Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
‘Stryders’ help perd in herstel

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Lauren Lee het ’n skildery van Whiskey Cavalier, ’n merrievul wat tydens ’n gewelddadige betoging verlede jaar by die Fairview-perderenbaan in Gqeberha (Port Elizabeth) beseer is, geskilder.

Die skildery gaan ten bate van dié perd se rehabilitering en versorging opgeveil word.

“Lauren de Haast, mede-eienaar van Whiskey Cavalier, is ’n ou vriendin van my en ek het vir haar ’n skildery van ’n perd op kommissie gemaak,” sê Lee.

Die kunstenaar Lauren Lee, wat Whiskey Cavalier geskilder het. Die skildery gaan ten bate van dié perd se rehabilitering opgeveil word.

“Ek het toe besluit om ’n ekstra een van Whiskey Cavalier te maak vir ’n veiling ten bate van haar rehabilitering.”

Lee is verloof aan Louis Goosen, ’n bekende perde-afrigter in KwaZulu-Natal.

Toevallig was Whiskey Cavalier eers by Lee en Goosen op stal en Lee het die merrievul se naam vir haar gekies!

“Sy was die dierbaarste filly en was beste vriende met ons klein pocket rocket (vul) Lavu Lavu,” sê Lee. “Hulle was eintlik onskeibaar gewees.”

Lee is nie net ’n kunstenaar nie, maar was vroeër jare ook ’n kranige ruiter.

“Ná skool het ek eers as ’n stalkneg gewerk en het later assistent-afrigter geword,” sê sy.

“Ek is van jongs af lief vir kuns en perde, maar perde was my roeping en kuns my stokperdjie en ek het eers so ’n jaar gelede weer in alle erns begin skilder.”

Omdat sy perde so goed ken is dit vir haar belangrik dat die anatomie korrek is wanneer sy dié diere skilder.

“My vroeëre skilderstyl was tipies klassiek, maar deesdae beskou ek myself eerder as ’n kontemporêre kunstenaar.”

Die betoging, wat op 17 September verlede jaar gehou is uit protes teen kwessies rakende WVF-uitbetalings, sal nie maklik vergeet word nie en mense was wêreldwyd diep geskok.

Ongeveer 200 betogers het nadat hulle Yvette Bremner, ’n bekende perde-afrigter, en haar werknemers by die baan gedreig het, 28 perde uit hul stalle losgelaat en met pangas en knopkieries aangeval.

Whiskey Cavalier, die brawe merrie-vul wat die aanval deur betogers tydens die onluste by die Fairview-renbaan oorleef het.
Die skildery van Whiskey Cavalier wat Lauren Lee geskilder het.

Een van Bremner se perde, die vyf jaar oue Mark The Doorman, is dood nadat hy met ’n panga beseer en vermoedelik tydens die chaos geval en sy nek gebreek het.

Twee van Michael en Laura de Haast van International Racing Club in KwaZulu-Natal se perde, Little Bit Naught en Whiskey Cavalier, is ook tydens die betoging beseer.

Whiskey Cavalier, wie se beserings die ergste was, kon vanweë die graad van haar beserings nie terug na haar eienaars in Natal geneem word nie.

Tanja Radke van Blue Steel Equestrian in Gqeberha het goedgunstig ingestem om haar te rehabiliteer en te versorg totdat sy vervoer kon word.

Sy het ’n diep wond aan haar sy gehad wat nou mooi genees het, maar kry steeds intensiewe behandeling vir haar skouerbesering.

“Ek glo nie sy sal ooit weer aan ’n wedren kan deelneem nie, maar sy sal hopelik ten volle genees”, sê Radke, wat heel tevrede is met haar vordering.

“Ek wou eers nie dat dit bekend gemaak word waar sy gehou word nie, maar dit het wel uitgelek en ek was verstom oor die gemeenskap se besorgdheid oor haar.

“Soveel mense, ek noem hulle die ‘Whiskey Warriors’, kom kuier vir haar en bring wortels saam of kom help met haar fisio en versorging.

“Die Australiese maatskappy Mogul Equine se Suid-Afrikaanse tak, wat kompressiepakke vir diere vervaardig, het aangebied om een spesiaal vir Whiskey Cavalier te maak en nou kan sy ook met haar eie kompressiepak, nogal in die Suid-Afrikaanse vlag se kleure, spog!”

Skakel Lauren Lee by 083 389 0160, stuur e-pos na laurenlee@ lgrs.co.za of volg haar op haar Facobookblad of Instagram by laurenlee_equestrianartist.

Bel Laura de Haast by 082 709 6666 vir inligting oor die veiling wat binnekort sal plaasvind.

Volg ook Whiskey Cavalier se vordering op YouTube of op Blue Steel Equestrian se Facebookblad.

Meer oor:  Gqeberha (Port Elizabeth)  |  Kuns  |  Skildery  |  Perd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.