Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuns
Vergete SA beeldhouer se werk uitgestal
’n Foto van Peter Haden uit die 1960’s. Foto: Egon Guenther

’n Amper vergete Suid-Afrikaanse beeldhouer word nou – 22 jaar ná sy dood – vir die eerste keer onder die aandag gebring.

Behalwe vir enkele tydgenote, is Peter Haden (1939-1997) totaal onbekend, en waar hy wel genoem word, is sy naam verkeerd gespel. Tog het hy hier en in die buiteland baie suksesvolle uitstallings gehad.

’n Beperkte uitstalling van Haden se beelde, wat in private versamelings opgespoor kon word, is vir die eerste keer te sien by die Welgemeend-herehuis as deel van die “Maand van kuns”. ’n Glanskatalogus is deur die veilingshuis Strauss & Co saamgestel as ’n rekord van Haden se unieke bydrae tot Suid-Afrikaanse kuns.

Sedertdien het daar, ironies genoeg, nog beperkte inligting na vore gekom, wat daarop wys dat daar nog aannames gemaak word wat nie waar is nie. So, byvoorbeeld, word genoem dat hy universiteitsopleiding gehad het, terwyl dit glo nie so is nie. Hy het homself opgelei en het die kunstenaar Ernst Ullmann as mentor erken.

’n Rede vir sy onbekendheid kan wees dat hy tussen 1968 en 1971 hoofsaaklik in Johannesburg uitgestal het voordat hy na Genève, Switserland, geïmmigreer het. Tog was hy besonder produktief en het hy saam met die bekendste kunstenaars van dié tydperk uitgestal.

Hy was ’n lid van die prestige-groep wat deur Egon Guenther, onder meer ’n kunsversamelaar en galery-eienaar, bemark is en wat later bekendheid verwerf het as die Amadlozi-groep. Hierdie kunstenaars sluit in Edoardo Villa, Cecil Skotnes, Sydney Kumalo, Ezrom Legae, Hannes Harrs, Giuseppe Cattaneo en Cecily Sash.

Peter Haden se Batman, brons op ’n marmerbasis.Foto: Verskaf

Haden het later ’n kunsskool, The Academy, in Craighall, Johannesburg, gehad. Onder sy studente was Wopko Jensma, Cyril Kumalo, Julian Motau, Stanley Nkosi, Naomi Press, Wendy Vincent en Rhona Beck.

Sy eerste solo-uitstalling in 1968 in die Lidchi-galery, Johannesburg, is gekenmerk deur die klein formaat van sy beelde. Volgens die kunsresensent Shirley Eskapa was sommige van sy werk so klein dat dit in ’n vuurhoutjieboks kon pas.

In dieselfde jaar word hy ingesluit by Guenther se groep-uitstalling Unknown Masters of Africa. Dit was ’n belangrike deurbraak. Hy is veral geprys vir sy langwerpige, vertikale en monolitiese vorms, gevestig op ’n soliede basis wat in komposisie suggereer dat sy vertrekpunt gehaal kan word by die primitiewe en antieke Egiptiese beelde.

Peter Haden se The Golden Calf, brons gemonteer op hout. Dit dateer uit die 1960’s. Foto: Verskaf

Sy beelde op die Welgemeend-uitstalling bewys sy onteenseglike meesterskap. Dit is abstrak, simbolies boeiend en esteties hoogs bevredigend.

Tussen 1968 en 1971 het Haden 40 beelde in Suid-Afrika gemaak. Ses daarvan is voor produksie onttrek. Hy het 182 bronsgietsels gemaak. Sedert 1990 is ’n totaal van slegs 14 beelde op veilings in Suid-Afrika verkoop. Sy beelde Reënkoning en Reënkoningin, as paar, is deur die Amerikaanse skrywer Irving Stone gekoop, wat roem verwerf het vir sy boeke The Agony and the Ecstasy en Lust for Life.

Nou is die dwingende vraag: Waar is die res?

  • Die uitstalling Peter Haden: Almost Forgotten kan tot 31 Augustus by die Welgemeend-herehuis, op die terrein van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, besigtig word. Navrae: 073 203 3999.
  • Enige inligting oor Haden en sy werk kan gestuur word aan hazel@straussart.co.za en frances@straussart.co.za.
Meer oor:  Beeldende Kuns  |  Kuns  |  Welgemeend-Herehuis  |  Peter Haden  |  Strauss & Co
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.