Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Stevenson vier 15 jaar
Breyten Breytenbach se Portrait of the Family.

Die groeptentoonstelling in die Stevenson ter viering van die galery se 15de verjaardag het ’n filosofiese motief wat die galery sterk in ’n maatskaplike konteks plaas. Die onderneming, oorspronklik onder die naam Michael Stevenson, bekende kunshistorikus, roem hom tans daarop dat hy gesamentlik aan 11 direkteure behoort, wat ’n betekenisvolle bydrae tot sy visie maak.

In ’n inleiding tot die groot uitstalling (in Kaapstad byna 50 kunstenaars) met die eietyds koddige titel Both, And stel die galery homself die vraag: “Hoe kan ons tot kunsgeskiedenis toegewyd wees en ook ten volle by die (kuns)mark betrokke wees?”

En dáár, in ’n neutedop, lê die paradoks van eietydse kuns oop en bloot. “Geskiedenis” beteken “verlede”, “mark” beteken “nou”.

Of die heerlike, amper vrolike (en, les bes, gratis) vermaak wat die grootste deel van die projek oplewer ons enigsins nader aan ’n antwoord bring, is te betwyfel. Maar, jong kurators wat nou aan die stuur van Stevenson is, neem ’n mens aan, leef op hoop.

Feit van die saak is dat die ou paradigma dat waardevolle en ware kunstenaarskap tydsame en deskundige oorweging verg, lank­al deur die parvenu-bestorming van kuns as valuta omver gegooi is. Viva die nuwe jong kitskunstenaar wat die oog vang.

Kunsgeskiedenis is ’n diep onderwerp, wat so half met die Italianers in die Westerse hegemonie van waarheid begin het. In die ou dae was dit die inspirasie en grondslag waarop jy ’n kunstenaar of ’n akademikus sou wees.

Natuurlik het postmoderne filosofie alles omvergegooi. En dus, hier is ons nou. Maar die geskiedenis loop voort, soos hulle sê.

Michael Stevenson het hom vroeg as merkwaardige kunshistoriese navorser met ’n fyn-fyn oog in die plaaslike kunsmark en kultuurkringe bewys.

Anton Kannemeyer se Self portrait Novel writing.

In 1988 skryf hy ’n vernuftige tesis, The South African Art Index 1971-1998, as deel van ’n B-graad in sakewetenskap aan die Universiteit van Kaapstad (UK), en, in 1997, voltooi hy Old Masters and Aspirations: The Randlords, Art and South Africa vir ’n doktoraat. Dit verskyn in 2002 as ’n uitmuntende studie en prenteboek by Fernwood Press.

’n Jaar later, in Mei, open hy die kunsgalery in Groenpunt. Die eerste uitstalling dui op sy belangstelling in die ou en die nuwe (voorloper van die huidige vraag) met die titel Contact Zones: Colonial & Contemporary.

(Onder die werke wat gewys is, was Diane Victor se aangrypende houtskool-tekening Pasiphaë, later in die UK se versameling opgeneem, en dramaties agter planke toegespyker met die kuns-heksejag in April 2016.)

Stevenson se eie openbare onderneming het dus van meet af die bewustheid gehad dat kuns binne ’n bepaalde kultuurhistoriese milieu in die handel kom.

Die dinamiek van die Michael Stevenson Contemporary was professioneel geslyp en het ’n nuwe era van behoorlike en effektiewe kunstenaarsbestuur ingelui.

Die galery was een van die eerstes wat na “alternatiewe” kuns buite die tradisionele wit en Westerse paradigma gekyk en dit aktief onder versamelaars begin bevorder het. Dit was net toe die internasionale kunsmark, op loop geneem deur jong, nuwe skatrykes, al naarstiglik begin soek het na die ongewone en die onbekende “talent” – en die opkoms van die sogenaamde art fairs.

In 2008 skuif die galery na Woodstock, verkort sy naam en open ’n buitepos in Johannesburg – waarna ook so effe in die titel Both, And verwys word.

Wat die feesuitstalling betref, kan besoekers gerus die eksistensiële antwoord op daardie paradoksale vraag vir die kurators laat en hul verlustig aan ’n wonderlike, vermaaklike en boeiende groep kunswerke.

Daar is veel te bepeins, maar alreeds is die besoek die moeite werd net om die dramatiese werk van Jane Alexander en Wim Botha, asook die knap mini-oorsig van Zanele Muholi te ervaar.

  • Tot 24 Augustus.
Meer oor:  Kunstenaars  |  Gallery  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.