Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Stap van stoep tot galery

Die Karoo-wynklub bied sy 8ste jaarlikse fees in Graaff-Reinet aan. Maar jy hoef nou nie noodwendig net ’n wynvlieg, of dalk eerder wynliefhebber, te wees as jy die fees wil bywoon nie, want vanjaar is verskeie kunstenaars uitgenooi om hulle werk tydens dié heuglike gebeurtenis uit te stal.

’n Skildery deur Raymond Westraadt. Foto: Al die foto’s is verskaf.

Behalwe vir die bestaande galerye in Nieu-Bethesda sal daar ook opwip-galerye wees soos dié by The Bethesda waar Raymond en Niki Westraadt, die Baai se kunstenaarsegpaar, hulle werk vir die eerste keer saam sal uitstal.

“Ons hou daarvan om die plaaslike gemeenskap by hierdie geleentheid te betrek,” sê Rose Wright, organiseerder van die Wynproe op die Stoep (Stoep Tasting Wine Weekend). “Raymond en Niki Westraadt is spesiaal uitgenooi om hier te kom uitstal, omdat albei vir lank in Graaff-Reinet en in Nieu-Bethesda gewoon het.”

Raymond het al vele toekennings, nasionaal sowel as internasionaal, vir sy skilderye ontvang en is ook die inspirasie vir Niki se nuutgevonde loopbaan.

Haar hande staan vir min verkeerd en sy is bekend vir haar heerlike handgemaakte sjokolades en handewerk soos interessante gehekelde komberse.

“Ek het so twee jaar gelede begin skilder, omdat ek dit ook graag wou probeer en natuurlik uitstekende leiding gratis by Raymond kon kry!” sê Niki.

Gaan maak gerus ook ’n draai by die keramiekkunstenaars Martin en Charmaine Haines se galery aan die bokant van Kerkstraat. Besoek daarna die Infinity-galery waar verskeie kunstenaars, waaronder Joanne Reen, Dirkje Daling, Willem du Plessis en Thea van Staden, se werk besigtig kan word.

’n Skildery deur Raymond Westraadt by The Bethesda in Nieu-Bethesda.
Raymond Westraadt skilder dikwels realistiese tonele.
Proteas geskilder deur Niki Westraadt. Foto: Al die foto’s is verskaf
’n Vetplantjie geskilder deur Niki Westraadt.
’n Keramiektablet deur Charmaine Haines.
’n Keramiekvaas deur Charmaine Haines.
Burnt Horizon deur Willem du Plessis by die Infinity-galery.

By die Gregg Price-galery op die hoek van Martin- en Gravestraat kan jy ook ’n bietjie asem skep en ’n draai deur Gregg se besondere doolhof omring met beeldhoukuns gaan stap voor jy weer jou lippe by die volgende stoep gaan natmaak.

Al bly die bekende beeldhouer Frans Boekkooi nou al lank nie meer in die Baai nie, word die besondere uitstallings wat destyds deur sy vrou, Heidi, by hulle galery in Charlo gereël is, steeds onthou. Gebruik die kans om met dié twee elmboë te skuur en Frans se nuutste beeldhouwerke te beskou.

In Graaff-Reinet kan besoekers die nuwe indrukwekkende projek, Coming Home – The Return of the Cape Vulture to the Karoo, by die Imibala-galery en die Jan Rupert-kunssentrum waar verskeie kunstenaars se werk uitgestal word, besigtig.

Daar sal ook nagenoeg 70 van Suid-Afrika se topwynprodusente wees waar die publiek hulle na hartelus op die pragtige stoepe in Graaff-Reinet en Nieu-Bethesda in die heerlike voggies sal kan verlustig. Daar sal ook vervoer tussen die twee dorpe gereël word sodat niemand agter ’n voertuig se wiel hoef in te klim nie. Dit bied besoekers ’n kans om van die een stoep na die volgende galery te stap en ’n heerlike naweek van uitstekende kuns, heerlike wyn en vars Karoo-lug te geniet.

Om aan die Covid 19-regulasies te voldoen, sal net ’n aantal besoekers op ’n slag die galerye kan besoek en ’n masker moet te alle tye in die galerye gedra word. Sanitasiemiddels sal beskikbaar wees. Op die stoepe sal die tafels vir die wynproe verder as gewoonlik van mekaar gerangskik word om so min moontlik kontak te bewerkstellig.

Die toere tussen die twee dorpe sal van 14:00 tot 18:00 van Donderdag 27 Mei tot Saterdag 29 Mei gereël word. Die feestelikhede duur tot 30 Mei.

Kaartjies moet vooraf aanlyn bespreek word en kan by die toeristekantoor op Graaff-Reinet afgehaal word.

Bel Raymond en Niki Westraadt by 082 307 9332, The Bethesda by 082 877 8053 of 082 805 2693, Frans Boekkooi-ateljee by 082 228 7228 of 082 865 2699, Infinity-galery en Karoo Collective-galery by 082 614 5833, Greg Price­-kunsateljee by 083 258 3104 en Charmaine Haines Ceramics by 078 777 1966 vir meer inligting oor die kunstenaars wat daar uitstal.

Vir inligting oor die wynproe en om jou kaartjies daarvoor te bespreek, stuur ’n e-pos aan sales­@stoeptasting.co.za en karoowineclub@gmail.com of besoek die webtuiste by www.stoeptasting.co.za.

Meer oor:  Graaff-Reinet  |  Fees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.