Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Uitstalling eerder optiese illusie as perfekte visie

Die foto-uitstalling Double Vision 2020 in die Bellville-biblioteeksentrum verbeeld die huidige toestand van die mens en ons verbrokkelende wêreld. Theo Kleynhans vertel meer.

“Clouds 1” deur Strijdom van der Merwe.

Die fotografiese groepuitstalling Double Vision 2020 se naam roep dadelik ander eggo’s op, soos nawete, die jaar 2020 en perfekte sig. Dit is altyd makliker om terugskouend te sien waar ’n mens verkeerde besluite geneem het – nie in die drif van die moment nie.

Die kurator Tiaan van Deventer speel hier slim met die jaartal en al die aangehegte betekenisse. Wat ook opval is dat die uitstalling aan die begin van die jaar aangebied word; daarom verbeeld dit ook die hedendaagse tydsgees, met ander woorde dit voel vooruitskouend eerder as terugskouend. Dit is min dat ’n groepuitstalling so ’n samehangende geheel vorm, veral wanneer die titel so oop is vir vertolking. Die resultaat is ’n uitstalling wat nie gemis moet word nie.

Met die intrapslag is daar twee foto’s van Irvine Meyer getiteld “Mercedes, Pietermaritzburg” en “Buitengracht Street Cape Town”. Langs dit hang Geert Oliver se “Pietá de Résistance”. Hierdie soort teenmekaarstelling gebeur die heeltyd in hierdie uitstalling. Die broosheid van bouvallige strukture langs die weerloosheid van Michelangelo se “Pietá”.

Iets van die mens se weerloosheid, iets van ons dobberende, ankerlose bestaan, begin hier ontwikkel en word onderstreep deur Roger Ballen se distopiese beelde vol rotte, duiwe, uile en gebreekte speelgoed op sy kenmerkende agtergronde van mure waarop infantiele houtskooltekeninge aangebring is.

Hierdie gevoel van ’n soeke na betekenis en selfs die bevraagtekening van ons bestaan word verder onderstreep deur Stephen Inggs se horisonlose foto’s getiteld “Sea I” en “Sea II”. Die werk laat ’n mens opnuut drywend en uitsigloos op die oop see, net om nog ’n hou in die maag te kry by Tiaan van Deventer se foto’s getiteld “Flames Don’t Leave Fingerprints” en “What Doesn’t Kill You Makes You Stronger”. Dit is ’n voortsetting van sy aangrypende dokumentering van hawelose mans in die Bellville-omgewing.

“Buitengracht Street Cape Town” en “Mercedes, Pietermaritzburg” deur Irvine Meyer.
“Open Up”, “Alter Ego” en “Netted” deur Roger Ballen.

Hierby sluit die erotiese beelde van Richardt Strydom aan. In die foto getiteld “The Scopophilic Patient” waar die kyker skelm deelneem aan die waarneming van ’n pasiënt wat ’n prostaatondersoek ondergaan in ’n dokter se spreekkamer. Sy ander werk is getiteld “Palpation” en wys ’n man met ’n dokter se vinger in sy mond. Hoewel die werk gestileer is as doktersbesoeke is die erotika in die werk tasbaar. Die kyker neem deel as voyeur. Dit roep die buitestanderskap op wat deel is van die ervaring van pornografie – dieselfde buitestanderskap wat die wêreld se obsessie met tegnologie en digitale kommunikasie karteer, die gevoel dat jy nooit weer werklik deel van iets sal wees nie, maar altyd buite die ervaring sal staan.

Daar is nog ’n groep werk wat stiller is. Lien Botha se “After Water” is ’n diptiek van ’n plaasdam en wat lyk na ’n fresco van ’n man wat op sy sy by ’n poel water lê. Sien ook die wonderlike foto’s van Strijdom van der Merwe getiteld “Clouds 1” en “Clouds 2”. Draad wat in die Sneeuberg-natuurreservaat opgetel is, word in bondels gedraai en op rotspilare geplaas om nuwe draadwolke te vorm. Dit vorm vreemde ikoniese beelde, shamanistiese totems van gevonde voorwerpe wat hul nederige natuur transendeer. Die mens se behoefte aan spiritualiteit en ritueel word hier onder die loep geneem.

“Palpatation” deur Richardt Strydom.
“Fourteen Stations of the Cross” deur Keith Dietrich.

Robert Hamblin se “Ms. Kay – Party Dress (Diamond Town Girls)” is ’n foto uit die reeks wat hy oor transgender sekswerkers in Kimberley gedoen het. Die foto, wat nie in fokus is nie, van ’n vrou in ’n rooi rok langs ’n silwer afvoerpyp, het ’n stil estetika. Die kyker sal nooit weet hoe moeilik hierdie vrou se lewe is nie, hoeveel opofferings gemaak moes word om hierdie beeld moontlik te maak nie, vir die vrou én die fotograaf. Tog spreek dit oor die viering van die self en die uitbundigheid van ’n nuwe rooi rok. Die swaarkry van die transgender lewe is hier verbloem.

Keith Dietrich wys ’n konsertinaboek van foto’s van voetspore op die strand. Die titel hiervan is “Fourteen Stations of the Cross”. ’n Mens kan aan albei kante van hierdie werk staan, en as jou kykershoek reg is, kan jy al die bladsye van die boek as een foto “lees”. Dit raak eindelik die sleutel tot die hele tentoonstelling. Die kyker se invalshoek sal die diepte van die ervaring bepaal.

Die geheel is meer as die dele in hierdie uitstalling, en as (terugskouende) dokument verbeeld dit die huidige toestand van die mens en ons verbrokkelende wêreld.

Dit is veel eerder ’n optiese illusie as perfekte 2020-visie.

  • Double Vision 2020 word tot 6 Maart in die Art.b-galery in die Bellville-biblioteeksentrum in Kaapstad aangebied. Bel 021 917 1197 vir meer inligting.
Meer oor:  Fotografie  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.