Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Soos ’n halfgod blaas sy lewe in dooie wesens
Kali van der Merwe in haar wit jas.

Die nag is haar donkerkamer, haar kunswerke is teatrale skeppings van dooie diere en insekte só asemrowend delikaat saamgestel dat dit die kyker verwonderd laat.

Met haar kuns tree die Overbergse kunstenaar Kali van der Merwe vir bedreigde diere en plante in die bres.

Sy herinner die kyker opnuut aan hoe broos en vlietend die lewe is.

Fotografiese collages, dioramas, installasies en taksidermiese beelde maak deel uit van haar tentoonstelling Broke-Whole, the Labor-oratory of Dr. Kali, wat tot 15 Augustus in The Gallery op die Grande Provence-landgoed in Franschhoek te sien is.

Sy het nie kuns as vak op skool geneem nie, en haar belangstelling was wetenskap en biologie. ’n Moontlike loopbaan as apteker het sy gou laat vaar en ’n loopbaan in die kunste gevolg.

Spirit of Disorder deur Kali van der Merwe.

Dit het iets met daai saai wit jas te make gehad, skerts sy. Sy is ’n beeldhouer, drukmaker, eksperimentele rolprentmaker, klanklandskapskepper, fotograaf en amateurtaksidermis.

Sy het wel ’n wit “aptekersjas” gedra op die opening van Broke-Whole om haarself as ’n skyndokter of wetenskaplike voor te stel.

Van der Merwe – ’n Engelse Van der Merwe – werk snags. Vir haar kuns gebruik sy diere wat doodgery is wat sy langs die pad teëkom. “Ek sal nooit self diere doodmaak nie, ook nie insekte nie. Deur my kuns huldig ek hul kort lewe en tragiese dood.”

Sy gebruik ’n tegniek wat sy ligverf noem, ’n stadige fotografiese proses met lang blootstelling aan lig wat dikwels langer as ’n minuut en selfs tien minute kan duur.

Crypid on the Last Tree

“Ek neem van 30 tot 40 stadige fotobeelde in die proses.” Sy moes doelbewus haar gejaagde stadsmaniere afleer toe sy haar sewe jaar gelede op Baardskeerdersbos gevestig het. “Ek moes weer werklik sien wat om my aangaan: die klein blommetjies, die gedrag van diere en insekte . . .” mymer sy.

Die eerste faset van haar kunsmaak is kreatiewe dokumentasie, in die tweede deel word sy ’n storieverteller en skep ’n narratief met die beelde wat sy vasgevang het. Dit noem sy “tableau mort”, omdat die wesens dood is en die blomme in verskillende stadia van verwelking is.

“In dié fase sien ek myself as ’n halfgod wat lewe in die dooie wesens blaas. Die draad wat deur my werk loop, is die nou band tussen die lewe en dood.”

Een van die werke is dié van ’n bidsprinkaan wat ’n mannetjiesbidsprinkaan verorber. Die insek het nege maande by Van der Merwe gebly en sy het haar bedrywighede in haar eksperimentele rolprent Fatal Resurrection gedokumenteer.

Van der Merwe sou graag wou hê dat mense met ’n dieper empatie en verbintenis met lewende wesens en plante saamlewe nadat hulle Broke-Whole beleef het.

“Die uitwissing van spesies is werklik en neem net toe soos die mens onhernubare bronne verbruik en diere se habitats laat krimp. Volgens statistieke gaan tot 100 spesies per dag verlore. Ek sien myself as ’n visuele pleitbesorger vir die wilde, brose en bedreigde plante, diere en insekte.”

*Die tentoonstelling kan daagliks van 09:00 tot 17:00 gesien word. Besoek haar webblad, www.kali.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.