Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Strijdom van der Merwe stal ‘aardknope’ in S-Korea uit

Die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe sê dit is “verskriklik nice” en ’n “fantastiese eer” dat een van sy beeldhouwerke op die Tsjangwhon-beeldhoubiënnale in Suid-Korea uitgestal word.

Strijdom van der Merwe se “Earth Knots” op die Tsjangwhon-beeldhoubiënnale in Suid-Korea. Foto: changwonbiennale.or.kr

Van der Merwe is die enigste Suid-Afrikaner – en saam met Momine Paulin (Ivoorkus), Momar Seck (Senegal) en Christian Djomagni (Kameroen) die enigste kunstenaars uit Afrika – wat genooi is om hul werk daar te vertoon.

Van der Merwe sê hy het vroeër vanjaar onverwags ’n e-pos gekry waarin hy amptelik genooi is om aan die biënnale deel te neem – en hy vermoed hy weet hoe dié geleentheid oor sy pad gekom het.

“Ek het al ’n hele paar keer in Korea gewerk, so ek dink my insluiting by die biënnale is danksy die netwerk kunsouens daar wat my naam geopper het,” sê hy.

“Die feit dat hulle (die bestuur van die biënnale) my werk gekies het sonder om my van aangesig tot aangesig te ontmoet en slegs op grond van dít wat hulle óf op sosiale media en in ’n galery gesien het óf deur mense wat my werk aanbeveel het, beteken ouens daar dink my werk is goed.

“Ek het die afgelope tyd weens my ouderdom (en die pandemie) baie geïsoleerd geleef, so die feit dat hulle my al die pad uit Korea hier in Suid-Afrika gekies het, is verskriklik nice. Dit is ’n fantastiese eer dat hulle my werk daar wil hê.”

Strijdom van der Merwe

Die werk wat Van der Merwe vir die biënnale geskep het, getiteld Earth Knots, bestaan in sy eie woorde “doodeenvoudig uit drie regte reuse-klippe – niks anders nie. Ek dink in ons korrespondensie het hulle (die biënnale) gehou van die titel en die gedagte agter ‘aardknope’: grond en sand wat kompakteer en knope – die klippe – vorm.

“Dit was natuurlik gepas vir die biënnale, want dit word in ’n park aangebied, so hulle wou ’n buitelugskepping hê, en omdat hulle weet ek doen werk met die natuur en landkuns, het hulle gehou van die voorstel.”

Van der Merwe sou aanvanklik die rotse vir die kunswerk in Suid-Afrika kies en dit na Korea vervoer. Dít is weens hoë kostes laat vaar en hy sou toe eerder na Korea reis om daar rotse uit te kies, maar ook dié plan is ontspoor, dié keer deur die pandemie. Hy moes daarom die rotse vanuit Suid-Afrika in Korea kies en per e-pos verduidelik hoe dit geplaas moet word.

“Die plasing en die verrassing om hierdie drie reuse-goed te sien waar jy dit nie verwag nie, is die opwindende deel van die werk. Die titel van die biënnale kom neer op non-sculpture, of iets in daai lyn, so ’n mens verwag nie eintlik dat dit ’n beeldhouwerk is nie, maar as ’n mens in die veld werk, is dít wat die natuur jou gee om te gebruik.”

Ook die skaal en kleur van die klippe was belangrik, sê hy.

“Elke rots is omtrent 1,5 tot 1,6 m hoog, so naby aan skouerhoogte na alle kante toe. My gedagte met die skaal daarvan was dat dit ’n impak moet maak. Dit moet jou asem wegslaan. Dit moet massa en gewig dra. As dit kleiner was, kon enigiemand maklik daarmee weggery het,” sê hy laggend.

“Die klippe se verskillende kleure – een swart, een bruin, een wit – maak ook die gedagte oop dat klippe verskillende teksture het. Dit is vir my besonders mooi, maar ek weet ook ek kyk anders na klippe as ander kunstenaars.”

As ’n ou in die natuur werk, dan besef ’n mens alles gebeur in siklusse – en dan voel ek my kuns moet ook ’n siklus hê. Dit is nie belangrik dat die kunswerk permanent bestaan nie – en as dit nie meer daar is nie, dan het jy dit darem (op kamera) vasgevang.
Strijdom van der Merwe

Hoewel Van der Merwe bekend is daarvoor dat hy werk in die natuur skep wat soms kort daarna deur die natuur afgebreek word – soos die see wat dit wegspoel of die wind wat dit wegwaai – sal Earth Knots minder vervlietend wees, maar hy sê dit is nie vir hom belangrik om meer permanente kuns te skep nie.

“As ’n ou in die natuur werk, dan besef ’n mens alles gebeur in siklusse – en dan voel ek my kuns moet ook ’n siklus hê. Dit is nie belangrik dat die kunswerk permanent bestaan nie – en as dit nie meer daar is nie, dan het jy dit darem (op kamera) vasgevang.

“Die saak is eintlik maar net hoe wys jy dit vir die publiek? Dit is hoekom daar sulke oomblikke soos die biënnales kom. As hulle sien wat ek doen en die manier hoe ek dink, vra hulle of ek werk kan skep wat drie maande bestaan. Ek werk met klippe, so in dié geval het ek klippe gekry wat nie weggedra kan word nie.

“Só kom my boodskap nog oor, en die vervlietende oomblik is net langer.”

  • Die beeldhoubiënnale open op 21 Oktober. Besoek www.changwonbiennale.or.kr vir meer inligting.
Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Visuele Kuns  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.