Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Stern-werk kan tot £1 m. op veiling haal
‘Arab with Dagger’ kan tot £1 miljoen op ’n veiling van Bonhams in Londen haal.

’n Olieverfskildery van Irma Stern kom op 17 Maart by die afslaer Bonhams in Londen onder die hamer.

Die werk Arab with Dagger kan na verwagting tussen £700 000 en £1 miljoen op dié veiling haal.

Dit is deel van ’n uiters kreatiewe periode in Stern se oeuvre, toe sy in die somer van 1939, aan die vooraand van die uitbreking van die Tweede Wêreldoorlog, van Kaapstad na die eiland Zanzibar gereis het. Sy het in 1945 na die eiland teruggekeer net voordat die oorlog sou eindig.

Die periode is deurslaggewend in haar werk as kunstenaar. In haar eie woorde het Stern die tydperk uitgesonder as belangrik vir haar ontwikkeling as kunstenaar en dat sy nuwe veld in haar kunstenaarskap gewen het.

Baie van die werke is in die kenmerkende, gekerfde hout geraam van die deure wat in Zanzibar voorkom.

Arab with Dagger (1945) is een van die sleutelwerke wat Stern van Zanzibar se Arabiese gemeenskap geverf het. Sy was gefassineer deur die ouer mans se gesigte waarin sy, in haar eie woorde, “swaarkry, diepsinnige wysheid en die begrip van al die lewe se vreugdes kon lees”.

“Hul gesigte was lewend danksy hul lewenservaring.”

Die direkteur van Bonhams se afdeling vir Afrikakuns, Giles Peppiatt, beskou Arab with Dagger as ’n kenmerkende werk wat Stern se kunstenaarskap ten beste vertoon.

“Soos baie van haar portrette van die tyd wys dit nie net die individuele trekke van die man nie, maar ook die fatalisme en diep spiritualiteit wat die kunstenaar onder die Arabiese gemeenskap opgemerk het en wat sy so bewonder het.”

Volgens Claire Wrathall se artikel in die Bonhams Magazine wys Stern se Zanzibar-werke nie net die inspirasie van die nuwe omgewing nie, maar ook die invloed van haar artistieke opleiding in Duitsland gedurende die Eerste Wêreldoorlog en veral die invloed van haar mentor, die Duitse ekspressionis Max Pechstein.

Bonhams het in 2011 Stern se Arab Priest vir £3 miljoen verkoop – ’n wêreldwye veilingsrekord vir ’n skildery deur Stern en die waardevolste Suid-Afrikaanse skildery wat tot nog toe op ’n veiling verkoop is.

Dit is deur die Katar-museumowerheid aangekoop as deel van sy versameling vir die Oosterse Museum in Doha.

Meer oor:  Kuns  |  Irma Stern
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.