Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Uitstalling van landskappe belig kwessies oor grond
‘Three Hunters and Three Hunter Dogs’ (fotografie) deur Tebogo Moche.

’n Uitstalling van landskappe, ter aansluiting by die heersende gesprek oor grond, is die derde in ’n trilogie van belangrike Suid-Afrikaanse versamelings wat deur die Universiteit van Johannesburg (UJ) se kunsgalery aangebied word.

Conversing the Land bestaan uit werke wat uit MTN en UJ se permanente versamelings gekeur is, asook werke van studente in die UJ se ontwikkelingsplan vir opkomende kunstenaars. Tien werke van dié kunstenaars is uitgesoek om ’n vars blik op die Suid-Afrikaanse landskap te bied.

Annali Dempsey, kurator van die UJ-kunsgalery, sê die uitstalling “dokumenteer én verken die wyse waarop visuele kunstenaars met die grondkwessie omgaan in ’n poging om vas te stel wie ons is, waarvandaan ons kom, wat ons gehad het en wat ons verloor het”.

Sy voeg by dat die werke van jong kunstenaars nie net ’n vars energie bring nie, maar ook hul siening oor grond weerspieël.

‘Soos rook sal ons sweef’deur Wendy Malan is een van die gekeurde werke uit korporatiewe versamelings wat in die uitstalling ‘Conversing the Land’ te sien is.

Die uiteenlopende en uitgestrekte landskappe wat geskilder, geëts, gekerf en gegiet is, beeld die idee van identiteit uit teenoor ’n kulturele agtergrond wat dikwels gevorm word deur die grond wat ons ons tuiste noem.

“Die landskap waarin ons leef, word gepolitiseer en die kuns in die topografie ontbloot die ongelykheid wat ons herinner aan die voortdurende soeke na bemagtiging en om te behoort,” skryf Dempsey.

Nico Ras, een van die studente, se digitale druk met houtskool, Die lyf en hand, karteer die mens se liggaam as ’n landskap teen ’n topografiese agtergrond.

Shayna Rosendorff vra in haar werk “Waarom in goud belê as dit jou niks bied om te drink nie?”. Lebo Magolego se fotografiese werk, The Elephant in the Room, toon ’n ruimte tussen twee strukture met ’n olifant teen die agterste muur wat die aandag op stedelike lewensomstandighede vestig.

Neil Badenhorst se digitale media, Return to the Garden, toon ’n verbeelde mitiese landskap ongerep en onbewoon.

Devlin Tim se fokus is ’n middestadtoneel wat hy met olie op doek uitbeeld.

Die uitstalling kan tot 22 November in die UJ-galery besigtig word. ’n Gratis rondleiding word op 9 November om 11:30 aangebied. – Elretha Britz

Meer oor:  Uj  |  Visuele Kuns  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.