Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Standard Bank help Afrikaanse kunste

In ’n groot hupstoot vir Afrikaanse kunste is Standard Bank se toetrede as vennoot tot Aardklop gister aangekondig.

“Standard Bank is alombekend vir hul toegewyde betrokkenheid by die kunste. Hulle is onder meer sinoniem met die Standard Bank Jazz Festival, die Standard Bank Kunsgalery in Johannesburg en al ’n jare lange borg van die Grahamstad Nasionale Kunstefees en Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees.

“Die betrokkenheid by Aardklop is ’n baie natuurlike aanvulling tot hul verbondenheid aan die kunste,” sê Alexa Strachan, feesdirekteur van Aardklop.

Ben Pretorius, Standard Bank se provinsiale hoof in Noordwes sê: “Afrika is ons tuiste en ons dryf groei op die vasteland met die hoofsaaklike doel om lewens te verander. Kuns speel ’n enorme rol in die uitdruk van kreatiwiteit en speel ’n integrale rol daarin om ’n positiewe narratief te skep.

“Ons glo dat ons vennootskap met Aardklop noemenswaardig hiertoe sal bydra. Standard Bank se fokus is om ’n wye reeks inisiatiewe te ondersteun wat jong talent sal kweek en sodoende die diversiteit van kreatiewe kuns sal weerspieël.”

Aardklop, wat oor ses dae in Potchefstroom begin, bied sy derde fees aan sedert dit van moontlike sluiting gered is.

Die feesbestuur het ook gister bekend gemaak dat kaartjieverkope reeds 15% meer is as die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Topverkopers in die stadium is die toneelstukke Drie Susters (enkele vertonings is reeds uitverkoop), Operasie Holm, My Seuns, My Vrou se Man se Mannetjie, Soebatsfontein, Toutjies en Ferreira. Musiekvertonings waarvan die kaartjies vlieg is Classic Nataniël, Parlotones & Kie, Elvis Blue – Stories, Pure Coenie en Kiekies – Lucas se Liedjies.

“Ek was aanvanklik regtig bekommerd oor kaartjieverkope as gevolg van die resessie en ander tendense, maar is werklik aangenaam verras met die stand van sake. Ek dink bo en behalwe vir die opwindende program het ons ook allerlei nuwe projekte by die fees wat hiertoe bydra.

“Ek word oorval deur mense wat jare laas by Aardklop was en wat hierdie jaar laat weet dat hulle weer terugkeer na die fees toe,” sê Strachan.

  • Benewens die aardklop.co.za, waarop meer inligting oor die feesprogram verskyn, het Aardklop ook ’n app – die fees op jou foon. Sanpscan kan ook op selfone gelaai word vir vinnige betaling op die feesterrein. Produksiekaartjies is te koop by Ticketpro.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.