Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Tradisionele, kontemporêre kuns by Oliewenhuis te sien
‘Tsa bogadi’ (olie op doek, 86,5 cm by 86,5 cm, 2019) deur Gilbert Maepa.

Tradisionele en kontemporêre kuns deur 62 kunstenaars is ingesluit in die Artbank of South Africa (ArtbankSA) se uitstalling wat vandeesweek in die Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein open.

Die titel Tiro ya diatla is Tswana vir “handgemaak” en vir dié uitstalling het die deelnemers skilderye, sketse, beeldhouwerk, tekstielkuns en fotografie geskep.

Volgens Karen Marais, Oliewenhuis se woordvoerder, is die werke verteenwoordigend van kunstenaars uit verskillende dele van die land.

ArtbankSA, wat in Bloemfontein gevestig is, skaf deurentyd werke aan en hou dan een keer ’n jaar ’n uitstalling van die nuwe aanwins.

Vanjaar val die fokus op geslagsgeweld, godsdiens, politiek en hoofsaaklik op wêreldwye pogings om die korona-pandemie aan bande te lê.

Die gedagte dat kunstenaars hul werk gebruik om die gebruike, stand, gemoed en dies meer van ’n gemeenskap te weerspieël, word nêrens meer eksplisiet uitgebeeld as in Vuyisile Adoons se werk “Social Distancing” nie.

‘Social distancing’ (olie op doek, 120 X 90 cm, 2020) deur Vuyisile Adoons.

Twee mans speel morabaraba, ’n bordspel eie aan Suid-Afrika, Botswana en Lesotho. Albei mans dra maskers en behou die korrekte afstand tussen mekaar.

Van die ander kunstenaars wie se werk ook uitgestal word, is Alet Pretorius, Lizo Pemba, Gabrielle Raaff, Mothobi Mefani, Pierre Cloete, Happy Dlame, Abrie Fourie en Collen Maswanganyi.

ArtbankSA versamel kontemporêre kunswerke, nie net om die kuns te bewaar nie, maar ook om opkomende kunstenaars te ondersteun deur die verhuring en verkoop van hul werke.

• Tiro ya diatla word op 11 Maart om 19:00 geopen deur Nathi Gumede, ArtbankSA se waarnemende projekbestuurder. Die uitstalling duur tot 18 April.

Weens Covid-19-regulasies moet alle belangstellendes hul volle name en identiteitsnommer per e-pos stuur aan yolanda@nasmus.co.za. Net dié wat bywoning op e-pos bevestig, sal by die opening toegelaat word.

Houtkerfwerk

As jy wil sien wat dit verg om ’n beeld uit ’n stuk hout te voorskyn te bring, kan jy op 13 en 27 Maart vier ervare houtkerwers in die beeldetuin by Oliewenhuis dophou.

David Molapisi, Bennett Phalatsane, Hartman Magasi en Kaiser Mafereka werk aan groot beelde wat hulle uit die stam van olyfbome kerf. Soos dikwels in kuns is dit die proses wat die fassinerende deel is en dit kan toeskouers van 11:00 tot 14:00 beskou.

Die voltooide beelde word in die beeldetuin geplaas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.