Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Stad en platteland in kontras

Alle kunsliefhebbers word uitgenooi om ’n aanlyn opening van ’n kunsuitstalling wat deur die GFI-galery in Port Elizabeth aangebied word, by te woon.

Rural to urban: A Linked heritage is ’n uitstalling wat deur verskeie lede van die Keis­kamma-kunsprojek (Keiskamma Art Project), ’n vlagskip van die groter Keiskamma-trust in die Oos-Kaap, saamgestel is.

Die uitstalling is geïnspireer deur die invloed wat die platteland en die stad op mense wat albei ervaar het, se lewens het.

Die Keiskamma-kunsprojek word behartig deur Michaela Howse (kurator en bestuurder van die projek), Cebo Mvubu (produksiebestuurder en ’n hoofkunstenaar van die projek), Ndileka Mapuma (hoofkunstenaar), Veronica Betani (ondersteunende kunstenaar en naaldwerkster), Velelwa Peyi (kunstenaar), Sinazo Deliwe (kunstenaar) en Zukiswa Sikani (kunstenaar).

Een van die besonderse geborduurde kunswerke deur lede van die Keiskamma-kunsprojek wat tydens die virtuele uitstalling en ook op afspraak by die GFI-galery in Port Elizabeth besigtig kan word.

Volgens die kunstenaars van die projek kan die stad sowel as die platteland opvoedkundige en positiewe invloede aan mense se lewens bied.

“As jy in die stad woon, dink jy dat eiers en melk van Shop­rite af kom”, verduidelik Mvubu, wat self in die stad gewoon het. Jy sien nooit die oorsprong van die produk wat jy koop nie, maar as jy so gelukkig is om vakansies by familie op die platteland te gaan kuier, sal jy kan leer waar eiers werklik vandaan kom.”

Mvubu glo ook dat die meeste pensioentrekkers verkies om op te platteland te woon wanneer hulle ouer word omdat hulle daar meer spasie het om byvoorbeeld hul eie groente te plant en waar die lewe ’n stadiger pas het.

Hy voel sterk daaroor dat jong mense weer na die stede moet gaan om blootgestel te word aan ander kulture, ander tale aan te leer, en ook te leer dat die lewe op verskeie manier ervaar kan word.

Mapuma, wat ook die Bodiam-studio (die tweede kunsateljee van die Keiskamma-kunsprojek, die ander ateljee is in Hamburg) in Bodiam behartig, verkies die platteland bo die stad.

“Vroue is meer onafhanklik op die platteland en die versoeking om onnodig geld op byvoorbeeld mooi klere te bestee is daar nie!” sê sy.

“Kinders is ook veiliger op die platteland waar hulle daagliks na hartelus buite kan speel.”

Die Keiskamma-trust is ’n Suid-Afrikaanse organisasie sonder winsbejag wat hom toespits op die holistiese versorging van verskeie gemeenskappe wat in die gebiede langs die Keiskammarivier in die Oos-Kaap woon.

Die Trust is in 2000 deur Carol Hofmeyr, ’n mediese praktisyn en kunstenaar, gestig met ’n visie om die plaaslike inwoners se waardigheid te herstel en weer hoop vir ’n beter toekoms te vestig.

Die Trust inisieer gesondheid, kuns, musiek en opvoeding in gemeenskappe waar daar daagliks ’n stryd teen armoede as gevolg van ’n tekort aan geleenthede gevoer word en waar siektes soos MIV/vigs ook ’n invloed het, terwyl daar met die Keis­kamma-kunsprojek gefokus word op ’n gemeenskapsgedrewe visie om werkskepping te bevorder.

Borduurwerk, kralewerk, viltwerktegnieke, drukwerk, draadkuns en keramiek word deur plaaslike kunstenaars verkoop.

Meer as 90 persent van informele dorpies soos Hamburg, Ntilini en Bell se inwoners is werkloos.

“Ons doel is om werk te verskaf en ekonomiese ontwikkeling te ondersteun deur veral jong vroue en dogters te bemagtig om tot die ekonomie toe te tree,” sê Hofmeyr.

Opleiding in ontwerp, handewerk en tegnologie word verskaf, maar met die kunsprojekte word ook bestuursvermoë in die produksielyn, finansiële en rekenaargeletterdheid bevorder wat nuttig te pas kom by die bestuur van die kunsateljees en die winkels waar die kunswerke verkoop word.

Borduurwerk, kralewerk, viltwerktegnieke, drukwerk, draadkuns en keramiek word deur plaaslike kunstenaars verkoop.

Die Keiskamma-kunsprojek het ook monumentale kunswerke geskep soos borduurwerk wat permanent in die parlementsgebou in Kaapstad uitgestal word en die Keiskamma­altaarstuk wat in die VSA en Engeland in katedrale in Washington en Southwark uitgestal is.

  • Kunswerke word ook op kommissie gemaak en kleiner produkte soos kussingslope en handsakke met pragtige borduurwerk word in die Trust se kunswinkels en ook elders in Suid-Afrika versprei en te koop aangebied. Die virtuele uitstalling open op 30 September om 10:00 op die GFI-galery se Facebook-blad.
  • Skakel die galery vir ’n afspraak as jy die uitstalling by die galery wil besigtig.
  • Skakel 041 586 3973 of stuur e-pos aan info@gfiartgallery.com of besoek die galery se Facebook-blad by facebook.com/GFIArtGallerySA of webtuiste gfiartgallery.com of Instagram by instagram.com/gfiartgallery/ vir meer inligting oor die galery en die uitstalling.
  • Skakel 040 678 1177 of stuur e-pos aan enquiries@keiskamma.org of besoek Facebook: The Keiskamma Trust vir meer inligting oor die Keiskamma-trust.
Meer oor:  Oos-Kaap  |  Kuns  |  Uitstalling  |  Platteland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.