Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Sy kuns kom nie uit ’n ingewikkelde plek, sê Weyers du Toit
Wit swaardlelies en ’n kinderboekie van Beatrix Potter.

Sy onlangse stillewes is eenvoudig. Tuinblomme soos swaardlelies, leeubekkies, jakobregops, vars gepluk of verwelk en verdroog, met ’n voorwerp uit ’n vervloë kindertyd, soos ’n verslete kinderboek, rooi stokkielekkers of ’n speelsoldaatjie. Weyers du Toit het met Laetitia Pople gesels.


Weens epileptiese toevalle reeds van sy babadae af en medisyne wat sy spraak aangetas het, het hy gou gefrustreerd geraak in ’n groepsopset of die fisieke aktiwiteite waaraan hy as kind moes deelneem. Van kleins af neem die kunstenaar Weyers du Toit al sy toevlug na wat hy noem die tekenwêreld. Sy jongste werk was pas in die Chandler House-galery in Kaapstad te sien.

Die kunstenaar Weyers du Toit by sy esel.

“As peuter al het ek onder ’n tafel gelê met pen en papier en was ek in my eie wêreldjie vasgevang. Ek het baie positiewe terugvoering op my kindertekeninge gekry en dit het my aangespoor om aan te hou. Dit het my selfvertroue gegee en ek dink ek het al vroeg in my lewe besef dat dit my spesialiteit is.”

Van sy eerste tekeninge onthou hy as 'n tekening van ’n sirkushondjie wat ’n bal op sy neus balanseer. Dit was vir sy ouma so mooi dat sy dit in haar Bybel gebêre het. Hy het op lyntjiespapier en met pen geteken, want daar was nie baie kunsmateriaal in die huis nie.

Sy kinderdae op Bredasdorp in die Overberg het hy as baie eensaam ervaar. “Ons het soontoe getrek van Hartenbos af, waar ek elke dag in die see gespeel het. En toe land ek op die dorpie waar sport alles was. Ek kon nie rêrig my weg vind tussen die klieks op skool nie. Ek dink my avontuurtjies met kuns het my baie keer daardeur gedra en so ook bygebly.”

‘Lights Out Lazuli’ 36 cm x 36 cm, olie op bord.

Hy het later ’n paar klasse by die plaaslike kunstenaar Anna Lochner geneem.

“Ná ’n paar mistroostige maande van meganiese ingenieurswese swot in Kaapstad, waar ek eerder die lektore geteken het as om na hulle te luister, het ek opgeskop en met kuns begin by die Kaapse Kollege.”

Die eerste fase in sy kunspraktyk was sterk beïnvloed deur die see, danksy die stories wat hy as kind gehoor het oor sy een oupa, die haaivanger Tewie du Toit van Skipskop, en ook sy eie werk op skepe wat gewissel het van dekhand, tot stuurman op die sendingskip MV Doulous (nou buite diens) en later as fotograaf op passasierskepe.

“My pa en sy broer het sardyne en ansjovis getrek by Walvisbaai en my oupa se broer (die skilder George du Toit) het vir skepe van die American Shipping Lines gewerk. Ek het self ook drie jaar op see gewerk aan onder meer die kus van Asië, Sentraal- en Noord-Amerika, Australië en die Arabiese Golf. Ek was ook ’n kommersiële duiker.”

Sy kuns aan die begin van sy loopbaan was uitbeeldings van mense wat visvang, vroue en klein kindertjies wat piekniek hou of ontspan op die strand. Hy het die werk na die styl van die Pools-Britse skilder Joseph Herman (1911-2000) geskep.

‘Marigolds in a Carafe’ olie op bord, 24 x 16,5 cm

“Ná ’n effense ineenstorting toe dit vir my gevoel het asof my ateljee vir my te klein geword het, het ek eendag my werkgoed in my bakkie gepak, see toe gery en daar gaan staan en werk.”

Dit het ’n verandering meegebring in sy hele benadering tot sy kuns. “Ek het toe vir ’n baie lang tyd plein air-skilder gedoen. Dit is werk in die oopte.”

Deesdae is die lewensgetroue stillewe sy gunsteling om te skilder, asook landskappe. Hy sonder die invloed van die Spanjaard Diego Velázquez (1599 -1660) en Édouard Manet (1832-1883) uit.

Du Toit staan soggens op, gaan na sy esel en begin skilder. Hy wag nie op inspirasie nie, hy rangskik ’n stillewe en begin. Hy daag op.

“Ek ontvlug en ek speel. Die geestelike aspek van die lewe was van kleins af vir my belangrik. En daarmee saam, allerhande vrae en gedagtes, ook uitdagings wat ek dink ander mense dalk nie so intens of pynlik vind nie. Ek dink ek het reeds as kind geteken om te ontsnap van hierdie knaende vrae en ook van die sosiale speletjie van dog eat dog.”

‘Moonflower Wane’, olie op bord, 24 x 16 cm

Vir hom was teken en skilder nog altyd ’n tyd van pure genot waar hy die reëls maak, waar enigiets moontlik is en waar enigiets kan gebeur, sonder werklik vreesaanjaende gevolge.

“Dit (skilder) is ’n baie vergewensgesinde wêreld. Sang het vir my dieselfde waarde. Van jongs af geniet ek dit om te sing en ek skryf ook lirieke.”

Hy benader kuns nie vanuit ’n “ingewikkelde plek” nie.

“Dit verg wel dat jy omgee en werk. Heeltyd. So skakel ek groot planne en dinkwerk uit. Ek neem net een treetjie op ’n slag tot waar ek wil wees. Elke groot reistog begin tog met net een tree.”

Daagliks is die inspirasie om nuwe voorwerpe vir sy stillewes te vind. “Dit het eers gebeur toe ek rustig geraak en vrede gemaak het dat ek stillewes in olie moet doen. Aanvanklik, met die eerste lockdown, was ek verbouereerd dat ek nie buite kan wees nie. Ek het toe by my hek gestaan en ’n boom geskilder op die heuwel oorkant ons erf. Ek het 12 verskillende weergawes van dieselfde boom geskilder – op verskillende tye van die dag en in verskillende kleurpalette. Dit was inspirerend om te sien hoe dit verander.”

Dit is ’n tyd waar mense angsbevange is en met dood in families en ook met hul eie verganklikheid worstel. Mense wil ontsnap, maar ook sin vind in die lewe.

Die inperking en die lewe binnehuis met sosiale afstand was vir hom ’n tyd om na binne te keer. “Ek dink mense het meer inspirasie nodig en dit is wat visuele kuns en musiek bied. Ek dink ook ons sorteer ons harte uit in hierdie tyd. Dit is ’n tyd waar mense angsbevange is en met dood in families en ook met hul eie verganklikheid worstel. Mense wil ontsnap, maar ook sin vind in die lewe, en weet dat hulle reg is vir die ‘hiernamaals’.”

Du Toit slaan graag sy esel buite op as die ateljee begin druk.

“ ’n Skilder sit maar elke dag met sy eie gedagtes as geselskap en nog te meer as jy ’n enkel man is jou lewe lank. Dit maak dat jy nie weghardloop vir swaar gedagtes nie. Jy sê vir hulle: ‘Kom sit langs my.’ Die geestelike deel is vir my baie belangrik en ek kan nie anders as om dit in my werk uit te beeld nie.”

Hy kies eenvoudige onderwerpe, met alledaagse gebruiksgoed, en voorwerpe wat na ’n gedeelde kindertydperk terugverwys.

“Ek beskou myself as werkersklas. Ons het nie ryk grootgeword nie, ek het wel toegang gehad tot wat ek nodig gehad het. Ek het in ’n liefdevolle gesin grootgeword – so ek dink met ’n gesonde uitkyk op die materiële dinge. Daar is dalk ’n tikkie en ’n half melancholie in my werk, al slaan ek dit met lig aanmekaar en besprinkel ek dit met ’n horrelpoot humor. ’n Mens kan maar nie wegkom van wie jy is nie.”

Stories en die oorvertel van stories het sy kinderhuis gekenmerk. Daar is ook musiek gemaak sonder dat enigeen opleiding op instrumente gehad het.

“My pa, Johan, het sommer stories opgemaak – hy is die seun van ’n legendariese storieverteller Tewie du Toit van Skipskop, wat ook op radio stories vertel het. Ons familiegeskiedenis is ook baie ryk en my ouma se oupa was byvoorbeeld ’n verstekeling op ’n skip van Liverpool na Suid-Afrika. Daar is dus baie stories. My ma, Mariane het drama beoefen en spraaklesse gegee – sy is lief vir woorde en dig self ook.”

Hy bly al ’n geruime tyd weer op Bredasdorp.

“Dis lekker naby aan die see en ek gaan surf in Struisbaai of Waenhuiskrans as die suidooster ’n bietjie deinings bring. Ek gee nie om dat ek uitstallings misloop, of die social scene in Kaapstad verpas nie. Ek soek tans ’n plekkie in Jeffreysbaai vir my en Thandi, my Afrikanis Brakkes, soos ek haar klassifiseer. Sy geniet die see omtrent net soveel soos ek.”

• Du Toit se werk is beskikbaar by Chandlerhouse.co.za, asook die galery Knysna Fine Art by www.finearts.co.za en op sy Facebook-profiel. Die kunswerke wat hier uitgebeeld is, is reeds verkoop.

Die herkoms van ’n deel van Du Toit se familie is opgeteken in die boek Skipbreuke aan ons kus deur Coenraad Potgieter, uitgegee deur Theron Boeke.

Meer oor:  See  |  Kuns  |  Bredasdorp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.