Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Van der Wat ‘het die pas aangegee’

Die visuele kunstenaar Hannatjie van der Wat is Donderdag in die ouderdom van 96 jaar dood. Wilhelm van Rensburg skryf sy het die pas aangegee vir kunstenaars wat in ’n niefiguratiewe kunsstyl werk. 

Van der Wat was ’n uitnemende abstrakte kunstenaar in die Suid-Afrikaanse en internasionale kunswêreld. Van haar eerste tentoonstelling in 1966 in die Adler Fielding-kunssaal in Johannesburg tot die omvattende tentoonstelling Retro: Seventy Year Career Survey (1943 tot 2013) in die SMAC-galery in Stellenbosch het sy die pas aangegee vir diegene wat in ’n niefiguratiewe kunsstyl werk.

Die visuele kunstenaar Hannatjie van der Wat wat verlede week dood is.

In die jare 60 het sy abstrakte ekspressionisme en geometriese of analitiese abstraksie ontgin, en in die jare 70 was sy die eerste Suid-Afrikaanse skilder wat die sogenaamde internasionale post-painterly abstraction-styl in haar werk verken het.

As teenvoeter het sy begin met baie organiese keramiek-beeldhouwerke wat die serebrale aard van haar abstrakte styl bevraagteken het, en sodoende het haar werk ’n nuwe dinamika verkry.

Die geometriese vormgewing het uiteengespat in ’n ontploffing van kleure in haar werk in die jare 80 en 90, wat ’n nuwe dimensie aan die sogenaamde gebarestyl van abstrakte ekspressionisme verleen het.

Die dryfkrag in haar kuns het al vroeg gekom.

Sy het tussen 1941 en 1944 onder Maurice van Essche aan die Wits Technical Art School gestudeer. Douglas Portway en Carl Büchner was saam met haar in dié kunsskool.

Van Essche het, volgens haar, altyd die klem op die onderliggende struktuur van ’n skildery gelê. Dan kon ’n kunstenaar enigiets daarop voortbou. Dit is ’n les wat Van der Wat die res van haar kunsloopbaan ter harte geneem het.

'Gateway' deur Hannatjie van der Wat.

Eers in 1962, toe haar kinders skool toe is, het sy weer begin skilder, maar hierdie keer onder die mentorskap van Sidney Goldblatt, die bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar. Onder sy invloed het sy met plat, skilderagtige vorms gewerk wat in ’n ongedefinieerde, wasige agtergrond swewe, uitgevoer in ’n oorwegend gryserige tonale aard.

Haar deurbraak het in 1977 gekom, tydens ’n middel-loopbaan-tentoonstelling in die Gencor-galery van die destydse Randse Afrikaanse Universiteit.

Sy was die eerste Suid-Afrikaanse skilder wat met die gedagte van die modulêre kunseenheid vorendag gekom het. Reekse en reekse gelyksoortige, helderkleurige en geometriese patrone op ewe groot verfdoeke kon op verskillende maniere gerangskik word om ’n dinamiese groter geheel te vorm. Die besoekers aan die tentoonstelling kon heerlik meespeel in wat as die eerste interaktiewe tentoonstelling tussen toeskouer en kunswerk beskou kan word.

'Abstract Composition' deur Hannatjie van der Wat.

Dit is ironies dat Van der Wat ongekende erkenning oorsee geniet het, en eers baie later in Suid-Afrika vereer is.

In die jare 90 was dit veral in Brasilië waar sy die lof grotendeels toegeswaai is. Sy het in 1994 die diploma académico honoris causa van die Brasiliaanse Akademie vir Beeldende Kunste in Rio de Janeiro ontvang en in 1997 die Grande Medalha de Honra, ’n erkenning wat sy met die wêreldbekende modernistiese argitek Oscar Niemeyer deel.

In 2006 het die Brasiliaanse Nasionale Raad vir Vroue haar as een van die top-tien-vroue van die jaar in die beeldende kunste-kategorie aangewys.

Plaaslik het sy in 2018 die Erepenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir haar bydrae tot die uitbou van die beeldende kunste in Suid-Afrika ontvang.

Hannatjie van der Wat

My eerste kennismaking met Van der Wat was in 1977 toe ek haar as assistent van die Gencor-tentoonstellingsbeampte gehelp het om haar modulêre werke te rangskik. Daarna het ek haar gereeld op van haar tentoonstellings in die Thijs Nel-kunssaal in Randburg raakgeloop.

In 2013 het ek ’n tentoonstelling van Suid-Afrikaanse abstrakte ekspressionistiese skilderkuns in die UJ-kunsgalery byeengebring, en Van der Wat se werk was prominent verteenwoordig.

Ek het as kunskenner by die veilingshuis Strauss & Co gereeld haar raad gevra as ons spesiale temas soos “Kunsleermeesters en hul studente’’ (sy kon heelwat van Van Essche vertel) en “Suid-Afrikaanse skilders in Parys” (sy het Suid-Afrika op die Organisation des Femmes Peintres et Sculpteurs-tentoonstelling in Parys in 1979 verteenwoordig) uitgebou het.

Met haar afsterwe laat Van der Wat ’n groot leemte in die Suid-Afrikaanse kunswêreld.

* Van Rensburg is ’n senior kunskenner by die veilingshuis Strauss & Co.

Visuele kunstenaar
'Sept 11, 2001, New York' deur Hannatjie van der Wat

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.