Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Stellenbosch se waterwiel nou deel van kunsprojek
Die waterwiel is hier afgeneem met die Cluver/Markottergebou in die agtergrond.

Die ou waterwiel en Meulplein (naby die Braak) in Stellenbosch is herstel as deel van ’n unieke landskapvernuwingsprojek.

Die munisipaliteit van Stellenbosch en die Stellenbosch-kunsvereniging het saamgewerk aan die projek, wat onlangs voltooi is.

Die landkunstenaar Strijdom van der Merwe het in opdrag van die kunsvereniging ’n kunsinstallasie ontwerp wat bydra om Stellenbosch se straatkunsprojekte verder te vestig.

De Nieuwe Molen was die derde koringmeul in Stellenbosch en is in 1749 in gebruik geneem. Die meule was net suid van die Braak, skuins oorkant die Rynse Kerk en is aangedryf deur die meulstroom wat hoër op uit die Eersterivier gekeer is. Die stroom is later deur ’n tonnelgewelf bedek. Ná ’n verwoestende brand in 1803, wat ook die oorspronklike wiel vernietig het, is die koringmeule die volgende jaar herbou.

Teen die laat 19de eeu is die houtwiel met ’n ysterwiel vervang. Vroeg in die 20ste eeu is die meule ook deur olie en elektrisiteit aangedryf en sedert 1956 slegs deur elektrisiteit. William Hunt en sy seun het die meule van 1870 tot 1932 besit.

In 1963 het die volgende eienaar, Harry Gelb, dit verkoop om plek te maak vir die OK Bazaars. Die graansolders, die meulenaar se huis en latere kafee en bakkery is alles gesloop. Die Universiteit Stellenbosch se manskoshuis Wilgenhof het die ysterwiel in bewaring geneem en dit vanjaar aan die munisipaliteit geskenk.

Die Stellenbosch-kunsvereniging, onder voorsitterskap van Margot Steyn, het die munisipaliteit in 2016 genader met ’n konsepplan wat deur Van der Merwe ontwerp is. Die munisipaliteit was gereed om die volgende fase van die vernuwingsprojek vir die terrein in 2017 aan te pak en het die kunsvereniging se voorlegging met ’n borgskap, om die ou waterwiel weer lewe te gee, aanvaar.

Die kunsvereniging het ingestem om die waterwiel, asook ’n inligtingsbord wat die geskiedenis van die gebied uitbeeld, op die plein te laat installeer.

Volgens ’n mediaverklaring kan die waterwiel nie histories korrek geplaas word nie en dit is dus net simbolies en word dus as ’n kunsinstallasie en unieke beeldhouwerk gesien.

In die verklaring word gesê die ou wiel versinnebeeld verganklikheid (met die water wat verby is sal die meule nooit weer maal nie), terwyl die rotasie van verganklikheid in die tyd ook visie suggereer: ’n toekoms van hoop, mededeelsaamheid en meelewendheid.

Volgens Geraldine Mettler, munisipale bestuurder van Stellenbosch, gaan die projek ingeskryf word vir die Suid-Afrikaanse landskapuitleg-pryse. Dit sal meeding teen ander projekte waar dit gemeet sal word aan die ontwerp, gehalte, innovasie en uitnemendheid.

In opdrag van die kunsvereniging het Van der Merwe weer eens ’n simpatieke en paslike kunsinstallasie ontwerp wat bydra om Stellenbosch se straatkunsprojekte verder te vestig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.