Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Stewart se sakesin nie ook ingeperk

Duncan Stewart, ’n bekende Oos-Kaapse kunstenaar in Gqeberha (Port Elizabeth), het bes moontlik sy professionele oorlewing tydens die pandemie te danke aan die manier hoe hy sy kunsloopbaan bestuur.

The importance of moorings deur Duncan Stewart.

Deur dit as ’n volwaardige onderneming te hanteer en konstant sy kennis te verbreed en op hoogte van bemarking deur sosiale media te bly kon hy ten spyte van die inperkingsfases die spreekwoordelike wa deur die drif trek en ook medekunstenaars gedurende dié tydperk met raad bedien.

“Gedurende die vreemde tyd waarin ons moet oorleef het ek en my gesin; my vrou, Natalie, en kinders, Nicolaus (13), Sophie (11), Francis (9) en Anna-Louisa (7), nuwe maniere aangeleer om te werk en te lewe, ons gesinslewe te bestuur en geloof te beoefen,” sê Stewart.

Capitol Concern I deur Duncan Stewart.

“Kortliks kan ek seker sê dat ek behoorlik moes hustle om dinge aan die gang te hou,” sê hy laggend. “Maar op ’n ernstiger noot, ek het baie nodige en handige aanlyn kursusse gedurende die tydperk gevolg wat my gehelp het om my sake in heroënskou te neem en meer op sosiale media staat te maak om Duncan Stewart Fine Art te bemark.

“Dit het ook beteken dat ek moes uitreik na individue en organisasies wat kuns in alle vorme ondersteun en met wie ek reeds geruime tyd ’n pad geloop het.

“Tussendeur was ek as mentor betrokke by kreatiewe aanlyn Zoom-byeenkomste en ander korporatief geborgde inisiatiewe wat mense, veral kunstenaars, help om hul omstandighede in die Covid-19-krisis te herevalueer en daaromheen te beplan. Dit was en is steeds ’n kwessie om die veranderde omstandighede waarin almal noodgedwonge moet lewe, positief en steeds kreatief te kan inspan.”

Capitol Concern II deur Duncan Stewart.

“Ek is natuurlik bevoorreg dat ek my ateljee in Richmond Hill gedurende die moeilike tye kon behou omdat ons dit reeds jare tevore as ’n belegging gekoop het.”

Stewart skilder dikwels op groot skilderdoeke en as jy voor sy werk staan, spreek die kragtige natuur- en veral seetonele werklik tot jou.

“Ek is baie lief vir water en die lewe wat dit bied, die feit dat water kragtig, maar ook terselfdertyd vloeibaar is, reflekteer en deurentyd van vorm verander, bied ook aan my ’n smagting om aan te hou om die lewe, wat dieselfde karaktertrekke as water het, te ondersoek.

“Die groot skilderdoeke het natuurlik ook ’n groter impak op die kyker. As jy alleen in ’n kamer voor ’n groot kunswerk staan, kan dit nie anders nie, jy word deur die werk ingetrek en ek dink dit is wat alle kunstenaars op die ou einde verwag en waardeer.

Watchers I deur Duncan Stewart.

“Ongelukkig het nie alle kunsliefhebbers ’n begroting om ’n groot skildery of self ’n oorspronklike skildery te kan bekostig nie. Daarom het ek nou ’n reeks klein afdrukke op skilderdoek, Creative Collectables, bekend gestel.”

“Dit afdrukke is 180 mm x 180 mm groot en kos R395 elk. Hopelik sal dit meer mense toegang tot my werk bied en dit kan ook aangevul word en herrangskik word. Op dié manier kan versamelaars mettertyd ’n kleurvolle fokuspunt in ’n vertrek skep.”

Stewart verkies dit steeds om te skets, of dit nou met ’n potlood, pen of houtskool is.

“Dit is die eenvoud van die medium en die direkte impak daarvan op papier wat my aantrek, dit is ’n eerlike medium,” verduidelik hy.

Op die oomblik is Stewart besig met ’n nuwe reeks skilderye en hy gebruik engele as die tema daarvoor.

“Elke persoon glo in iets, ’n geloofsisteem wat die manier hoe jy lewe en die keuses wat jy gevolglik maak, sal beïnvloed.

Watchers II (Ascension) deur Duncan Stewart.

“Myne is in ’n Bybelse Christelike geloof wat die bestaan van spirituele wesens soos engele insluit.

“Omdat dit dikwels ongemaklik voel om in iets te glo wat nie noodwendig ’n fisieke vorm het nie, is dit ook soms moeilik vir my om die bestaan van sulke wesens te begryp.

“Daarom het ek besluit om ’n studie oor die bestaan van engele te maak in die hoop dat dit ook my geloof in dié opsig sal versterk.

“Ek is geweldig dankbaar vir God se genade en die ondersteuning van medekunstenaars, vriende, familie en kunsliefhebbers, nie net tydens die pandemie nie, maar regdeur my loopbaan as skilder.”

Stewart sal, as alles volgens plan verloop, sy nuutste reeks werke teen die einde van die jaar in Franschhoek in die Wes-Kaap ten toon stel.

Sy werk kan aanlyn by www.duncanstewart.co.za, op Instagram: duncanstewartfineart of op sy Facebook-blad by duncanstewartfineart besigtig word. Skakel 073 704 3299 of 041 585 0509 of stuur e-pos aan duncan@duncanstewart.co.za om ’n afspraak te maak as jy sy nuutste werk of die Creative Collec­table-reeks by sy ateljee wil besigtig.

Die Oos-Kaapse kunstenaar Duncan Stewart.
Meer oor:  Kunstenaar  |  Bestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.