Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Uitstalling dui op Breyten se dubbele kunstenaarskap

Humor is een van die pleisters waarmee die deurdrenkte surrealis soms die angel uittrek. Dis ook een van die maniere om die leser of kyker, wat andersins verby die roekelose warboel sou kyk, se aandag te kry. So meen Melvyn Minnaar oor Breyten Breytenbach se uitstalling The 81 Ways of Letting Go a Late Self wat in die Stevenson-galery in Kaapstad te sien is.

Hulle praat mos nou berg, een van Breyten Breytenbach se kunswerke wat nou in die Stevenson-galery in Kaapstad te sien is.

Onder ’n boom, op ’n reuse-lotusblom, sit Boetatjie van die Kaap (2009, akriel op doek). Hy’s bra vaal en mismoedig, en die sonnetjie bra skraal oor ’n verlepte Tafelberg. Die perdjie/donkie lyk verlore en die mensgesig-voëltjie ewe verward.

Sedert daardie eerste baanbreker-poësie en prosa van Ysterkoei en Katastrofes in die dinamiese jare van die letterkunde in die sestigerjare was een van “die maer man met die groen trui” se slinkse truuks om ’n grappie iewers in te weef, al het dit baie maal om lewe en dood gegaan.

Nog een van die skilderye op hierdie belangrike tentoonstelling se titel is Nou praat hulle mos berg (2015) en weer het die visuele lawwigheid ’n misterieuse bekoorlikheid vanweë die speelse titel.

Autoportrait, een van Breyten Breytenbach se selfportrette.

Dalk ook omdat dit Afrikaans is.

Dis ietwat ironies dat Breytenbach se Afrikaanse titels soveel netjieser by sy verbeeldings aansluit – omdat sy plek in die panteon van poësie (en literatuur, veral Afrikaans, natuurlik) lankal gevestig is, maar in die rangorde van visuele kuns het kritici (en ander) oor die jare selde die lourier uitgedeel. Desnieteenstaande dring Breytenbach aan op dubbele kunstenaarskap: dié van woord en beeld.

Light Dream – die reuse-skildery van bykans 3 m hoog.

’n Mens kan bespiegel oor die kritici se redes, en selfs romantiese eksistensiële vrae oor sodanige duo-kreatiewe verbeelding opper, maar nou het die Stevenson-galery as’t ware die voortou geneem om die visuele sy van sy loopbaan netjies in die kollig te plaas.

Met ietwat van ’n mikro-oorsig wat wissel van vroeë tekeninge (ja, van daardie jare!) tot meer onlangse groter werke (die sentrale werk is die amper 3 m hoë Light Dream van 2018 wat as ’n soort totem hang) wil dié kommersiële kunslokaal (vir kritici) sê “kyk weer”.

Uiteraard is fyn en netjies gekies (met die oog op die mark), en daar is ’n bepaalde plesier om die 79-jarige gevierde digter/skrywer/kunstenaar se persoonlike passie in hierdie omstandighede gade te slaan.

’n Slim kapstok is die selfportret – wat hier in talle wispelturige gedaantes van verskeie jare aangebied word – want nie net kan ’n mens sê dat Breytenbach se beste en oorspronklikste kuns in die intra-persoonlike geanker is nie, maar dat dit die enigste manier is om die leser en kyker se emosionele betrokkenheid te wen waar surrealisme op en in die spel is.

Die titel van die uitstalling met sy Zen-nuanse, The 81 Ways of Letting Go a Late Self, bevestig dan ook hoe die kunstenaar uitreik na sy toeskouers. Veel is op die spel, veral Breytenbach se verbeelding, letterlik en figuurlik in sy visuele kuns.

’n Paar jaar gelede het Willem de Vries hom gevra of ’n mens van ’n “instink van die verbeelding” kan praat.

Hy antwoord toe: “Met die voorwaarde dat daardie verbeelding partykeer miskien onverstaanbaar is of ontoeganklik is. Maar dis nie te sê nie. Dis een van die diepste waarhede wat nog ooit in Afrikaans gesê is: Dis nie te sê nie.”

Vir diegene wat steeds nie altyd agter die kap van Breytenbach se kunswerke kan kom nie, is dit dalk goeie raad. Jy kan dink wat dit is, maar dis nie te sê nie.

Gaan kyk.

* Tot 24 November.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.