skildery het saam met die een van die rooiborsduif en ’n toneel van die Kruger-wildtuin wat hy vir sy pa gegee het, sentrale plekke in hul huis.

Meer oor:  Bethulie-Konsentrasiekamp  |  Fak  |  Walter Meyer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.