Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Uitstalling verken eensaamheid en intimiteit
’n Fotokunswerk deur die Duitse kunstenaar SaySay.Love wat deel is van die uitstalling Intimate Loneliness: Sex with Things wat eersdaags in Stellenbosch in die GUS-galery open.

In sy jongste uitstalling in Suid-Afrika fokus die Duitse kunstenaar SaySay.Love op eensaamheid en intimiteit.

Intimate Loneliness: Sex with Things open op 22 Januarie in die GUS-galery in Stellenbosch.

Die fotograaf is bekend vir sy visuele aktivisme en sy uitdagende aanslag om kykers te prikkel, soms te skok en tot nadenke te stem. Hy beskryf die mens as “onmenslik, beheerbaar en maklik manipuleerbaar”.

Met die nuwe werke poog hy om die kyker opnuut bewus te maak van romanse en die plek daarvan in menslike verhoudings. Hy het grootgeword in ’n tydperk waar mense mekaar nog die hof gemaak het. Daardie werklike menslike interaksie is verdring deur tegnologie waar mense mekaar aanlyn ontmoet en op afspraakwebtuistes klets en mekaar “leer ken”, glo hy.

Mense skep ander persoonlikhede en voorkomste vir hulself om in te pas by die samelewing se idee van volmaaktheid, meen hy.

“Ons verloor ons ware self en so vervreem ons mekaar en is eensaamheid en die verlies aan intimiteit ons voorland,” sê hy in ’n mediaverklaring.

“Ons is uit voeling met romanse en die natuur. In ons digitale wêreld word ons daarvan vervreem.”

Op 30 Januarie gaan die Suid-Afrikaanse seksterapeut dr. Eve optree by ’n geleentheid wat herinner aan die kunstenaar Marina Abramovic se “installasie” The Artist Is Present in die MoMA in New York enkele jare gelede.

Soos Abramovic versoek sy die gehoor om met haar en ander lede van die gehoor in gesprek te tree oor eensaamheid en hoe hulle daarmee saamleef.

SaySay.Love bied ook ’n dansparty aan. Op 1 Februarie gaan daar ’n Close Dance-party aangebied word, soos die gier in Berlyn is met die I Love Engtanz-partytjies. Soos in die 1950’s kan mense mekaar vra om te dans en mekaar so beter leer ken.

“Eensaamheid is ’n hartseer verskynsel. Ons wil almal deel wees van groepe en iemand hê om die pad mee saam te loop,” sê SaySay.Love, wat deels in Suid-Afrika en Duitsland werk. Al die bedrywighede word in die galery aangebied.

Sy vorige uitstalling in Suid-Afrika het water as tema gehad. Die opbrengs daarvan het aan die Lalela-organisasie gegaan wat kuns gebruik om gemeenskappe op te hef en selfversorgend te maak.

*Die GUS-galery is op die hoek van Bird- en Dorpstraat in Stellenbosch. Vir enige navrae bel 021 808 3489.

Die uitstalling duur tot 1 Februarie.

Meer oor:  Kuns  |  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.