Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Stern, Kentridge en Pierneef deur Strauss & Co opgeveil
Dié stillewe wat Irma Stern van lelies geskilder het, is die hoogs gewaardeerde skildery op Strauss & Co se veiling wat van 16 tot 18 Mei aangebied word. Foto: Verskaf

Namibiese landskappe deur Adolph Jentsch, ’n seldsame olie-op-bord-skildery van Pierneef, foto’s van die Senegalese Goreé-eiland deur die tweeling Hasan en Husain Essop van Kaapstad en foto’s wat Pieter Hugo op sy reise in Afrika geneem het, behoort bieërs opgewonde te maak.

Maar die duurste werke op Strauss & Co se Mei-veiling sal kunsliefhebbers waarskynlik op en af laat spring. Daarna sal hulle hul sak moet skud as hulle dié werke wil bekom.

Irma Stern se Still Life with Lilies is vir R6 miljoen tot R8 miljoen gewaardeer, haar strandkomposisie The Yellow Hat vir R5 miljoen tot R6 miljoen en Three African Women vir R4 miljoen tot R5 miljoen.

William Kentridge se skets van die ruïnes van die baddens van Caracalla in Rome (R5 miljoen tot R6 miljoen) is ook onder die duurste lotte. Dié werk is een van sowat 40 sketse wat Kentridge vir sy eerste opera, Il Ritorno d’Ulisse, vir die kunstefees in Brussel, België, in 1998 gemaak het.

Op die veiling is 14 werke wat dié veelsydige kunstenaar oor 40 jaar geskep het.

Jentsch, die bekende Namibiese landskapskilder, is in 1888 in Dresden, Duitsland, gebore, waar hy ook kuns studeer het. Sy teësin in die maatskaplik-politieke veranderinge in Duitsland het hom kort voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 na die destydse Suidwes-Afrika laat uitwyk, waar hy een van die heel bekendste skilders van dié buurland van Suid-Afrika geword het.

Jentsch was omgeboul deur die oop landskap toe hy in Februarie 1938 op ’n plaas van vriende van Dresden sowat 100 km buite Windhoek aangekom het.

'Evening, Sheepfold', een van Adolph Jentsch se vroegste skilderye nadat hy in 1938 uit Duitsland in die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) aangekom het. Foto: Verskaf

Hy beeld sy verwondering uit in Evening, Sheepfold (R700 000 tot R1 miljoen), wat hy waarskynlik kort ná sy aankoms geskilder het. Dit toon karakoelskape wat laatmiddag in ’n klipmuur-omringde kraal tot rus kom teen die blou-en-pienk lugruim kenmerkend van dié land. Nog twee landskapskilderye van Jentsch word opgeveil.

Olga Levinson, skrywer en beskermvrou van die kunste in Namibië, het ’n groot bewondering vir Jentsch gehad en ’n boek oor hom geskryf waarin baie van sy skilderye verskyn.

Van die Pierneef-werke op die veiling is landskappe wat verband hou met sy spoorwegstasie-opdrag, waarvan die Studie vir Klipriviersberg, Alberton vir tussen R1,8 miljoen en R2,4 miljoen gewaardeer is. Dié skildery is een van verskeie voorlopers van die panele wat Pierneef vir die Johannesburgse treinstasie geskep het.

Daar is vyf Pierneef-olieskilderye, onder meer Kimberley Sunset, wat deel is van die veiling.

’n Groot verskeidenheid skilderye van Kaapse landskappe, deur Maggie Laubser, Robert Gwelo Goodman, Gregoire Boonzaier en Pieter Wenning, word ook aangebied.

• Die veiling word van 16 tot 18 Mei virtueel aangebied. Besoek die Strauss & Co-webwerf vir die skakel na die regstreekse uitsending. Die katalogus verskyn ook op die webwerf.

Meer oor:  Strauss & Co  |  Irma Stern  |  Pierneef  |  William Kentridge  |  Veiling  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.