Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Uitstalling vier 50ste herdenking van maanlanding

Die visuele kunsuitstalling Star Sailors, wat die 50ste herdenking van die maanlanding vier, begin Saterdag in die Viewing Room-kunsgalery in Pretoria.

Lucid Sedation deur Richard Forbes.

Hoewel die idee vir die uitstalling deur Art.co.za eers twee maande gelede ontstaan het, neem meer as 60 kunstenaars, soos Carl Jeppe, Diek Grobler, Cecile Heystek, Philip Badenhorst, Greg Kerr en Heidi Fourie wat met verskillende media werk, hieraan deel.

Saterdag is dit 50 jaar gelede dat die Apollo 11-sending op die maan geland het.

Purple Moon deur Willie van Rensburg.

Die ruimtevaarder Neil Armstrong, die eerste man wat op die maan geloop het, het daardie dag sy bekende woorde gesê: “That’s one small step for man... One giant leap for mankind.”

“Ek wou bloot die rolprent The Dish vertoon,” sê Johnny de Beer, stigter en eienaar van art.co.za.

Lucid Seeker deur Eric Duplan.

“Dit is ’n Australiese fliek oor die maanlanding. Dit gee ’n mens ’n gevoel van hoe dit moes wees om op die maan te land. Toe stel my kollega Marilyn van Emmenis voor dat ons ’n uitstalling daaroor moet hou.”

Shimmer deur Lothar Bottcher.

Prof. Roger Deane, astronoom en hoof van die astronomie-navorsingsgroep aan die Universiteit van Pretoria (UP), open die uitstalling Saterdag om 15:00.

Deane was voorheen deel van ’n internasionale span wetenskaplikes wat die eerste foto van ’n swart gat geneem het.

De Beer het egter ’n probleem voorsien omdat daar so min tyd voor die herdenking was, maar hulle het besluit om kunstenaars toe te laat ook om reeds bestaande werke aan te bied.

“Die maan is so ’n fassinerende onderwerp dat baie kunstenaars al solo-uitstallings daaroor gedoen het,” sê De Beer.

“Die helfte van die uitstalling in Pretoria bestaan uit nuwe werke. Die uitstalling gaan ook oor die ruimte in geheel. As daar meer tyd was, sou daar seker maklik ’n honderd kunstenaars betrokke kon wees.”

Sommige van die kunstenaars onthou die maanlanding.

Jeppe was besig met sy weermagopleiding in Ladysmith toe hy na die uitsending op ’n transistorradio geluister het.

Badenhorst was in gr. 5 en Kerr se 20ste verjaardag was op 21 Julie, die dag ná die maanlanding. Hy onthou hoe hy daardie dag wakker geword het en Armstrong se woorde gehoor het. Omdat daardie deel van Amerika agt ure agter Suid-Afrika is, het hy op die 21ste Julie – sy verjaardag – dit gehoor.

* Die uitstalling duur tot 7 September in die Viewing Room-galery.

* Adres: Fehrsenstraat 492, Brooklyn Circle, Pretoria.

Die galery-ure is Maandae tot Vrydae 09:00 tot 16:00 en Saterdag 09:00 tot 14:00.

Rondleidings word op 3 en 17 Augustus aangebied.

Bel 012 460 0284 vir meer inligting.

50 jaar na die maanlanding: Herleef dit in woorde, beelde en klank hier

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.